[Inhoud]

HOOFSTUK I

ONS VERTREK NA GROENLAND

Verlede jaar het ek saamgegaan op die Beebe-tog na die Galápagos-Eilande met die stoomboot Arcturus, wat spesiaal vir die reis toegerus was. Dit was ’n wetenskaplike ekspediesie na die Ewenaar om eksemplare uit die diepte van die see te kry, waarvan sommige op ’n diepte van byna drie myl gevang is. Die eilande waarheen ons gegaan het, lê op die Ewenaar, seshonderd myl wes van Ecuador in Suid-Amerika, en op pad soontoe het ons deur die Panama-kanaal gegaan.

Oom Willie—dit is mnr. Beebe—het my as ’n jonger gas laat saamgaan op dié deel van [2]die ekspediesie wat na die Stille Oseaan gegaan het. Ons het baie nuwe ondervindinge opgedoen, party waarvan taamlik spannend was. Daar was duikery met ’n helm te sien, en vuurspuwende berge in werking met strome lawa wat in die see afloop, en jag op groot seeduiwels met ’n harpoen. Alhoewel ek die jongste lid van die geselskap was—my twaalfde verjaarsdag het ek daar by Kokos-Eiland ten suide van Panama gevier—kon ek aan byna alles deelneem. En dit was natuurlik baie prettig.

Kaptein Bob Bartlett is ’n groot vriend van Pa. Soos julle sal onthou, was dit kapt. Bob wat saam met admiraal Peary gegaan het toe hy in 1909 vir die eerste maal die Noordpool bereik het. Wel, hy en Pa het dikwels gepraat van ’n Groenlandse ekspediesie, en die kaptein het gesê dat dit omtrent die pragtigste soort van reis is wat mens kan maak, met baie om te doen en te sien.

Die Amerikaanse Museum vir Natuurstudie in New-York wou vir sy nuwe Saal vir Seelewe [3]’n klompie dinge hê, onder ander voëls uit die Noordpoolstreek. Toe het Pa besluit om ’n ekspediesie te organiseer om die nodige dinge te gaan haal, waaronder narwalle, bruin Groenlandse haaie, walrusse, allerhande seehonde en baie voëls.

Natuurlik kon ons nie alles kry wat ons gaan soek het nie, maar selfs ’n deel daarvan sou die reis die moeite werd gemaak het.

Hulle het vir my gesê ek kan saamgaan op hierdie reis na Groenland, en onmiddellik na sluiting van die skool moes ek my na die skeepswerf op Staten-Eiland begeef, waar hulle besig was om die Morrissey opnuut uit te rus; hulle het gesê dat ek daar volop te doene sou hê.

Die plan is om noordwaarts te gaan tot omtrent sewehonderd myl van die Noordpool. In die geheel sal ons meer as seweduisend myl aflê en in die loop van Oktober terug wees. As ons miskien laat is, sal Pa my per trein van Sydney terugstuur skool-toe. En ons vat ook [4]’n klompie skoolboeke saam waaruit ek sal moet leer as daar tyd is.

Die vooruitsig van al die awonture wat ons hoop om te hê, maak ’n mens regtig opgewonde. Ek het ’n 2.56 Newton-geweer en ’n twee-en-twintig koeëlgeweertjie, en ek hoop ek sal ’n bietjie kans kry om te skiet, alhoewel ek dink dit sal die prettigste wees om te help by die wetenskaplike werk en die opstop van diere, en om die lewende beelde te maak. ’n Deel van my pligte is om ’n dagboek te hou gedurende die ekspediesie om dit later in boekvorm uit te gee.

Verlede jaar het Ma my saamgevat tot anderkant die Ewenaar. En vanjaar gaan ek saam met Pa tot 780 myl noord van die Noordpoolkring dit wil sê as ons dit gelukkig tref met die ys. In elk geval is ek gelukkig vir ’n seun van dertien jaar!

Die skool het Donderdagagtermiddag gesluit. Vrydag het ek na Pa se kantoor gegaan en ’n deel van die uitrusting beskou. Ek en hy is [5]weke-lank besig gewees met die uitrusting, ons het lyste opgestel en algemeen voorbereidsels gemaak. Die agtermiddag het ons in ’n skuitjie oorgery na Wes New-Brighton op Staten-Eiland, na aan Williams se skeepswerf, waar ons skip, die Morrissey gelê het.

Die Morrissey is ’n visserskoener met twee maste. Hy is honderd voet lank met ’n breedte van twee-en-twintig voet en het ’n diepgang van omtrent veertien voet as hy swaar gelaai is. Nou, by die begin van ons reis, is die diepgang waarskynlik twaalf voet. Die bemanning is algar Newfoundlanders, wonderbare matrose in goeie en slegte weer. Kapt. Bartlett is die eienaar en Pa en ’n paar van sy vriende het die skip opnuut uitgerus deur ’n motor te laat insit en ander veranderinge te maak vir die gerief van ons geselskap.

