[Inhoud]

Verhaal van die Skipbreuk van die groot galjoen, Sint Johannes, by die Land van Natal in die jaar 1552.

[17]

[Inhoud]

INLEIDING.

Die geskiedenis van die skipbreuke aan die Suid-Afrikaanse kus in die Portugese tyd is histories veral belangrik omdat dit ons inligting verskaf omtrent die Bantoe en hulle uitbreiding. Die Kafferhordes, uitspatsels uit die ontsaglike meer van woeste heidendom waarmee die onbekende binneland van Middel-Afrika gevul was, dring langsaam maar seker na die suide deur en dreig om ook die betreklik leë gebied, wat later deur blankes sal bewoon word, deur oorweldigende getalle teen die Europese beskawing te sluit. Uit die berigte van skipbreukelinge kan ons vandag enigsins vasstel hoe die groot opmars plaasgevind het en welke grense die voorste vaandeldraers van die barbaarsheid van tyd tot tyd bereik het.

Teen die end van die sestiende eeu, omtrent twee geslagte voordat die Europese uitbreidingsbeweging aan die voet van Tafelberg sou begin, was die suidelike Bantoegrens in die omstreke van die Oemsimwoeboe-rivier, maar ook die hele kusstreek tussen hierdie rivier en die Toegela, nog maar dun bevolk, en die hoë bergland aan die voet van die Drakensberge was volgens Theal se opvatting nog onbewoond. Hoe dit in die binneland gesteld was, kan ons moeilik gis; maar langs die kus suid van Natal het ons in dié tyd na alle waarskynlikheid nog slegs met voorlopers te doen. [18]

Die verhaal van die skipbreuk van die Sint Johannes bevestig hierdie opvatting1. Die skip word deur lekkasie onveilig gemaak en strand in Junie 1552 êrens op die Suid-Afrikaanse kus naby die 31ste suidelike breedtegraad. Dit was volgens die berekening van die skipbreukelinge; maar die instrumente waarmee destyds die hoogte van die son gemeet is, was taamlik primitief; en aangesien die geselskap op hulle noodlottige tog na Delagoabaai blykbaar geen melding maak van die Oemsimwoeboe-rivier nie, kan ons met Theal aanneem dat die reis oos van die rivier begin het. Opvallend is nou dat die skipbreukelinge wekelank voortsukkel voordat hulle ’n belangrike Kaffer-hoof aantref. Hulle praat wel van Kaffers, maar dan moet daaraan herinner word dat die Portugese hierdie naam ook aan die Hottentotte gegee het; en buitendien was dit veral die „onbeskryflike woestheid” van die land wat die sterkste indruk op die reisgeselskap gemaak het.

Afgesien egter van sulke mededelinge, waarvan die Verhaal nog meer bevat, het ons hier ’n beskrywing van menslike worsteling en smart, so dramaties en aangrypend dat dit selfs in ons geskiedenis ’n buitengewone plek inneem. Onwillekeurig dink ons aan die latere geslagte, en ons voel [19]dat daar ’n band bestaan tussen hierdie ou Portugese, doodgemartel in die ongelyke stryd teen die gevare van ons sonnige maar wrede land en sy nog wreder heidendom, en die Voortrekkers, wat gelukkig sterk genoeg was om al die gevare te kan trotseer, en wat oor skroeiende vlaktes, breë strome en hoë berge „die vlag van die Kruis,” die standaard van die beskawing, tot aan die Limpopo gedra het en die fondamente van ’n groot Suid-Afrika gelê het.

Wie die skrywer van hierdie verhaal was, is nie bekend nie. Of al sy besonderhede juis is, kan ook moeilik vasgestel word; maar hy was blykbaar goed ingelig. Die feit dat hy alleen nog na die skipbreuk van die S. Bento verwys, wat in 1554 plaasgevind het, en wel as ’n gebeurtenis wat nie ver in die verlede gelê het nie, skyn aan te toon dat hy in elk geval ’n tydgenoot was. Uit sy skryftrant sou ’n mens verder miskien kan aflei dat hy, soos die meeste ander Portugese beriggewers, tot die geestelike stand behoor het. [20]

[Inhoud]

