Ons het al ons jagters by Karna agtergelaat, nadat ons ’n dag daar deur gebring en rondgekuier en met die Eskimo’s afgereken het vir die werk wat hulle vir ons gedaan het. Hulle het natuurlik al die walrusvleis gekry, ook die vleis van nog twee narwalle wat gedurende ons afwesigheid gevang is. Dit het ons aan dr. Rasmussen te danke gehad, want hy het daarvoor gesorg dat elkeen sy uiterste bes doen om vir ons die nodige eksemplare te verskaf.
Daar was in werklikheid nog drie narwalle, maar een kleintjie het Harry heel gehou en gebalsem. Die geraamtes en kopbene van die ander het ons ook saamgevat. Kellerman het [127]ook lewende beelde geneem wat wys hoe mens die dooie narwalle aan land bring en stukkend sny. Dit was in die nag toe dit betrokke lug was en nie lig genoeg om portrette te neem nie. Dus het ’n paar mans helder flikkerligte wat Kellerman gehad het, opgesteek en die het die strand met ’n snaakse helder, amper verblindende lig verlig.
Nadat die narwalle aan land gebring is, het Koedloektoe en die ander groot stroke van die vel afgesny waarvan hulle algar baie hou. Hulle het dit uitgedeel en al die mans het dit gretig geëet. Hulle manier om dit te eet is om ’n groot stuk in die mond te stop totdat hy vol is, dan sny hulle dit met ’n mes teen hulle lippe af. Hoe hulle nooit hul neuse of lippe raaksny nie, begryp ek nie. Dit lyk in elk geval baie komieklik, en behoort ’n goeie rolprent te maak.
Ek het ook narwalvel geproe, maar het dit niks lekker gevind nie. Dit is taaierig en word skynbaar afgesluk sonder om gekou te word. Ek [128]dink die binneband van ’n outo sal omtrent net so lekker wees, behalwe dat hy beter sal ruik.
Poeadloena en nog ’n jagter het saamgegaan na Northumberland-Eiland. Die agtermiddag het ons nog ’n paar walrusse gekry, maar terwyl ons rondgepeuter het om ’n paar lewende beelde te neem, het ons twee van hulle verloor. Ek dink dit het die Eskimo’s ontmoedig, want hulle kon nie begryp nie hoe die wit mense goeie vleis kon laat verlore gaan wat hulle feitlik doodgemaak het deur allerhande fratse uit te haal vir ’n man wat in ’n masjien kyk en ’n handvatsel draai. Daar was daarem een groot walrus, en ons het sy vleis na Keate geneem, die dorpie waar ons die jagters afgelaai het. Dit was net ’n klein endjie van die plek waar ons skipbreuk gely het.
Daardie aand het ons begin om Baffin-Baai oor te steek na Jones-Sond aan die Kanadese kant. Ons was eers van plan om verder noord te gaan na Eta wat maar omtrent sestig myl vandaar was. Maar dit het laat in die jaar begin [129]word, en die Morrissey het vir kapt. Bob al baie moeilikheid gegee. Al was hy goed heelgemaak, het hy darem nog ’n bietjie gelek en ’n klomp plekke het gebars. Die voorste dek het byvoorbeeld so erg gelek dat toe die walrusvleis daar opgestapel was, die bloed afgetap het tot in ons kajuit en die tafel, maar veral Bob Peary se kooi besmeer het. Dit was eenvoudig onmoontlik om die dek in orde te bring, want al die voeë moes opnuut toegestop word todat die skip weer na ’n skeepswerf kon gebring word.
Dit het in elk geval raadsaam gelyk om nie verder noordwaarts te gaan nie. Buitendien moes ons nog terug na Holsteinsborg om Hobbs se geselskap te haal. As dit nie die geval gewees het nie, sou kapt. Bob verder gegaan het na Eta.
Nadat ons een dag goed gevorder het met ’n stywe windjie vir ’n paar uur, het ons die mond van Jones-Sond bereik, en daar is ons ontvang deur ’n digte mis wat al ons takelwerk [130]met ys bedek het. Nadat ons ’n hele end in Jones-Sond geseil het in die hoop om die laerliggende land te bereik waar ons miskien muskus-osse sou kry, is ons deur dik dryfys teruggehou. Oornag is ook nuwe ys gevorm. Die winter was blykbaar net om die hoekie.
Ons draai toe om en vaar weer na die mond en wag toe vir die mis om op te klaar. Daar was aan alkante van ons volop dryfys, dus was dit nie raadsaam om te waag om te ver in deur die ys gevang te word nie. ’n Skielike windvlaag kon dit byvoorbeeld rondom ons vaswaai en ons totaal verhinder om uit te kom.
Vroeg in die agtermiddag het die mis verdwyn en ons seil toe in Craig-Hawe wat aan die noordekant van die sond by Ellesmere-Land lê. Pa, Rasmussen, Dok en Joe, die matroos, gaan toe aan land en berig dat die stasie gesluit was. Dit is die noordelikste poliesie-pos in die wêreld en is gewoonlik deur die beroemde Noordwestelike Berede-poliesiemag beset.
Tot ons groot teleurstelling was daar niemand [131]by die stasie nie. Later het ons verneem dat hulle verder noordwaarts getrek het na ’n nuwe stasie op Ellesmere-Land. Ons het ’n briefie agtergelaat om te sê dat ons daar gewees het. Daar was twee hoofgeboue, barakke en ’n pakhuis met olievate en sakke steenkool daaromheen gepak. Alles het baie netjies gelyk. Die geboue self was gesluit.
