Ons het Donderdag oggend ’n paar minute voor twee-uur in Sydney aangekom, en ek het opgebly om te sien wat sou gebeur. Gelukkig was daar g’n mis nie, wat alles makliker gemaak het.
Die eerste wat ons in die oggend gedoen het, was om ons kajuite aan die kant te maak, en daarna het ons aan land gegaan na ’n klein hotel waar ons gebad het. Op die Morrissey word nie dikwels gebad nie, hoewel ons later waarskynlik die ronde wasbalie sal gebruik wat eintlik vir ons klere bedoel is, maar seker daarvoor ook sal deug. Toe Pa die skip op die skeepswerf by Staten-Eiland opnuut laat uitrus [16]het, het hulle ’n groot waterbak van staal wat omtrent 750 gellings kan hou op die dek gesit. Dan is daar nog die watervate; dus behoort ons regtig genoeg te hê.
As ons watervoorraad bo in die noorde opraak, vertel kapt. Bob my, gaan ons eenvoudig na ’n ysberg en pomp die water uit vywers bo-op die berg in ons waterbak. Vir hierdie doel het ons ’n soort van klein pomp met ’n stuk slang aan elke kant. Die gesmelte water op die ysberge is heeltemal vars, tensy daar te veel skuim ingewaai is.
Die oggend in Sydney het ek ’n paar briewe geskryf aan Ma en ander mense. Daarna, in die agtermiddag, het Robert Peary, Art Young, Ed Manley, Fred Linekiller en ek in ons klein moterboot oorgery na die stad Sydney. Sydney lê omtrent vyf myl ver, anderkant ’n groot baai en is baie groter as Noord-Sydney, waar ons skip lê.
Daar het ons ’n groot, ou, vierkantig getuigde seilskip met skietgate al langs sy sye [17]gesien. Dit was eens op ’n tyd, ek meen in die tyd van die ou „Ironsides”—’n fregatskip van die Britse mariene.
Ons het aan boord gegaan om te kyk of ons nie ’n ou pen van die soort waaraan mens iets op die skip kan vasmaak (E. belaying pin) vir my versameling kon kry nie, maar tevergeefs.
Op die volgende dag het Pa, Art Young, Carl, mnr. Kellerman en ek uitgegaan om te probeer of daar nie kans was om forelle te vang in een van die stroompies wat ’n paar myl van ons ankerplek in die baai loop nie. Maar ons het niks uitgevoer nie. Toe ons ’n ruk gevis het, gaan ons terug na die skuit wat ons ’n endjie van die kus geanker het. Maar dit het intussen laagwater geword en ons vind die skuit amper hoog en droog in die modder.
Ons het ’n hele ruk, tot by die knieë in die modder, gestoot en getrek totdat ons hom eindelik weer in die water gekry het. Art het [18]skoene aangehad, dus probeer ek, om hom na die skuit te dra, maar hy was te swaar. Toe bring ons die skuit nader aan die wal en Pa probeer om Art te dra. Pa het vir Art op sy rug—Art is ’n groot man en weeg seker 190 pond—en begin net om uit te kom, toe die ekstra gewig sy voete tot bokant sy stewels in die modder druk, en toe ons probeer om sy bene uit die modder te trek, verloor hy sy een stewel; hulle verloor albei hulle ewewig en val in die modder en water. Hulle het dit albei as ’n grap opgevat en moes toe amper ’n myl omloop eer ons ’n plek kon kry waar ons hulle maklik kon oplaai.
Op ’n ander stuk strand het ons die kos geëet wat ons saamgebring het. Daar in die nabyheid het Art en ek die eerste buit van die ekspediesie gekry. Nadat ons stilletjies nadergekom het, storm ons skielik daarop af. En wat, dink julle, het ons gekry?
Dit was ’n groot menigte van „clams”. In die geheel het ons omtrent ’n skepel van [19]hulle uitgegrawe, en daardie aand het ons ’n lekker „clam chowder”1 geniet. Dit was nie heeltemal so spannend soos om ’n walrus te kry nie, maar dit was in elk geval pret en ons het volgehou dat die „clams” werklik die eerste buit was wat ons aan boord gebring het.
Ons het Newfoundland op die agt-en-twintigste Junie vir die eerste maal gesien. Dit was ’n pragtige gesig, met die sneeu wat weens die laatheid van die jaargety nog teen die helling van die berge gelê het. Pa sê dit lyk of daar altyd ’n buitengewone jaargety is waar ons ook al mag heengaan. Op sommige van die heuwels het die son geskyn, terwyl op ander skaduwees rondgedryf het. In seker opsigte het hulle gelyk soos die meestal kaal heuwels van Montana met hulle deininge.
Net buite die Baai van Eilande, ’n groote baai aan die weskus van Newfoundland, het ons drie visskoeners opgemerk. Ons het van [20]vier- tot agture geneem om oor die baai te seil. Omtrent halfagt het ons een van die skoeners verbygeseil en iemand die kornet hoor blaas, maar nie alte goed nie. Dit het snaaks geklink om so ’n geluid oor die afgeleë watere te hoor aansweef.