VERHAAL VAN DIE SKIPBREUK VAN DIE GROOT GALJOEN, SINT JOHANNES, BY DIE LAND VAN NATAL IN DIE JAAR 1552.2

… Van die kus waar hulle in 31 grade3 skipbreuk gely het, het op 7 Julie 1552 die tog in die volgende orde begin: Manuel de Sousa4 met sy vrou en kinders en tagtig Portugese, daarby ook slawe en André Vas, die stuurman, met ’n vlag van die Kruis omhoog; donna Leonora is deur slawe in ’n draagstoel vervoer. Hierdie afdeling het voorgegaan. Agter hulle was die meester van die galjoen met die matrose en slavinne, en heel agter Pantaleano de Sà met die res van die Portugese en die slawe—omtrent tweehonderd altesaam. Die hele geselskap het bestaan uit vyfhonderd persone, waarvan eenhonderd-en-tagtig Portugese was. Op hierdie manier het hulle ’n maand lank gereis, deur teenspoed, honger en dors geteister; want gedurende die hele tyd was hulle kos die rys wat uit die galjoen gered is, en ’n bietjie vrugte wat hulle in die bosse gekry het. Die land het niks anders opgelewer nie, en hulle het niemand ontmoet van wie hulle proviesie kon [21]koop nie. Die streek waardeur die tog gegaan het, was onbeskryfbaar en ongelooflik woes5

In die tussentyd het hulle verskeie kere met die barbare in botsing gekom; en ofskoon die Kaffers altyd verslaan is, het Diogo Mendes Dourando in een geveg geval. Tot sy dood toe het hy hom soos ’n dapper krygsman geweer. Onder al die moeilikhede van die weg—waaksaamheid, honger en uitputting—het meer en meer egter begin uitsak; en eindelik het g’n dag verby gegaan nie, of een of twee, onbekwaam om ’n stap verder te gaan, is op die strand of in die bosse agtergelaat. Hulle is later deur tiers en slange, waarvan daar baie was, verslind. Waarlik, dit was ’n bron van groot droefheid en pyn vir almal om dag ná dag aan te sien hoe dié mense nog lewendig daar in die woestyn agtergelaat is; want hy wat moes verlaat word, het vir die res van die geselskap, miskien sy vader of broers of vriende, versoek om maar verder te gaan en het hulle aan die bewaring van God toevertrou; en bitter was die smart van diegene wat hulle verwantes en vriende so aan hulle lot moes oorgee, sonder die vermoë om hulle te help en bewus daarvan dat hulle binnekort die prooi van wilde diere sou word. As dit hartverskeurend is om daarvan te hoor, hoe veel erger moes dit gewees het om dit te aanskou en te ondervind.

So het hulle dan onder groot ontberinge hulle reis voortgesit. Somtyds het hulle die land ingetrek [22]om oor riviere te kom of om kos te soek. Dan weer het hulle na die see teruggekeer oor hoë berge en met die grootste gevaar. En asof dit nog nie genoeg was nie, moes hulle ook veel van die Kaffers verduur. Op dié manier het hulle twee en ’n half maande gereis, so gefolter deur honger en dors dat buitengewone dinge byna dag vir dag voorgekom het, waarvan ek enkele van die merkwaardigste sal verhaal.

Dit het dikwels onder hulle gebeur dat ’n beker water van driekwart pint vir tien krusados6 verkoop is, en ’n honderd krusados is gegee vir ’n ketel wat ses kwarte bevat het; en daar dit somtyds tot wanorde gelei het aangesien daar g’n groter kan of beker onder die geselskap was nie, het die kaptein ’n honderd krusados betaal aan die persoon wat ’n ketel vol water gaan haal, en het hy dit met sy eie hande verdeel teen ag of tien krusados per porsie van driekwart pint, een vir homself en sy vrou en kinders en die res teen dieselfde prys.….

