Karna is ’n Eskimo-nedersetting aan Walvis-Sond, ten noorde van Thule en regoor Northumberland-Eiland, waar ons skipbreuk gely het. Die vorige keer kon ons weens die ys nie daar kom nie. Die slag het ons reguit soontoe gegaan om jagters te kry, daar die omstreke van Walvis-Sond uitstekend was vir walrusse en narwalle. Onmiddellik noord daarvandaan word ook wit walvisse gevang.
Toe ons omtrent drie myl van Karna was, kom daar ’n kajak na die skip toe. ’n Man klim uit en lag van oor tot oor toe hy vir Rasmussen gewaar. Dit blyk toe dat hy Olsen, die sendeling van Karna en ’n ou vriend van Rasmussen, was. Toe hy die maste gewaar, het hy gekom [111]om ons te ontmoet. Ons skip was natuurlik daardie jaar die enigste een.
Hy het ons die vaarweg na Karna gewys waar ons ’n goeie diepte van water vir die skip gekry het.
Teen dat ons die anker laat sak het was daar ’n dosyn of meer mans aan boord. Rasmussen en Pa was spoedig aan land en het jagters gehuur om narwalle te jag. Kort na ons aankoms het die narwalle op ’n streep voor die dorpie in die sond op- en afgeswem. Verskillende male het ons ’n man in ’n kajak so-te-sê bo-op een gesien, klaar om die harpoen te gooi, maar elke slag gebeur daar iets en hy kry hom nie. ’n Ander weer het sy harpoen in ’n narwal gegooi, maar hom sê dat sy tou gebreek het.
Skynbaar spring ’n narwal omtrent net soos ’n seevark. Hy is baie mooi met ’n gespikkelde vel soos blou seep met wit en loodkleurige kolle. Die mannetjie het ’n groot slagtand wat aan die linkerkant van sy kop reg na voor uitsteek. [112]Dit is ivoor en het ’n spiraalvormige oppervlakte (soos die horing van ’n springbok). Die grootste slagtand wat ek gesien het is tien voet lank. Hulle is „eenhorings van die see” genoem. Die grootste narwal wat ons gekry het, was vyftien voet lank. Waarskynlik haal hulle ’n lengte van twintig voet.
Die grootste deel van die nag het ons in Karna deurgebring deur besoeke af te lê en na narwal-skedels te soek, terwyl die jagters besig was. Die afspraak was dat Rasmussen saam met Bob Peary in die groot platboom-skuit met die Johnson-motor die fjord sou opvaar en probeer om ’n paar narwalle te kry.
Later het ek gehoor dat twee jagters hulle narwal in die nabyheid gekry het net nadat Pa om halfvier ingekruip het. Toe ek in die oggend op dek kom, lê daar ’n pragtige groot narwal met ’n slagtand. Hy was vyftien voet lank sonder die slagtand wat omtrent sewe tot ag voet was. Later het hulle ’n klein wyfie gebring wat omtrent nege voet was. [113]
Fred en Harry was heeldag besig met die narwalle. Daar hulle so swaar was, moes ons twee van die voorste takels van die slagseil gebruik om hulle op die skip te hys. Fred het met gips afgietsels van die koppe, sterte en vinne gemaak. Daar is van al die kante portrette van hulle geneem, die mate geneem en stroke van hulle velle afgesny, sodat hulle in die museum ’n natuurgetroue model van ’n narwal sou kon opbou. Toe hierdie werk klaar was, het ons begin om die vleis van die bene af te haal. Die meeste van ons het gomelastiek-stewels aangehad, sodat dit nie iets sou saak maak as ons in die bloed trap nie. Maar die Eskimo’s het niks omgegee nie. Hulle kry natuurlik die vleis vir hulle gebruik. Terwyl ons gesukkel het en twee of drie keer moes sny, het die Eskimo’s baie vinnig en handig te werk gegaan, daar hulle al dikwels die soort werk gedoen het. Na ’n paar uur was die geraamtes heeltemal sonder vleis.
Van Karna het ons ses jagters met hulle [114]kajaks saamgevat om ons te help om walrusse te kry. Vier van hulle was vroeër saam met Peary; hulle name was Etoekasjoek, Poead-loena, Koedloektoe en Kesingwa. Laasgenoemde was een van die Eskimo’s wat saam met kapt. Bob teruggekom het van 87 graad 47 noorderbreedte, net ’n kort end duskant die Noordpool, toe hy in 1909 saamgegaan het met Peary wat self verder gegaan het tot by die Pool.
Hulle is algar mooi manne, en alhoewel hulle maar min Engels kan praat, tog vat hulle ’n ding gou en is hulle baie gaaf om by te kom.
Twee blonde Eskimo’s! Dawid en Nils
Daar is twee gawe seuns. Die een is Poead-loena se seun Matak. Die ander een is Nils wat sestien is. Hy het baie ligte hare—omtrent soos myne—en blou oë. Hy kom van Suid-Groenland, en ek dink sy pa is ’n Deen. Hy is baie handig in ’n kajak en is algemeen goedgeboud. Al is hy drie jaar ouer as ek, kom hy tog nouliks tot aan my skouer. Hierdie mense is natuurlik algar baie klein. Baie min van die mans is langer as vyf voet vyf, maar hulle is [115]so sterk gebou soos osse met kort bene en dik lywe net ’n bietjie vet, dog hard. Dié seun Nils het al op sy eie seehonde en narwalle doodgemaak.
Ons het ook ’n gawe Eskimo aan boord geneem met die naam van Kakoetia wat meer of min beteken „die een met die sagte stem.” Hy is ’n knap tekenaar en maak graag tekeninge van die wapens wat hulle gebruik en van diere en ander dinge.
Ons het hom papier en potlode gegee, en in die loop van twee dae het hy ’n mooi klompie tekeninge gemaak. Party van hulle sal gebruik word as versierings in die boek wat uit hierdie aantekeninge sal ontstaan. Dit is baie prettig om te dink dat my boekie oor Groenland gedeeltelik geïllustreer sal wees deur ’n regte Eskimo, en dat die prente self werklik in die kajuit van die Morrissey geteken is in die teenwoordigheid van my en Pa, daar ver in Walvis-Sond op agt-en-sewentig graad noorderbreedte. [116]
Later het ek uitgevind dat Kakoetia ’n seun is van Panikpa vir wie kapt. Bob baie goed ken. Hy was een van Peary se manne en was ook ’n kunstenaar. ’n Klompie van sy tekeninge verskyn in verskillende boeke oor Peary se reise na die Poolstreek. Dit is interessant om te sien hoe die gawe om te teken oorgeërf word van vader op seun.
Ons gaan vir Kakoetia ’n groot rol papier gee, ’n paar skryfblokke, potloode en ’n mooi klomp pragtige tekenkryt, meestal „Crayola” wat Oupa Bub vir my gegee het. Hy is baie in sy skik daaroor, en ek reken hy sal in die winter baie pret hê deur prente te teken en te kleur. Ons het vir hom natuurlik ook nuttige dinge gegee, want hy was baie gaaf teenoor my. Ek hoop om vir hom later deur Rasmussen, of op ’n ander manier, ’n kopie van die boek te stuur, want Pa sê sy naam moet op die tietelblad verskyn as die persoon wat verantwoordelik is vir die versierings. [117]