Die sonsondergang was lieflik, so rooi, dat dit gelyk het of daar bloed uit die hemel tap. Voor ons het die weer mooi gelyk, maar agter ons was ’n groot, swart wolk, waarin elke nou en dan die bliksemstrale gespeel het. En dit was regtig stormagtig. Dit was so donker, dat ons niks kon sien nie. Ek het op dek tweemaal geval, daar dit baie moeilik is om jou weg te vind weens al die goed wat daar lê—vaatjies, platboom-skuite, moterbote en die Hobbs-kano’s, behalwe nog ’n hele boel hout en toue.
Die wind het gewaai so al wat hy kon, en die reën het in strome geval. Art en ek het ons oliejasse en stewels aangetrek en aan boord gegaan om die boligte wat verskriklik gelek het, met iets te bedek. Dit lyk of boligte nooit [21]in goeie orde is nie. Ons het seildoeke en geteerde bokseile oor hulle getrek. Die water het oor die boeg geslaan.
Maar die Morrissey het hom skynbaar aan niks gesteur nie, en ek dink kapt. Bob en Will het op ’n manier daarvan gehou. Kapt. Bob is ’n wonderbare man en is baie gaaf teenoor my. Dit lyk of hy daarvan hou dat ek met die toue werk en soveel as moontlik omtrent die skip uitvind.
Die weer het een- of tweekeer baie naby ons geslaan, en baiemaal was die lug helder verlig deur die verblindende weerligstrale wat woes heen-en-weer geskiet het.
Op die negen-en-twintigste het ons die eerste ysberge gesien, en na die middag het ons omtrent tien verbygeseil, waarvan vier regtig groot was. Een van hulle was omtrent vyftig voet hoog en honderd voet lank. Omtrent een agste van ’n ysberg is bo die water en sewe-agstes onder die water. Julle kan vir julle dus voorstel hoe groot die een wat ek beskryf [22]het in werklikheid was; later het ons natuurlik ysberge gesien wat nog groter was. Die kleiner berge en blokke drywende ys word by ons „growlers” genoem.
Net ’n week gelede het ons berig gekry dat die Straat van Belle Isle van Labrador tot Newfoundland toegevries is, maar die suidewind wat die laaste paar dae gewaai het, het die straat blykbaar skoongevee en ons het sonder moeite deurgegaan. In die straat het ons twee stoombote gesien wat waarskynlik, net soos ons, vir die eerste keer in die seisoen deurgeseil het.
Nadat ons die straat verlaat het, het ons heeldag verspreide ysberge gesien, tot omtrent vieruur, toe ons vir die eerste keer regtig ys raakgeloop het. Daar was ’n menigte van blokke in een plaat wat omtrent drie myl lank en een myl breed was. Daar het honderde van berge omtrent so groot soos ’n ordentlike huis rondgedryf. Ek het saam met Ed Manley in die kraaines geklim en afgekyk op die pragtige [23]gesig. Die ys was bo blou en onder ’n mooi ligte groen. As ’n mens bo in die kraaines is, kan mens die voetstuk van die ysberg ver onder sien.
In die oggend was dit taamlik mistige weer en ons het baie naby party ysberge gekom. Een slag, toe ek op dek was, het ons minder as honderd tree van ons ’n berg gesien wat gelyk het soos ’n klein hotel, omtrent honderd-en-twintig voet hoog en driehonderd voet lank.
Twee dae lank was ons so-te-sê die hele tyd tussen ys. Kapt. Bob sê dit is die ysveld van Labrador. Een oggend het ek wakkergeskrik van ’n skok deurdat ons teen ’n stuk ys gestamp het. Die boeg van die skip word uit die water gelig en kom dan met sy hele geweld op die ys neer en verpletter dit, of anders ry ons feitlik ’n end daarop totdat dit losbreek. In alle geval is dit lekker om te weet dat die Morrissey van goeie soliede eikehout gebou is, en dat daar bowendien nog ’n valse [24]kiel van groenhout2 buite-om is om hom ’n bietjie teen die ys te beveilig.
Sover as ons kon sien was daar die hele dag ys, en ’n bietjie mis. Ons koers het heen en weer gekronkel, in en uit en om die ys. Dit lyk snaaks om skielik op soveel ys af te kom, terwyl daar nou-die-dag glad niks was nie. Die water is stil waar daar baie ys is, dus het ons goed gevorder, ten spyte van al die kronkelinge wat ons moes maak.