Drie maande het nou verloop vandat hulle die reis begin het met die doel om die Lourenço-Marques-rivier te bereik.….. Vir baie dae het hulle nou al gelewe van die wilde vrugte wat hulle kon kry, en van droë bene; en dit het dikwels in die kamp gebeur dat die vel van ’n bok vir vyftien krusados verkoop is; en uitgedroog [23]soos dit was, het hulle dit in water geweek en opgeëet. Op hulle togte langs die strand het hulle van skulpe gelewe en van die visse wat die see opgespoel het. Ná drie maande het hulle ’n Kaffer ontmoet, die hoof van twee krale, blykbaar ’n waardige ou man; en sy hulpvaardigheid het bewys dat hy dit ook was. Hy het hulle gesê dat dit goed sou wees as hulle nie verder gaan nie, maar by hom bly; hy sou na sy vermoë in hulle behoeftes voorsien, want die gebrek aan voedsel was nie te wyte aan die dorheid van die land nie, maar aan die feit dat die Kaffers min saai en van die wilde beeste wat hulle doodmaak, bestaan.

Die Kaffer-koning het sterk aangedring by Manuel de Sousa en sy geselskap om by hom te bly; want, sê hy, hy maak oorlog teen ’n ander koning, deur wie se land hulle sal moet gaan, en hy wil hulle hulp hê; maar as hulle voortgaan, sal hulle seker deur dié koning, wat sterker is as hy, beroof word.… En terwyl hulle besig was om tot ’n besluit te kom, het hulle ses dae daar vertoef, maar skynbaar was dit beslis dat Manuel de Sousa en die groot meerderheid van sy geselskap op die pad moes sterwe; want hulle wou die raad van die koning, wat hulle gewaarsku het, nie volg nie.….

Hulle besluit toe om die Lourenço-Marques-rivier te gaan soek. Min het hulle geweet dat hulle dit reeds bereik het; want dié rivier loop in drie strome na een mond toe, en hulle was toe by die eerste stroom.…. Daar dit onmoontlik was om sonder die goedkeuring van die koning [24]oor die rivier te kom, het die kaptein hom versoek om hulle in sy skuite te laat oorgaan; en hy het belowe dat hy die Kaffers wat hulle oorhelp, goed daarvoor sou betaal.… Die kaptein met sy vrou en kinders en dertig man met drie gewere het so oorgevaar, en die res van die geselskap ná hulle. Tothiertoe was hulle nie besteel nie, en die tog het weer begin.

Ná vyf dae het hulle die twede rivier bereik … Dit was ná sononder .… en hulle het op ’n sanderige plek hulle kamp opgeslaan en daar die nag geslaap. Die rivier was brak, en daar was geen vars water in die nabyheid nie … In die nag was die dors in die kamp so groot dat hulle byna gesterf het. Manuel de Sousa wou water laat haal, maar niemand wou dit onder ’n honderd krusados vir elke ketelvol doen nie; en teen dié prys het hy hulle gestuur .… en dit nogal waar dit die wil van die Heer was dat water hulle voedsel sou wees. Hulle het in daardie kamp gebly, en die volgende dag teen die aand het hulle drie skuite met neërs daarin sien aankom. Van hulle is toe deur ’n neërin van die kamp, wat iets van die taal begin verstaan het, verneem dat ’n skip met mense nes hulle daar aangekom het, maar reeds weer vertrek het. Toe is die neërs op bevel van Manuel de Sousa gevra of hulle die reisigers oor die rivier sou vervoer; en die antwoord was dat dit reeds nag was (want Kaffers onderneem niks in die nag nie), maar dat hulle dit die volgende dag sou doen, mits hulle betaal word. Teen dagbreek het die neërs met vier skuite gekom, [25]en vir ’n paar spykers het hulle die mense begin oorbring.

Hulle sê dat in hierdie tyd die kaptein as gevolg van die gedurige waaksaamheid en veelvuldige rampe, wat swaarder op hom gedruk het as op die ander, aan sy brein gely het. En daar dit sy toestand was en hy op die oorvaart onder die indruk gekom het dat die neërs verraad wou pleeg, trek hy sy swaard teen hulle, en hy skree: „Honde! waarheen neem julle my?” By die gesig van die bloot swaard spring die neërs in die water en het byna verdrink. Sy vrou en ander mense uit sy omgewing het hom toe gesmeek om die neërs nie seer te maak nie, anders sou hulle almal verlore wees. En waarlik, wie vir Manuel de Sousa geken het, sy beleid en vriendelikheid, en hom so sien handel het, kon wel sê dat sy verstand aangetas was, want hy was altyd verstandig en versigtig; en hierna kon hy nooit meer sy mense regeer soos tevore nie. En toe hy aan die oorkant van die rivier aan wal stap, het hy erg oor sy hoof geklae; en hulle het doeke daarom gedraai. En toe het almal weer bymekaar gekom.

