As deur Aardrykskunde verstaan word ’n kennis van waar riviere hulle oorsprong het, en waarheen hul loop, en dergelyke dinge, dan het die Boesman feitlik geen kennis van aardrykskunde gehad nie. Hulle het name vir riviere gehad, en ook ander plekke soos berge en fonteine het name gekry; maar in die vrugbare dele van ons land het die Boesman nie veel gereis nie, en dus nie veel kennis van die land as ’n geheel opgedoen nie. Boesmans wat Campbell mee gepraat het, is oud geword sonder om ’n vyf-en-twintig myl van hul geboorteplaas te gaan. Maar terwyl soveel dorpelinge wat vandag met hulle kennis van aardrykskunde kan spog, op die veld verdwaal, ja, selfs binne tweehonderd tree van hul eie woninge, het die Boesman die wonderlike gawe gehad om altyd die regte koers huis toe te ken, al neem jy vir hom hoe ver, en langs watter kronkelende paaie ook al.