The Project Gutenberg eBook of Boesman-Stories, Deel 1. Mitologie en legendes

This ebook is for the use of anyone anywhere in the United States and most other parts of the world at no cost and with almost no restrictions whatsoever. You may copy it, give it away or re-use it under the terms of the Project Gutenberg License included with this ebook or online at www.gutenberg.org. If you are not located in the United States, you will have to check the laws of the country where you are located before using this eBook.

Title: Boesman-Stories, Deel 1. Mitologie en legendes

Author: G. R. Von Wielligh

Illustrator: R. F. Keet

Release date: June 6, 2020 [eBook #62330]
Most recently updated: October 18, 2024

Language: Afrikaans

Credits: Produced by Jeroen Hellingman and the Online Distributed
Proofreading Team at https://www.pgdp.net/ for Project
Gutenberg (This file was produced from images generously
made available by The Internet Archive)

*** START OF THE PROJECT GUTENBERG EBOOK BOESMAN-STORIES, DEEL 1. MITOLOGIE EN LEGENDES ***

Boesman-Stories

Oorspronklike titelblad.

Boesman-Stories
DEEL I, MITOLOGIE EN LEGENDES.
Alle regte voorbehou.
Drukkers en Uitgewers: DE NATIONALE PERS, BEPERKT.
30 Keeromstraat, Kaapstad,
Bloemfontein en Pietermaritzburg.
1919.

’N PAAR WOORDE VOORAF.

Ons het tans die eer om Deel I van ons versameling van Boesman-Stories die geëerde Publiek aan te bied, met die hoop dat ons val in die arms van billike beoordelaars. Want om so ’n versameling bijeen te bring vereis meer geriewe as waaroor ons tans beskik. Ons kan slegs aanbied wat opoffering, tijd en geduld ons in die hande gestel het, daar ’n ieder oortuig is dat goeie Boesman-storievertellers reeds baie uitgedun is.

As kind het ons vir die eerste maal in 1870 met Wilde Boesmans kennis gemaak; want dit was in daardie tijd dat ons met ons vader ’n reis deur dele van Namakwaland, deur Boesmanland en die Hantam onderneem het. Saands, en ook gedurende die dag, het baie van die oudjies bij ons wavuur kom aansit om te gesels. Daar was toe nog baie van hulle wat net van die jag op die ope gronde geleef het. Vir ’n geringe vergoeding was hulle te gewillig om aan die kleinbasie stories te vertel wat ons met ope mond en ore ingedrink het.

In 1876 tot 1878 het ons met opmeting van gronde verskeie Boesman-veewagters in die Karoo ontmoet; dog dit was nie voor twee jaar later dat ons regtig die saak in groter erns opgeneem het nie. Want dit was in 1880 tot 1883 dat ons ’n Landmeterskantoor op die dorp Calvinia geopen het. Die opmetings van gronde het ons weer terug na Boesmanland en Agter-Hantam gevoer, alwaar ons baie geleentheid gekrij het om aantekeninge te maak.

Aangesien die Boesmans nie as ’n georganiseerde nasie leef nie—sonder burgerlike of kerklike ontwikkeling—, is dit maklik te verstaan dat hulle oorleweringe uiteenlopend is. Om hierdie rede kan ook nie verwag word dat hul hulle stories presies eners sal vertel nie. So sal ons baie lesers vind wat sal sê: “Ek het die Stories, soos hier neergeskrijwe, anders hoor vertel.” Met dit voor ons, het ons ’n Storie net so neergeskrijwe as ’n Boesman ons dit op sij gebrekkige manier vertel het. Vind ons dan later ’n goeie verteller, dan herhaal ons die Stories aan hom en vra hom wat hij daarvan afweet. Dit het ons geluk ’n paar uitstekende vertellers langs die Hartbees- en Hantamriviere te ontmoet, en wat ons hier meedeel is mees die vrug wat ons bij hulle kon insamel. Sommige van hulle was met die Kalaharie goed bekend.

Ons behandel in hierdie Eerste Deeltjie verhale omtrent die Boesman-Godeleer (Mitologie) en enige Sprokies (Legendes). Om die leser nie daarmee te verveel nie, gee ons vereers 20 Stories. Dan hoop ons in Deel II “Diere-Stories,” soos deur Boesmans vertel, mee te deel. Deel III sal ander vertellings behels. Ons stel ons dus voor om, net soos met die “Diere-Stories” deur Hotnots, 60 sulke verhale te gee—dan sal die publiek al taamlik moeg van ons wees.

