[Inhoud]

HOOFSTUK XI

WALRUSJAG

Omtrent om halfsewe in die aand van die sestiende Augustus het ons ’n kort end van Northumberland-Eiland ’n trop walrusse gewaar. Hulle het heeltemal vinnig in die water vooruitbeweeg, terwyl hulle so nou en dan dryf en baie soos seevarke opkom. Hulle kry die meeste van hulle kos op die bodem van die see; dit bestaan uit „clams” en ander goed van die aard.

Tussen hakies, kapt. Bob vis dikwels met ’n sleepnet om eksemplare van die bodem van die see te kry, en hier in Walvis-Sond het hy nog die beste trekke gemaak. Daar is „clams” en garnale in groot getalle. Dit is die rede [118]waarom die walrusse van hierdie plek hou.

In ’n paar minute was die Eskimo’s in hulle kajaks en agter hulle aan. Dit was baie interessant om hulle dop te hou. Een Eskimo gaan voor die trop en maak ’n groot lawaai om hulle aandag te trek. Dan kom die ander jagters stadig en stilletjies van agter en probeer om miskien tot op twaaf voet van hulle te kom, en dan word die harpoen met alle mag in die walrus gegooi. Mens hoor dan ’n harde geblaas soos van stoom wat ontsnap, deurdat hy sy asem optrek. Dan slaan hy met sy stert en verdwyn. Die man in die kajak gee gou pad, om te verhinder dat die walrus miskien onder hom weer opkom. Dan hou hulle die dobber dop—dit is ’n opgeblaasde seehondvel wat aan die ent van die harpoen se tou vasgemaak is om te sien in watter rigting die gekweste walrus gaan.

As die dobber wegtrek of deur die dier onder die water getrek word, dan volg hulle. Dit is alles verskriklik gevaarlik en menige Eskimo [119]word beseer of doodgemaak as die verwoede walrus ’n aanval maak op hul ligte bootjies wat hy met een stoot van sy slagtand kan verpletter. As die walrus aanval, lig hy sy kop op en kom met sy slagtande neer op die ding wat hy aanval, waardeur hy dit verskriklik oopskeur. Ek het hulle al baie dobbers op die manier sien aanval.

Walrusse op Dek. Die Vleis het die Eskimo’s gekry, die Geraamtes en Velle het na die Museum gegaan

Walrusse op Dek. Die Vleis het die Eskimo’s gekry, die Geraamtes en Velle het na die Museum gegaan

As die walrus opkom en die manne kan naby kom, dan word die hele ding weer herhaal, behalwe dat hulle dié slag probeer om naby genoeg te kom om die dier met ’n speer dood te steek. Die origes bly dikwels naby die gekweste en blaf en brul, baie nes die geloei van ’n koei, en proes en blaas water uit. Dit is ’n verskriklike lawaai, en dit is baie opwindend. As die ander naby kom, dan stamp die Eskimo’s met die roeispane op die rand van die boot en skreeu om die walrusse af te skrik, of anders mog die hulle aanval. Partykeer as hulle die walrusse so wil verwilder, kom hulle tot drie of vier voet van hulle af. [120]

Binne ’n kort tyd was daar vier walrusse geharpoeneer waarvan drie met die speer doodgesteek was en gereed om op die Morrissey gehys te word. Die gewonde een was aan die groot boot vas. Ons wou hom nie skiet nie, want hy het ’n pragtige kop gehad, en ’n koeël beskadig maklik die kopbeen en bederf dit as ’n eksemplaar.

Art, Pa en kapt. Bob het in die groot boot uitgegaan om hom te haal. Die kaptein wou hom self doodsteek. Hy het vir Art georder om hom met sy pyl en boog te skiet, Art het sewemaal na hom geskiet en hom elke slag in die nek geraak. Hy het erg gebloei en was net briesend. Die pyle sou sy dood veroorsaak het, maar hulle wou hom so gou as moontlik afmaak.

Hy het so hard geruk dat hy die Morrissey geswaai het. Hy was nou aan die skip vas met ’n Eskimo-tou wat van die vel van die gebaarde seehond, of oeghsoegh, gedraai is. ’n Bewys van sy wonderbare krag is die feit dat hy in staat was om die skip om te swaai. [121]

Eindelik het hy hoop opgegee om los te kom en toe storm hy reg op die groot boot af. Hy draai half op sy rug, sit een van sy groot vinne aan elke kant van die boot se boeg en maak met sy slagtande ’n verwoede aanval op die boot. Ons het op die dek gestaan en kyk, omtrent maar net dertig voet van hom af, en kon die splinters sien waai. Hy het twee gate dwarsdeur die boot gemaak.

Die Eskimo’s was in hulle kajaks en hulle en kapt. Bob het daarin geslaag om die groot bul dood te steek. Een slag het hy direk onder ’n kajak opgekom wat werklik so-te-sê van sy rug afgegly het toe die man daarin weg roei vir al wat hy werd was.