Jim is die langste van die bemanning. Hy is oor die ses voet en lyk soos ’n „cow puncher” met smal en breë skouers. Hy is ’n knap skeepstimmerman. Tom, die bootsman is die oudste [6]en mees ervare. Hy kan omtrent enigiets maak wat op ’n seilskip nodig is. Hy was op verskeie reise na die noorde saam met Peary op die Roosevelt waaronder die een na die Pool. Joe is die grootste van die bemanning en Ralph die jongste.

„Hulle sit ’n Verfkwas in my Hand”

„Hulle sit ’n Verfkwas in my Hand”

Billy Pritchard is volgens my opvatting die vernaamste man aan boord. Hy is die kok. Hy is taamlik klein, maar is ’n uitstekende kok en het al veel deurgemaak op see. Hy is in die verre noorde gewees en het al viermaal skipbreuk gely. Toe die Morrissey van Newfoundland afgekom het om ons te haal, is hy toe die skip ruk, skoon uit sy kooi geskiet, oor die hele kombuis en het bo op die stoof te lande gekom. Billy se handlanger is Dom, en hy is altyd baie gaaf teenoor my.

Ons skipper is Robert A. Bartlett wat saam met Peary was en jare van sy lewe in die Noordpool-streek deurgebring het; en hy is omtrent die mees ervare seevaarder deur ys wat lewe. Kaptein Bob is verskriklik vriendelik [7]teenoor my en hy en sy broer Will Bartlett, ons stuurman, het belowe om my die name van al die toue te leer, ook om al die punte van die kompas in die regte orde op te noem, en sulke dinge meer. Sien, ek het nog nooit vantevore op ’n seilskip gereis nie, en daar is baie dingetjies om te leer.

Wel, toe ek op die skip kom, sit hulle ’n verfkwas in my hand en sê ek moet die romp begin skilder, daar ons toe in die droë dok was om ’n gat vir die nuwe skroefas in die agterstewe te laat boor. Daardie dag het ek amper ’n kwart van die romp geskilder en Saterdag heeldag was daar ander skilderwerk—kooie, kaste, deksels van luike ens. Ons het ’n klomp Masury-verf gehad wat vir die ekspediesie present gegee is. En daar was ook baie om skoon te maak.

Die Morrissey is in drie afsonderlike kajuite verdeel. Die bak het ses kooie, waar die bemanning slaap. Dit word ook as kombuis gebruik. Meer na agter is die hoof-kajuit waar [8]die meeste van ons slaap. Daar staan ’n groot tafel in die middel van die vertrek wat ons gebruik om te eet, skryf, werk ens. In hierdie kajuit is twaalf kooie en die draadlose toestel, en ’n groot bo-lig is ingesit waar die luik vir die goedere vroeër was.

Die draadlose toestel is een vir kort golwe en word bewerk deur Ed Manley, ’n liefhebber wat hom vrywillig vir die werk aangebied het en wat aan die Marietta-Kollege sy graad behaal het. Die pragtige groot radio-uitrusting waarmee ons hoop om selfs van anderkant die Noordpool-kring tot by die huis te kan praat, is deur mnr. Alwater Kent en die Nasionale Karbou-Maatskappy wat die Eveready-batterye fabriseer, aan die ekspediesie geskenk.

Dan kom die masjienekamer wat vroeër die agterste skeepsruim was en waarin hulle die vis weggepak het en die steenkool gelaai het toe die skip nog gebruik is as vragskip. Al rondom die motor is goedere styf ingepak, sodat hulle onmoontlik kan roer as die skip in [9]’n storm rol. Party van hulle behoort aan Knud Rasmussen en party aan professor Hobbs vir wie ons in Sidney sal oplaai. Hy gaan na Suid-Groenland om die oorsprong van storme op die groot gletserveld daar te bestudeer. Ons sal Rasmussen aan die Groenlandse kus by Disko-Eiland oplaai, en ons neem die goedere vir hom na sy handelstasie by Thule, naby Kaap York. Rasmussen is ’n groot Deense ontdekkingsreisiger en ’n deskundige oor die Eskimo-taal.

Agter die masjienekamer is die kajuit waarin die kaptein, Pa, mnr. Raven en mnr. Streeter slaap. Daarin is ses kooie, ’n tafel, ’n stofie en die enigste stoel aan boord. Bokant die tafel is ’n rak met boeke, meestal oor die Noordpool-streek en awonture. Ek het ’n paar spesiale boeke van my eie om te lees, waaronder Two Years before the Mast, Doctor Luke of the Labrador, The Cruise of the Cachelot en Richard Carvel. En dan het Pa nog ’n paar boeke wat vir my wag, Latyn en [10]Engelse grammatika, wat nie heeltemal so plesierig klink nie.