Toe ons Craig-Hawe verlaat, gewaar ons op ’n taamlike afstand twee gebaarde seehonde op die ys. Toe die Morrissey naby die een kom, skiet Art Young hom met ’n koeëlgeweer dood met ’n netjiese skoot dwarsdeur die nek. Toe draai hy om en skiet na die ander een. Hy het hom wel geraak, maar die seehond het van die ysskol afgeseil en waarskynlik gesink.
Toe hulle die eerste seehonde kry, spring Jim, die matroos, wat gewoon is om op die seehond-jag in Newfoundland gedurende die lente seehonde dood te maak, op die ysskol en gee die seehond met ’n swaar haak wat spesiaal vir die doel gemaak is, ’n hou oor sy [132]kop. Dit het die kopbeen gebreek, sodat die seehond nutteloos was as ’n eksemplaar vir wetenskaplike doeleindes. Ek het dus orders gekry om uit te kyk na meer van hulle, want ons wou baie graag ’n goeie eksemplaar hê.
Ons was nie seker of daar walrusse in Jones-Sond was nie. Maar Dok en ek het spoedig omtrent ’n myl vorentoe drie diere op ysskolle gewaar wat vir ons baie na groot seehonde gelyk het. Ons het hulle met die verkyker dopgehou en dit blyk toe dat dit walrusse was, en dit nogal besonder grotes.
Ons seil toe reguit na hulle toe en Carl en Dok en Cal en Pa sit in die boeg klaar met hulle geweers. Toe hulle taamlik naby was, skiet hulle en raak ook die walrus, maar sonder om hun dood te maak. Dit is baie moeilik om hulle dood te kry en as daar nog enige lewe in hulle is, seil hulle van die ys af in die water. Die arme groot walrus lig hom toe met sy vinne op om te sien van waar die lawaai kom en wat dit beteken. [133]
Dit lyk of hulle in die water taamlik kwaai is, en dit is taamlik moeilik om naby hulle te kom. Maar op die ys, lyk dit, is hulle baie dom en treurig en lomp, soos ’n yslike lui koei. Maar daardie slagtande van hulle is natuurlik verskriklik gevaarlik, en ek glo nie daar is ’n dier wat met ’n walrus kan baklei nie, nie eers ’n ysbeer nie. Maar hulle hoor en sien bepaald maar swak. En as hulle op ’n ysskol in die son lê en slaap, en die water is so stil dat die ys nie skommel en hulle stoor nie, dan is dit regtig maklik om baie naby hulle te kom.
Hierdie walrus, al het hy drie skote gekry, probeer om van die ysskol af te kom. Toe skiet Carl hom met Pa se groot geweer dood. Ons laat staan hom op die ysskol en gaan verder na die ander skol, waar nog twee lê en slaap. Hulle het elkeen ’n raakskoot gekry, maar dit het hulle darem nog geluk om die water te bereik. Carl gooi toe my harpoen van die skip in die een, maar die ander een het gesink, hoewel Nielsen, Rasmussen se bestuurder wat ons op [134]hierdie deel van ons reis vergesel het, hom amper met sy harpoen gekry het. Ons was jammer om hom te verloor.
Ons algar hou nie daarvan om enige dier dood te maak en dit dan te laat verlore gaan nie. Om die waarheid te sê, ek het gedink ek sou dit groot pret vind om diere dood te maak. Dit is bepaald baie opwindend, maar ek glo nie ek gee baie daarvoor om nie. Dit is alles goed en wel om diere dood te maak om hulle te eet, of vir ’n museum. Maar ek glo nie ek sou ’n dier wil doodmaak net om iets te kan wys nie. Dit lyk vir my mensliker om hulle lewendig te kom sien en hulle te laat staan waar hulle is. Na wat Pa vir my vertel, ook kapt. Bob en andere, moet wild hier ’n paar jaar gelede baie meer volop gewees het, maar ander ekspediesies het natuurlik vreeslik baie doodgemaak. Natuurlik maak ook die Eskimo’s nou baie meer dood vandat hulle geweers het. Heel moontlik sal oor ’n ruk, nes in die weste van ons land, al die wild hier uitgeroei wees. [135]
Ons het nog ’n walrus gesien wat nie te ver weg was nie. Die Morrissey het baie na aan hom gegaan en Art het hom twee pyle in die nek gegee. Hy het van die boegspriet geskiet sodat hulle ’n lewende beeld daarvan kon neem. Die pyle sou hom miskien doodgemaak het, want hulle het diep ingedring en hom baie laat bloei. Maar dit sou ’n ruk geduur het, dus het hulle hom maar met ’n koeël doodgeskiet.
Niks van die diere is gemors nie. Harry Raven het die harsings vir die museum gehou, en lede van die ekspediesie het die koppe gehou. Alhoewel ek dink dat ons manskappe ’n lekker tyd en sekerlik baie pret gehad het, het hulle nogtans min kans gehad om regtig te jag. Ek weet Pa het gehoop dat die manne wat vrywillig saam gekom het en baie gewerk het, meer pret sou gehad het. Hy is dus bly as daar vir hulle ’n kans is om iets te kry wat hulle kan saamvat. Die vleis het ons gehou vir die Eskimo’s by Pond-Baai waarheen ons op weg was. [136]