Toe hy dood was, het ons die twee voorste takels van die stagseil aan hom gehaak en hom aan boord gehys, ’n taamlik moeilike werk. Daarna het ons die ander gaan haal wat die jagters doodgemaak het. In die geheel was dit sewe en ’n kleintjie waarvan ek netnou sal vertel. [122]

Wat mooi is by hierdie soort jag is dat nie ’n enkele pond vleis verlore gaan nie. Mens kan sê dit is ’n seën vir die Eskimo’s. Hulle vat elke stukkie en gebruik dit as kos vir hulle self en vir hul honde. Ons koms het hulle net gehelp om ’n voorraad te kry. Ek reken hulle het in die geheel vier of vyf ton vleis gekry van die walrusse en narwalle.

Daarna het Pa, Dan en ek in die klein roeiboot twee jagters in kajaks gevolg. Hulle het reguit tussen ’n trop van omtrent veertig ingegaan en een geharpoeneer en vir ons ’n teken gegee om hom te kom skiet. Daar was ’n taamlike groot trop van hulle binne vyftig tree van ons wat geproes, geknor en geblaf het. So nou en dan het een tot amper teenaan ons boot afgedwaal. Hulle lyk vreeslik komieklik as hulle hul gesigte met die baarde uit die water steek en ’n mens aanstaar soos kwaai ou mans. Dan gee hulle ’n knor, blaas ’n straal stoom uit en verdwyn.

As hulle kwaad gemaak word soos nou, dan [123]vorm hulle ’n kring met die slagtande van die bulle na buite, na die jagters gekeer. Ek kan my nie ’n meer spannende soort sport voorstel nie. Ek wens ek kan eendag leer om ’n kajak regtig goed te hanteer en probeer om self ’n walrus dood te maak.

Toe ons taamlik naby was, skiet Pa vyf skote, en ek dink vier daarvan het hom in die nek en in die kop geraak. Maar dit was net ’n 2.56 geweertjie—nie ’n groot kalieber nie—en het dus niks uitgevoer nie. Toe skiet Dan ’n skoot met sy groot ver-draende geweer, en raak hom agter in sy nek sodat hy dadelik omval. Hy het egter op die water gedrywe. Baie van hulle sink sodra as hulle dood is.

Toe het ons teruggegaan na die een wat Dok en Keilerman geskiet het, nadat ons die ander gehaal het. Twee jagters in kajaks het daar gewag. Dit was ’n walrus-koei. Maar die interessantste was dat daar by haar in die water twee kleintjies was. Die oudste een was ’n bulkalf, omtrent ’n jaar oud, reken ek. [124]

Hierdie tweetjies wou ons lewendig in die hande kry, dus het Carl sy lasso gaan haal. Pa het hom in ’n klein skuit soontoe geroei. Carl staan daar en swaai, sy lasso gereed om te gooi as hy die kans kry. Hulle roei tot teenaan die koei wat gedeeltelik bo die water drywe.

Toe die kalf met die slagtande opkom, gooi Carl sy tou, maar dit gly af. Toe besef hulle dat dit makliker sou wees om die klein kalf sonder slagtande te vang, daar hy skynbaar nie so wild was nie. Carl probeer dus om hom te vang, en met sy derde gooi kry hy sy tou om die dier, wat glad nie maklik was nie, want sy kop was klein en glibberig, en hy het gou geduik.

Daar was ’n groot gespat en ’n gedoente. Die klein walrus was gladnie so klein nie. Hy het omtrent 150 pond geweeg en was so sterk soos ’n jong bul. Carl trek toe die tou oor die agterstewe en kry dit uiteindelik nog ’n paar slae om die dier, en toe maak hy hom heeltemal vas. Ten slotte het hulle hom na die Morrissey gesleep en toe is hy met die takels vir die [125]platboom-skuite op die dek gehys. In die tussentyd het die ander jong walrus verdwyn.

Ek dink dis seker die eerste keer dat ’n walrus met ’n tou gevang is. Dit is in elk geval die eerste keer dat hierdie „cowboy” dit reggekry het. Ek weet dat ysbere al vantevore so gevang is.

Ons het die klein walrus twee dae lank aan boord gehou. Pa het hom Halitosis genoem. Hy het nie al te lekker geruik nie. Ons het probeer om hom melk te voer en hy het skynbaar deur ’n waterslang ’n bietjie ingekry. Hy het vir elkeen kwaai geblaf. Maar dit was regtig treurig om hom te sien net nadat hy aan boord gekom het. Die liggame van die ander walrusse het in ’n groot hoop op die dek gelê. Hy begin toe dadelik rond te snuffel totdat hy sy moeder kry, en toe gaan lê hy doodstil teen haar.

Later het Harry hom op ’n pynlose manier doodgemaak, met kloroform. Hy is toe gebalsem om net soos hy was, saamgeneem te word na die Amerikaanse Museum vir Natuurstudie. [126]