Die Skipper leer Dawid om Waarnemings te maak

Die Skipper leer Dawid om Waarnemings te maak

Ons voorrade is meestal in ’n spesiale pakkamer langs die kombuis en meer na agtertoe in die gang en die lasaret gepak, op die dek het ons oor die vyftig vate brandolie vir ons Standard Diesel-motor wat soos jullie seker weet, olie gebruik, en nie petroleum nie.

Ons het Saterdag, die twintigste Junie, van af die Amerikaanse Jagklub op Long-Eiland-Sond in see gegaan. Dit was by Rye waar ons tuis is, en die meeste lede van ons geselskap was voor ons vertrek by ons op besoek.

Dit was ’n warm, sonnige dag, en ’n groot menigte het in bote uitgekom en die Morrissey deurgekyk. Daar was ’n groot noenmaal by die klub, en kommodoor Mallory het aan Pa en kapt. Bob die vlag van die klub gegee om saam te neem na die Noorde. Omtrent kwart voor vyf was al die besoekers van die skip af, en het ons die anker gelig en die Sond afgevaar. ’n Groot vloot van jagte en klein bote [11]was rondom ons en het ons met ’n geweldige getoeter en gefluit ’n pragtige afskeid gegee.

Oupa se jag, die Ilorindia het al die moeders, susters en vrouens van ons geselskap met Ma en my broertjie June aan boord gehad. Hulle het tot by Sound-Strand, Connecticut, saamgegaan. En toe, nadat hulle die laaste vaarwel getoeter het, en ons op ons mishoring geantwoord het, was ons regtig op pad na die noorde!

Maandag was ’n heerlik stil dag, sodat ek en Art Young kans gekry het om ons goed weg te pak. Sy kooi is net onder myne, dus moet ons ’n kas saam gebruik. Art is die baas-skut met pyl en boog wat al in Afrika leeus gaan skiet het. In Amerika het hy grysbere, elande1 en Kadiak-bere met sy pyle doodgemaak. Nou hoop hy om sy geluk met ysbere en walrusse te probeer.

Maandagoggend, ons eerste dag op see, het ons naby Block-Eiland, aan die oostelike punt [12]van Long-Eiland-Sond, agtien vliegtuie gesien wat algar in die rigting van New-York gevlieg het. Miskien wou hulle vir kommandeur Byrd verwelkom wat binne ’n paar dae terug verwag is uit Engeland nadat hy na die Noordpool gevlieg het. Mnr. Byrd is bevriend met Pa en was in ons huis net kort voordat hy sy reis in die Chantier begin het.

’n Goeie wind het gewaai en die see was heeldag taamlik stil. Dit was lekker sonskyn, maar koud, sodat ons wol-oorhemde en jasse moes aantrek. Dié dag het algar middag- en aandete geniet. Toe ons in die agtermiddag deur Vineyard-Sond opseil, het ’n duikboot en ’n klomp skepe van die kuswag by ons verbygegaan.

Toe begin dit onstuimiger word, terwyl ’n stywe suidewind waai, wat goed was om mee te seil. Die volgende agtermiddag het ons ’n klomp klein walvisse, van omtrent 25 voet lank, gesien. Twee of drie van hulle het amper heeltemal uit die water gespring, en eenslag het ons [13]een omtrent vyftig tree voor ons skip heeltemal sien uitspring. Hy het soos ’n ontsaglike geweerkoeël gelyk.

Daardie dag was amper ons hele geselskap siek, selfs ’n klompie van die bemanning. Ek was meeste van die tyd op dek en het na mnr. Raven en Van Heilner se vertellinge geluister oor speer-valle en hoe die Maleiers valle stel om diere te vang.

Ons skip het so gerol en gekantel dat die water dikwels by die spuigate aan bakboord en stuurboord ingeloop het. Ek het net deur ’n spuigat gekyk toe ons ’n groot golf kry. Ek staan nog en kyk hoe kapt. Bob die grootskoot laat skiet, en net toe ek omdraai, kom die water skielik in en slaan my in die gesig.

Ralph, een van die bemanning, het my gewys hoe om van tou beskermings vir die seile te maak. Dit word gebruik om te verhinder dat die seile teen die staalkabels slaan en afslyt. En Jim het my die name van die seile geleer, en hy begin nou met die toue. [14]

Die laaste twee dae van die reis na Sydney was nie so aangenaam nie, want ons het mistige weer gehad en ’n bietjie reën. Af en toe het ons missienjale van die kus van New-Skotland gehoor, en toe die mis verdwyn, sien ons die kus en vuurtorings. Dit is baie prettig om in die kraaines te wees.

[15]


1 Eland staan hier vir Eng. moose