Een aand het ons heeltemal ’n gesellige aand gehad om die tyd te verdryf. Met ons klein Pathex-toestel het ons lewende beelde gemaak, dan was daar lekkers, en ons „foggey-dew”-orkes het tussenin gespeel en Art Young het solo’s gespeel op sy snaakse klein viool wat hy saam na Afrika gehad het en orals op sy jagtogte. „Nanook van die Noorde” was die naam van die film, en Bob Flaherty wat dit geneem het is ’n groot vriend van ons en het my baie vertel van die Eskimo’s in die streek van [25]Hudson-Baai. Tussen hakies, Pa sê ons sal miskien aanstaande somer soontoe gaan.
By tye het die son oordags lekker geskyn en Pa en mnr. Kellerman het ’n klomp lewende beelde en portrette geneem. Mnr. Kellerman klim op die boegspriet en vandaar op die staglyne en neem dan lewende beelde van die voorstewe as hy deur die ys sny.
Dit is baie boeiend om te sien hoe die bemanning die skip deur die ys bring. Een man is in die kraaines op die fokmas. Hy roept uit waarheen om te gaan en die man aan die wiel herhaal sy woorde om te verhinder dat daar ’n fout gemaak word.
Jy hoor die man bo skreeu, „Stuurbo-ord!”
En die stuurman antwoord aan die wiel, „Stuurbo-ord!”
Dan swaai die skip om na bakboord; want as die helmstok deur die wiel na die een kant getrek word, dan draai die skip na die ander kant.
Dit was vir my heeltemal ’n interessante [26]eerste Julie. Die temperatuur was omtrent 34 grade, net twee grade bo die vriespunt. Gewoonlik swem ek tuis in die tyd van die jaar!
’n Portret van die Skrywer in Baffin-Baai geneem
Een aand het professor Hobbs van die Uniwersiteit van Michigan ’n lesing gehou oor die groot gletserveld van Groenland. Hy glo dat baie van die storms op die Atlantiese Oseaan hulle oorsprong in Groenland het. Soos julle seker weet, is daardie land feitlik die ene ys. Daar is al langs die kus, veral in die suide, net ’n smal strook land wat nie deur die gletserveld bedek is nie. Die gedagte is dat dit miskien ’n myl of meer dik is, maar niemand weet presies wat die afmetings is nie. Die gletsers is tonge van die gletserveld wat as-’t-ware na die oseaan uitlek en dan afbreek as ysberge. In die deel van Groenland waarheen ons gaan bo in die noorde, is daar omtrent driehonderd mense. Die groot gletserveld van Groenland en die Suidpool-streek word beskou as die koudste dele van die wêreld, kouer selfs as die Noordpool-streek. [27]
Toe Peary oor die noordelike gedeelte van Groenland gereis het, het hy gevind dat die wind in sy gesig waai as hy op ’n ysheuwel klim en as hy afdraand gaan, dan waai die wind op sy rug. M. a. w. daar was altyd ’n wind wat van die ys afgekom het. Professor Hobbs en sy geselskap vir wie ons na Holsteinsborg neem, sal ’n studie maak van hierdie winde, die beweginge van die ys en ander dinge.
Een slag, omtrent ons twede dag tussen die ys, terwyl ons in en uit ons vaarweg kronkel, sien ons iets swarts in die water. Ek skreeu vir die ander om na die seehond te kom kyk. Dit was die eerste noordelike seehond wat ek buitekant ’n dieretuin of sirkus gesien het. Ek het hom te siene gekry deurdat ek op die punt van die boegspriet was met Robert Peary, ons eerste masjinis, met wie ek baie rondspeel. Hy is ’n seun van admiraal Peary wat die Noordpool ontdek het. Dit is sy eerste reis na die noorde, en ek en hy is groot maats.
Julle het seker al gehoor van Eric die Rooie. [28]Hy was ’n Noor wat ’n skip uitgerus het en in 983 van Noorweë geseil het na ’n land wat deur ’n seker Gunbjorn ten weste van Ysland ontdek is. Toe hy die land bereik het, wonder hy hoe hy mense sal kan beweeg om daar te gaan woon, dus toe noem hy dit Groenland. Dit was die eintlike begin van die teenswoordige Groenland. Daarna het hulle vee na die suidelike gedeelte gebring en daarmee geboer.
Groenland is van suid na noord omtrent vyftienhonderd myl lank en op sy wydste plek omtrent seshonderd myl wyd.
Ons sal Knud Rasmussen by Disko-Eiland oplaai waar, soos ek gelees het, baie fossiele gevind word. Ek hoop om ’n paar vir my versameling te kry. Tuis het ek ’n kamertjie wat ons my museum noem, en daarin versamel ek ’n hele klomp goed wat werklik interessant is. Daar het ek alreeds ’n klomp goed wat ek van die ekspediesie met die Arcturus saamgebring het, en ander deur ontdekkingsreisigers wat ons huis besoek het, aan my gegee. Een [29]van my grootste skatte is ’n klompie stukke van die dop van ’n dinosour-eier wat ek van Roy Capman Andrews gekry het, die eerste man wat die soort eiers in Asië gevind het. Hulle is tienmiljoen jare oud.
[30]