Daar op die wal, toe hulle weer wou verder gaan, het hulle ’n trop Kaffers gewaar geword; en dié het deur ’n Kaffermeid van Sofala aan hulle gesê dat as hulle kos wou hê, hulle saam moes gaan na ’n kraal waar die koning was, en hy sou hulle goed versorg.

Die geselskap het in hierdie tyd uit ’n honderd-en-twintig persone bestaan, en donna Leonora was nou een van dié wat te voet gegaan het; en ofskoon [26]sy ’n vrou was van adellike rang, swak en jonk, het sy die slegte en pynlike weg afgelê asof sy ’n man was, gewend daaraan om op die land te werk; en sy het dikwels die ander opgebeur en haar kinders help dra. Dit was nadat daar g’n slawe meer was om die draagstoel te dra waarin sy vroeër gereis het nie. Dit wil werklik skyn asof die genade van die Heer haar ondersteun het, anders sou dit onmoontlik gewees het vir ’n swak vrou, ongewend aan ontberinge, om so ’n lang en pynlike reis te doen en gedurig aan honger en dors onderhewig te wees—want hulle het nou meer as driehonderd uur7 gereis, omdat hulle sulke groot ompaaie moes gaan.

Maar om terug te keer tot ons verhaal! Toe die kaptein en sy geselskap verneem dat die koning in die nabyheid was, het hulle die Kaffers as gidse gebruik; en met die grootste versigtigheid het hulle gegaan na die plek waarvan hulle gehoor het, onder God weet hoeveel folterende honger en dors. Dit was ’n uur7 tot by die kraal waar die koning was; en toe hulle daar naby kom, het hy ’n Kaffer gestuur om te sê dat hulle nie moes binne kom nie (want dit is hulle gewoonte om altyd die woning van die koning sorgvuldig te verberg), maar dat hulle onder ’n paar bome8, wat hulle [27]aangewys is, moes kampeer, en hy sou hulle proviesie stuur. Manuel de Sousa het dit dan ook gedaan, soos ’n vreemdeling in ’n vreemde land; want hy het nie soveel kennis van die Kaffers gehad soos ons vandag deur hierdie skipbreuk en dié van die Sint Bento nie, en hy het nie geweet dat ’n honderd man met gewere die hele Kafferland kan deurtrek nie, omdat hulle banger is vir ’n geweer as vir die duiwel.

Daar in hulle kamp onder die bome het hulle toe proviesie in ruil vir spykers gekry. Hier het hulle vyf dae gebly, en hulle het gemeen dat hulle hier sou kon wag totdat een of ander skip uit Indië aankom; en die neërs het ook so gesê. Toe het Manuel de Sousa die koning gevra om hom ’n huis te gee waarin hy met sy vrou en kinders kon skuiling kry. Die Kaffer het geantwoord dat hy hom een sou verskaf, maar dat al sy mense nie daar bymekaar kon bly nie, omdat daar gebrek aan kos in die land was; dat hy met sy vrou en kinders en ander uit sy mense na sy verkiesing daar kon vertoef, maar dat die res in die krale moes verdeel word, en hy sou bevel gee dat hulle van kos en huise moes voorsien word, totdat ’n skip kom. Dit het die koning uit bose opset gedaan, soos uit wat later gebeur het, sou blyk.… Toe die Kaffer-koning met Manuel de Sousa afgespreek het dat die Portugese in die dorpe en krale sou verdeel word, het hy hom ook gesê … dat dit onmoontlik was as die Portugese nie bevel kry om hulle wapens neer te lê nie, want die Kaffers was bang vir hulle as hulle die wapens sien, en hy sou hulle [28]in ’n huis laat sit en weer teruggee ná die aankoms van ’n Portugese skip.

