Title: Boesman-Stories, Deel 2. Dierstories en ander verhale
Author: G. R. Von Wielligh
Illustrator: R. F. Keet
Release date: October 18, 2020 [eBook #63493]
Most recently updated: October 18, 2024
Language: Afrikaans
Credits: Produced by Jeroen Hellingman and the Online Distributed
Proofreading Team at https://www.pgdp.net/ for Project
Gutenberg (This file was produced from images generously
made available by The Internet Archive)
| No. | Bladsy. | |||||||
| ’n Paar Woorde vooraf | 1 | |||||||
| 26. | Kraai se vernedering | 3 | ||||||
| 27. | Die Aasvoëls | 15 | ||||||
| 28. | Erdvark, Vlakvark, Kwagga en Bosvark | 25 | ||||||
| 29. | Hasie, Tingtinkie en Uil | 31 | ||||||
| 30. | Die Boesman en Leeu ontmoet in ’n Spelonk | 39 | ||||||
| 31. | Slang en Skilpad is broers | 47 | ||||||
| 32. | Leeu, Wolf en Jakkals | 53 | ||||||
| 33. | Die Bobbejane en Ape | 61 | ||||||
| 34. | Die Sonbesies en Kriekies | 69 | ||||||
| 35. | Leeu en Wolf eet oor en weer | 79 | ||||||
| 36. | Volstruis word weer lewendig | 85 | ||||||
| 37. | Leeu word jaloers | 95 | ||||||
| 38. | Perdeby en sy Vrou | 101 | ||||||
| 39. | Moeder Leeu en die Kinders | 107 | ||||||
| 40. | Boesman-Gedigte | 115 | ||||||
| 41. | Leeu binne die Hut by die Kind | 121 | ||||||
| 42. | Wolf en sy twee Vroue | 127 | ||||||
| 43. | Tier is ontevrede met die Son | 137 | ||||||
| 44. | Ystervark en Vlermuis | 145 | ||||||
| 45. | Twee in een Skot | 153 | ||||||
| 46. | Die Hamerkopvoël en die Swaweltjies | 159 | ||||||
| 47. | Die Wolke | 167 | ||||||
| 48. | Mierkatte en Erdmannetjies | 175 | ||||||
| 49. | Die Boom wat al maande sterf en weer lewendig word | 183 | ||||||
| 50. | „Die Dieredans” deur Boesmans uitgevoer | 191 | ||||||
Tans oorhandig ons Deel II van Boesman-Stories aan die geëerde publiek, met die hoop dat dit ’n vriendelike ontvangs mag geniet.
Om die volksvertelling van Boesmans te geniet, moet die toehoorder of leser volkome met die karakter van dié nasie bekend wees. Ons het in die twee Deeltjies wat nou in hande van die publiek is, en met die twee wat hul spoedig sal opvolg, nie alleen getrag om die blote stories te vertel nie, maar het ook terselfdertyd gestreef om die volkskarakter te weerspieël. Dus, ná ons al vier deeltjies Boesman-Stories deurgelees het, sal ons hierdie besondere volksvertellings na waarde weet te skat.
Ons het êrens reeds daarop gewys dat daar wel deeglik verskil bestaan tussen die maniere waarop Hottentots en Boesmans hulle stories vertel. Die Hottentot is ’n pretmaker (humoris) en verstaan die kuns om eienaardighede van diere op grappige wyse te verklaar. Hy tree op as spottekenaar (karikaturis) en lewer ons spotprente (karikature) van ’n taamlik goeie gehalte.
Die Boesman, daarenteen, is weer ’n kunstenaar (arties), en wel na eie kultuur—hoe laag dit ook al mag wees. Hy is selfs musikant en digter wat die natuurklanke getrou kan naboots. Waarlik, hy is ’n kind van die natuur; en sy taal is ’n gawe van God alleen aan hom geskenk, sodat hy hier nie nodig het om van ander te leen nie. Hy graveer of skilder voorwerpe soos hy dié in die natuur aantref—sonder om pogings aan te wend om daarop te verbeter.
Daarom, as ons sy stories deurlees, dan vind ons hierdie karaktertrek as ’n polsslag wat al sy verhale deur kan gevoel word. Hiermee wil ons nie te kenne gee dat hy enigsins van oordrywing vry te pleit is nie. Nee, sy diere kan ook praat, nes dié van die Hottentot—ja, hulle kan selfs meer doen: hulle kan hulle gedaantes verander. Maar as ons bedink wat die godsdienstige begrippe van Boesmans is, nl. dat die ou geslag hul maklik van Boesman tot dier en van dier tot Boesman kon verander, dan moet ons sulke onnatuurlike of bo-natuurlike verskynsels as volkome natuurlik vir ’n Boesman beskou. Met dit voor hom is hy aan die skep van stories gegaan. Sonder om in die spinnerakke van gissing verwar te raak, wil ons amper beweer dat die meeste van sy vertellings onsigbaar aan werklike gebeurtenisse geknoop is—in ieder geval, dis verdigsels van werklikhede.