Uit die Boesmanversameling sal dit duidelik blijk dat daar wel deeglik digterlike sin en verhewenheid van gedagtes in sekere mate bij die Boesmans bestaan. Sommige dinkbeelde is treffend in woorde uitgedruk; so sê ’n Boesman b.v. eens aan ons: “Baas, watter nuws bring jij vir ons? Goeie en slegte tijding is nes die wind wat van vér af kom—dit bring die heerlike en slegte geure met hom saam.”


So ver ons uit die verhale opmaak, bestaan onder die Boesmans geen bepaalde, uitgewerkte stelsel van godsdiensopvatting nie. Dit kan ook nie anders nie; want onder hulle bestaan geen erkende priesterstand nie. Iedereen het sij eie begrip oor die mag van goeie en slegte geeste. Hulle glo dat daar eers ’n flouw lig bestaan het voor die Son gekom het. Die ougeslag of voorgeslag kon hul verander net soos hulle wou. Die Son, Maan en Sterre word tesame met die Hotnotsgod (’n sprinkhaansoort) vereer. Die bestaan van dinkbeeldige Diere (Geeste) word erken en hulde toegebring. So word reën deur die Reënbees gemaak, fonteinwaters deur die groot Waterslang met die steen op sij kop, wind word deur ’n Voël gemaak, ens. Hulle glo in ’n opstanding van die afgestorwene, en glo dat die dood later deur ’n Haas in die wêreld gekom het. Hulle begrip van opstanding ontleen hul aan die Maan, wat ieder maand sterf en weer herleef.


Met die skrijwe van hierdie “Boesman-Stories” het ons die gedagtes van die Boesmans in ons eie woorde vertolk; want as daar ’n nasie is wat omslagtig in sij manier van vertel is, dan is dit seker ’n Boesman: hij kan een en dieselfde ding oor en oor herhaal, wat vir die wetenskaplike ondersoeker van belang mag wees, maar voorwaar glad nie vir gewone lesers nie. Daarom het ons ’n eenvoudige taal gekies om die Stories in te vertel.

In Europa en Amerika word tot nog vrugtelose pogings aangewend om gewilde en ingrijpende “Diere-Stories” te skrijwe; hier in Suidafrika het die Hotnots en Boesmans dié reeds vir ons eeuwe gelede uitgewerk. Al wat ons te doen het, is om die rijk oes in te samel. Maar in plaas van dit te doen, is dit ou nuws vir ons, en so nou en dan verskijn daar ’n Storie in ’n koerant of tijdskrif, terwijl die gros aan die golwe van verslindende Tijd oorgelaat word om spoedig die versluierde diepte in te stort. Waarvoor ons nageslag ons nie “dankie” sal sê nie.

DIE SKRIJWER.

Hendrina,
via Estantia-Stasie, Tvl.,
21 Aug. 1918.

Die Koningin van Skeba.

Die Egiptiese Koningin Hatshepsu het meer as 1,500 jaar voor die geboorte van Christus regeer. Sij het ’n gesantskap met skepe na die Landpunt (Skeba) gestuur om daar skatte te gaan haal om ’n tempel vir haar god Amon-Ra te bouw. Die skepe het drie jaar weggeblij en het goud, edelgesteente en speserije gebring. Die Koningin van daardie land het self oor land gekom en nog meer skatte saamgebring. Hatshepsu het die tempel toe te Deir-el-Bahri nabij Tebe in Egipte gebouw. Ter ere van die optog van die Koningin van Skeba het Hatshepsu ’n tekening in die tempel laat afskilder en dit is vandag nog te sien. As jij eendag die geluk het om dié tempel te besoek, let op na die postuur en kleredrag, na die klein handjies en voetjies, die plat neus en kroeshare van die Koningin van Skeba. En wie sal nie sê nie: “Dis ’n uitgeknipte Boesmanmeid”?

Hatshepsu het begin te regeer in 1552 voor die geboorte van Christus en Salomo in 977 voor die geboorte van Christus, dus was die Koningin wat Salomo besoek het, ’n ander persoon.