Manuel de Sousa, wat baie siek en half van sy verstand af was … het hierop geantwoord dat hy met sy mense daaroor sou praat. En daar die uur waarin hulle beroof sou word, aangebreek het, het hy met hulle gepraat en gesê dat hy nie verder sou gaan nie, en op een of ander manier moes hulle ’n skip of ’n ander redmiddel, soos die Heer dit mog beskik, verkry, want hierdie rivier waar hulle hul nou by bevind, was, volgens die verklaring van die stuurman André Vas, die Lourenço-Marques. Dat wie verder wou gaan, dit na sy eie goedvinde kan doen, maar hyself sou daar bly uit liefde vir sy vrou en kinders, wat van die groot ontberinge so swak was dat hulle nie meer kon loop nie; en slawe het hy nie meer gehad om hulle te help nie. Dat dit sy besluit was om met sy gesin te sterwe wanneer dit God mog behaag; en hy het dié wat wou verder gaan, versoek, as hulle ’n Portugese skip ontmoet, om hom daarvan in kennis te stel; en dié wat by hom wou bly, kon dit doen en hom vergesel waarheen hy ook mog gaan. En om die vertroue van die neërs te wen en nie as roofsugtige diewe deur hulle beskou te word nie, was dit nodig dat hulle hul wapens moes afgee om ’n end te maak aan die ellende wat hulle so lank verduur het. In hierdie tyd was die oordeel van Manuel de Sousa en dié wat met hom ooreengestem het, nie meer dié van redelike mense nie; want as hulle dit reg beskou het, sou hulle gesien het dat die neërs hulle nie kon bykom solank soos [29]hulle wapens gehad het nie. Die kaptein het toe bevel gegee dat hulle hul wapens moes neerlê, waarop, ná God, hulle enigste veiligheid berus het; en die afgee van die wapens het teen die wil van sommige geskied, en veral teen dié van donna Leonora; maar sy alleen het haar stem daarteen verhef, dus het dit weinig gebaat. Toe sê sy: „Julle lê die wapens neer, en nou beskou ek myself en al hierdie mense as verlore.” Die Kaffers neem toe die wapens en bring hulle na die huis van die koning.

Sodra die Kaffers die Portugese sonder wapens sien—want dit was hulle voorbedagte verraderlike plan—, begin hulle hul afsonderlik deur die bosse te voer en te beroof—elkeen vir dié wat aan hom afgestaan was. En toe hulle by die krale aankom, was al die Portugese kaal gesteel; en sonder iets aan is hulle met veel slae uit die dorpe uitgestoot. Manuel de Sousa was nie in hierdie geselskap nie, omdat hy met sy vrou en kinders en die stuurman André Vas en nog omtrent twintig ander by die koning gebly het; en hy het baie juwele, edelgesteentes en geld by hom gehad; en dit word gesê dat die geselskap tothiertoe met hulle saamgevoer het ’n waarde van meer as ’n honderdduisend krusados. Ná die afskeiding van Manuel de Sousa met sy vrou en kinders en die genoemde twintigtal van die res, is ook hulle onmiddellik beroof van al wat hulle gehad het; maar hulle is nie ontklee nie. Die koning sê toe aan die kaptein hy moet die res van sy geselskap gaan opsoek, want hy wou hom g’n verder kwaad aandoen nie, [30]en nie sy hand aan sy persoon of dié van sy vrou slaan nie. Toe Manuel de Sousa sien wat gebeur, het hy begryp wat ’n groot fout hy begaan het toe hy die wapens laat afgee het; maar hy was nou hulpeloos en moes die bevele van die koning gehoorsaam.

Die res van die geselskap, neentig in getal, waaronder Pantaleano de Sà en drie ander edelliede, ofskoon hulle almal van mekaar geskei was, het langsamerhand weer bymekaar uitgekom; want hulle was nie erg versprei nadat die Kaffers aan wie hulle oorgegee was, hulle beroof en ontklee het nie. En ofskoon hulle in ’n treurige toestand verkeer het, sonder wapens, klere en geld om kos mee te koop, en sonder hulle kaptein, het hulle weer die reis voortgesit.

Maar nou het hulle nie meer op mense gelyk nie, en sonder iemand om die bevel te voer het hulle in wanorde langs verskillende weë aangesukkel, party deur die bosse, ander weer oor die berge, sodat hulle uitmekaar was; en by elkeen was daar net een gedagte—om sy eie lewe te red onder die Kaffers of More, want hulle het nie meer saam beraadslaag nie, en daar was ook niemand om hulle daarvoor bymekaar te roep nie. Ons kan hulle beskou as reeds verlore; en ek sal nie verder van hulle praat nie, maar terugkeer na Manuel de Sousa en sy ongelukkige vrou en kinders.

