Dapperheid en vryheidsliefde bewonder ons, maar dit het vir ons nog meer waarde wanneer dit gepaard gaan met ’n gevoel van eer en eerlikheid—en dit het die Boesman gehad. Hierdie punt het ons al vroeër aangeraak, maar die getrouheid aan hul vriende moet ook beskrywe word. Van sy baas sou hy byvoorbeeld nooit steel nie. Sy baas sou hy nooit namaak nie, alhoewel hy die dramatiese kuns goed verstaan het, en baie lief was om dit te beoefen. Alles van sy baas wat verlore raak, bring hy vir sy baas terug as hy dit optel. Mejuffrou Bleek vertel hoe daar twee Boesman-kwaaddoeners, wie se tyd op die breekwater om was, by Dr. Bleek vir kos ens., aankom. Hulle is vriendelik onthaal, en na ’n dag of twee sou hulle hulle reis voortset. Die aand voor hulle vertrek, groet hulle mooi vir die Blankes en kry hul padkos, want hulle sou douvoordag vertrek. Die volgende dag toe die mense opstaan, is die tuin van alle blare skoon gevee—’n teken van dankbaarheid wat ’n arm witman nie beter kon bedink het nie. Dit was hulle erekode: “getrouheid aan jou vriende!”