Want met deurlees sal selfs die gewone leser bespeur dat die diere hulle rolle nes op die alledaagse toneel speel: Leeu is die gesaghebber en baie sterk; Tier volg hom in rang op; Wolf is onbeskaamd en ’n indringer; en Jakkals is ’n bangbroek, en daarom meestal ’n bedelaar. In die vertellings van Boesmans kom dus, ooreenkomstig hulle begrippe, haas geen oordrywing voor nie. So is Boesman-stories ook maar blote karaktertekeninge, of karaktersketse.
In die bespreking van sulke stories loop die opienies van beoordelaars baie uiteen: die een verklaar dié as blote kinderkamer-sprokies, die ander weer as bloot wetenskaplike werk; die woorde „soos deur Hottentots vertel” of „soos deur Boesmans vertel” is peper in hulle oë, en hulle verklaar om hierdie rede dat sulke stories vir kinderkonsumpsie (kindergebruik) glad ongeskik is—asof ons vaders en moeders ons terug moes geroep het toe ons outas saans so aantreklik die stories vertel het, en ons ouers self in plaas van die Hottentots en Boesmans vir ons dié stories moes vertel het. En wat het ons dan gekry? Want wie kan ’n dierstorie so aanskoulik as Hottentots en Boesmans vertel?
Die materiaal wat ons versamel het, is ru, dog natuurlik. Saag en skaaf ons te veel daarvan, dan verloor dit sy eienaardige karakter. Lewer ons dit net so in onbewerkte toestand, dan is die enigste aangewese plek daarvoor die boekrak van die ondersoeker van menskunde en volksvertellings. Wat ons egter na gestreef het, is om tussen al die rotse veilig deur te seil, nl. wetenskap aan die een kant, blote vermaak aan die ander kant, en egte volkskarakter vlak voor ons. Hierdie drie eise het oor ons skouer op ons pen gekyk of ons wel getrou aan ons strewe gebly het. En dis vir die publiek om te oordeel in hoeverre of hoe na ons die skyf mis- of raakgeskiet het. Dit, egter, is ons versekering: ons het ons bes gedoen. As die lesers ons poging in hierdie lig wil bekyk, dan is ons meer as beloon vir al ons werk van toewyding.
Die Skrywer.
Kafferstat, Hendrina, Tvl.,
Junie 1919.
NASKRIF: Toe ek hierdie Deel, op ’n paar Stories na, klaar geskrywe het, is dr. W. H. I. Bleek se Specimens of Bushmen Folklore my in hande geval. Dié boek het onvoltooid ná sy dood verskyn; en sy skoonsuster, mej. Lucy C. Lloyd, het met baie moeite die werk gepubliseer gekry. Dr. Geo. McCall Theal het daarvoor ’n seer belangwekkende inleiding geskrywe.
Dog dr. Bleek het sy werk glad met ’n ander doel geskrywe. Hy het die verskillende tale van die inboorlinge van Suid-Afrika bestudeer; maar toe daar ’n gunstige geleentheid hom aanbied om sy aandag aan die Boesman-spraak te wy, het hy gedoen meer as baie ander sou gedoen het, om sy werk—A Comparative Grammar of South African Languages, waaraan sy hoë reputasie verbind is—terug te sit om eers die Boesman-taal te leer en dan sy kennis daaromtrent aan andere mee te deel. Vir diegene wat die taal van die Boesmans wil leer, sal dr. Bleek se boek baie te pas kom.
Met deurblaai en lees van die Bushmen Folklore is ek getref deur die groot ooreenkoms van die stories deur hom en my aangegee. Want hoe is dit moontlik dat ’n wilde menseras hulle volksvertellings so wyd versprei het en dit so goed bewaar het? Maar by nader ondersoek blyk dit dat dr. Bleek en ek ons materiaal omtrent dieselfde tyd op dieselfde oppervlakte versamel het—net hy het ’n paar Boesmans uit die binnelande naby Middel-Afrika, en ek het een van die Transvaalse Boesmans gehad; en dit het die ooreenkoms bewerkstellig.—Die Skrywer.