Toe Manuel de Sousa beroof en deur die koning agter sy geselskap aan gestuur was, kon hy nog, nieteenstaande hy nou geruime tyd aan sy hoof gely het, die belediging diep voel. En wat van [31]donna Leonora, ’n swak vrou wat haar nou in so’n haglike toestand moes bevind, en wat haar man voor haar oë mishandel moes sien en sonder die vermoë om sy gesag te laat geld of sy kinders te verdedig! Maar sy het haar gedra soos ’n vrou van gesonde verstand; en op die advies van die manne wat nog daar was, het hulle die weg deur die bosse weer ingeslaan met hulle hoop en vertroue op God alleen. In hierdie tyd was André Vas, die stuurman, nog in haar geselskap, en ook die bootsmaat, wat haar nooit verlaat het nie, en ’n paar slavinne. Hulle het gemeen dit sou die beste wees om die neentig man wat eerste beroof was, agterna te gaan; en vir twee dae het hulle hul voetspore gevolg. Donna Leonora was nou so swak en so treurig en mismoedig oor die toestand van haar man en omdat hulle agtergelaat was en nooit, dit het sy gevrees, die ander weer sou bereik nie, dat dit hartverskeurend is om daaraan te dink. En terwyl hulle so voortgaan, val die Kaffers hulle weer aan en ontklee hulle, sodat hulle niks meer gehad het om hulle mee te bedek nie. In hierdie toestand, met twee swak kindertjies om te versorg, het hulle tot die Heer geroep.

Hulle sê dat donna Leonora met slae en worsteling haar teen die Kaffers geweer het toe hulle haar klere wou wegneem, want sy wou liewer deur hulle doodgemaak word as om haar nakend voor die mense te bevind; en ongetwyfeld sou sy hier gesterf het as Manuel de Sousa haar nie gesmeek het om haar te laat ontklee nie, want hy het haar daaraan herinner dat almal nakend gebore word en [32]dat aangesien dit die wil van God was, sy haar moes onderwerp. Donna Leonora, toe sy haar so sonder klere sien, het haar op die grond gewerp en met haar hare bedek—want dit was baie lank; en sy het ’n gat in die sand gemaak en haar tot die middel daarin begrawe, en sy het nooit weer daarvandaan opgestaan nie. Manuel de Sousa gaan toe na ’n ou vrou, haar voedster, wat nog ’n ou geskeurde mantel gehad het; en hy het dit van haar gevra om donna Leonora daarmee te bedek, en sy het dit aan hom gegee; maar nieteenstaande dit alles wou sy nie weer opstaan van die plek waar sy haar neergewerp het toe sy sien dat sy nakend was nie.

Waarlik, ek glo nie dat iemand dit voor sy gees kan laat verbygaan sonder groot droefheid en smart nie. Om ’n dame van so’n hoë stand, die dogter en vrou van so’n geëerde edelman, so mishandel en geminag te sien! Toe die mans wat nog in hulle geselskap was, vir Manuel de Sousa en sy vrou so nakend sien, het hulle ’n entjie opsy gegaan, want hulle was skaam om hulle kaptein en donna Leonora in so’n toestand te sien. Toe sê sy aan André Vàs, die stuurman: „U sien waartoe ons nou gebring is, en dat ons nie verder kan gaan nie, maar hier vir ons sonde moet omkom; vervolg u weg en probeer om uself te red, en beveel ons aan God; as u ooit Indië of Portugal mag bereik, vertel dan daar hoe u vir Manuel de Sousa en my met my kinders agtergelaat het.” En daar hulle geensins in staat was om die droefheid van hulle kaptein of die gebrek en smart van sy vrou [33]en kinders te verminder nie, het hulle die reis voortgesit om hulle lewe te red.

Ná die vertrek van André Vàs het daar by Manuel de Sousa en sy vrou nog gebly Duarte Fernandes, die bootsmaat van die galjoen, en ’n paar slavinne, waarvan drie behoue in Goa aangekom het en die dood van donna Leonora beskrywe het. Dom Manuel de Sousa, ofskoon sy brein geaffekteer was, het daaraan gedink dat sy vrou en kinders niks te ete het nie; en ofskoon ’n wond in sy een been deur die Kaffers veroorsaak hom nog las gegee het, het hy in dié toestand die bosse ingegaan om vrugte vir hulle te soek sodat hulle kon eet. By sy terugkeer vind hy donna Leonora baie swak van honger en huil; want sedert die Kaffers haar klere geneem het, het sy nie van die plek opgestaan of ophou huil nie. En hy het een van die kinders dood gekry; en met sy eie hande het hy hom in die sand begrawe. Die volgende dag het Manuel de Sousa weer vrugte in die bosse gaan soek; en toe hy terugkom, vind hy donna Leonora en die ander kind ook dood en vyf slawe met groot gekerm aan die huil oor haar.

Hulle sê dat toe hy sien dat sy dood was, hy net die slavinne ’n entjie weggestuur het; en vir ’n halfuur het hy daar by haar gesit, met sy hoof op een hand geleun, sonder om ’n traan te stort of ’n enkel woord te spreek; en so het hy gesit met sy oë op haar gevestig sonder om ag te slaan op die kind. Ná die halfuur het hy opgestaan, en met die hulp van die slawe het hy ’n graf in die [34]sand gemaak; en nog altyd sonder om een woord te sê het hy haar met haar seun begrawe. Toe dit klaar was, het hy weer dieselfde weg ingeslaan as toe hy gaan vrugte soek het; en sonder om iets aan die slawe te sê het hy tussen die bosse verdwyn en is nooit weer gesien nie.

.…. Van die hele geselskap, uit dié wat by Manuel de Sousa gebly het toe hy beroof is, sowel as uit die neentig wat vooruitgegaan het, het daar ontkom omtrent ag Portugese en veertien slawe, tesame met die slavinne wat by die dood van donna Leonora teenwoordig was. Onder hulle was Pantaleano de Sà, Tristano de Sousa, die stuurman André Vàs, Balthasar de Sequeira, Manuel de Castro en Alvaro Fernandes. Hulle was aan ronddwaal in die land, sonder hoop om ooit weer ’n kristelike land te bereik, toe ’n skip, waarin daar ’n famieliebetrekking van Diogo de Mesquita was, in die rivier verskyn het om ivoor te soek; en toe hy verneem dat daar verlore Portugese in die omtrek was, het hy bevel gegee om hulle te soek en het hy hulle met krale losgekoop.… As Manuel de Sousa nog gelewe het, sou hy ook losgekoop geword het; maar na dit skyn, was dit beter vir sy siel soos dit was, want die Heer het dit so bestier. Al dié mense het op 25 Mei 1553 in Mosambiek aangekom. [35]


1 Die skipbreuk wat miskien die meeste lig op die etnografiese toestande gewerp het, was dié van die Sint Albertus in 1593. Die leser word verwys na die besonder interessante en belangrike berig daaromtrent in die Records of S.E. Africa, II, blss. 288 vv.; en sy aandag word oor die algemeen by hierdie groot uitgawe van Theal bepaal. Die romantiese sy van ons eerste historiese periode tree daarin sterk op die voorgrond. 

2 Uittreksels uit ’n anonieme Portugese pamflet in die Britse Museum deur Theal afgedruk en vertaal in Records of South Eastern Africa, I, blss. 108 vv. 

3 Sien Inleiding. 

4 Manuel de Sousa was die kaptein van die Sint Johannes

5 Sien Inleiding. 

6 Die krusado, ’n Portugese muntstuk, het destyds die waarde van ongeveer 5s. 4d. verteenwoordig. Sien Theal, Hist. and Ethnog. of S.A., I, blss. 253, 390. In die middel van die agtiende eeu het die krusado ’n waarde van 2s. 3d. Sien Records of S.E. Africa, II, bls. 453. 

7 Ek vertaal die Portugese woord legua (Eng. league) met uur. Die afstand wat daarmee aangedui word, is iets meer as drie myl. ↑ a b

8 Die rede wat hiervoor aangegee word, sal wel nie korrek wees nie. Die mededeling is egter interessant. Uit die Portugese berigte is duidelik dat die Kaffers van die sestiende eeu in gebruike, ens., weinig van dié van die neentiende eeu verskil het. Piet Retief en sy mense het ook onder ’n boom afgesaal en gewag totdat Dingaan gereed was om hulle te ontvang.