[Inhoud]
HOOFSTUK III

HOOFSTUK III

ONS BEREIK GROENLAND

Ons het op 5 Julie Groenland vir die eerste keer te sien gekry. Dit was ’n pragtige gesig met die hoë sneeubedekte berge wat uit die mis uitgesteek het. Die hele agtermiddag het ons die kus in ’n noordelike rigting gevolg, maar ’n taamlike end van die land. Van die Straat van Belle Isle af het ons ver van die kus gehou; as gevolg van die mis, die seestrome en die ys waardeur ons moes vleg, was dit dus moeilik om vas te stel presies waar ons was.

Die volgende oggend was kapt. Bartlett besorg, want ’n sterk wind het gewaai en ons het nie geweet of ons nie miskien ons hawe verbygeseil het nie. Ons wou Holsteinsborg [31]bereik. Weens die mis was ons nie in staat om ons berekeninge te maak nie.

Ons het gedurig met die verkykers uitgekyk en omtrent nege-uur gewaar ons iets soos ’n groot wit vlag wat naby ’n paar klein hutte op die kus waai. Waarskynlik was dit die droë vel van ’n seeleeu of soiets. In elk geval het die Groenlanders vir ons gesein, en ons het stilgehou, want ons was ernstig om iemand aan boord te kry en uit te vind presies waar ons ons bevind het.

Ons laat toe ’n klein boot neer, en Pa, Peary, die masjinis, die stuurman en Carl gaan aan land en bring die eerste man na die skip. Drie kajaks het hulle tegemoet gekom. Carl praat toe Noors met hom en vra waar Holsteinsborg is. Maar hy kon nie verstaan nie, dus wys ons hom die kaart en noem die plek. Toe verstaan hy en beduie deur gebare dat hy ons die pad soontoe sal wys.

Dit was groot pret om te sien hoe hy in sy klein kajak op- en afgaan sonder om om te slaan. [32]’n Kajak is ’n Eskimo-boot, ’n soort kano wat gemaak is van seehond-vel wat oor ’n raamwerk van dun hout gespan is. Dit is bo-op ook toe gemaak, behalwe dat ’n gat gelaat is waar ’n man inklim en sy voete onder die dek insteek waar dit maar omtrent ses duim diep is. Daar is ook ’n vel wat oor die opening pas en wat die man om sy lyf vasmaak om die water heeltemal uit te hou. Die roeispaan is van een stuk hout gemaak met ’n blad aan elke ent. Dit word in die middel vasgehou en eers word die een ent in die water gesteek en dan die ander. In Suid-Groenland is daar gewoonlik been aan die ente, van die roeispaan, terwy die handvatsel glad gemaak is. Die noordelike Eskimo’s het gewoonlik g’n been aan die roeispaan nie, en buitendien is daar vir elke hand ’n kerf ingesny.

Harry Laven het prente van noordelike diere geteken en die Eskimo het vir ons hulle name in sy taal gesê.

Omtrent vier-uur het ons in Holsteinsborg aangekom. Dit was ’n baie goeie klein hawe [33]in die monding van ’n fjord. ’n Fjord is ’n lang smal baai of sond gewoonlik met steil kranse aan weerskante. Pa sê die landskap van Groenland is baie soos die van Noorweë.

Die huise is algar verskillend van kleur, en maak ’n baie bont vertoning. Bo-op die heuwel het ’n klein rooi kerkie gestaan en aan die voet was die dorpie, meestal hout-huisies met sooie rondom gepak om die koue uit te hou. ’n Paar van die sooi-huisies het van voor tonnels, soos die ighloes in die noorde.

Die plek waar ons geland het, was ’n klein dok met ’n inleg-fabriek aan die een kant en rakke vir die Eskimo’s se kajaks aan die ander kant.

In Holsteinsborg het ek groot pret gehad met handeldryf. Drie van die matrose, Jim, Joe en Ralph, en ek het aan land gegaan met ’n paar ou hemde en ’n ou broek. Ons het omtrent vyftien hutte binnegegaan. Daar was maar vyf-en-twintig hutte in die dorp. Hulle het bestaan uit een kamer met ’n soort van verhoog [34]vir die bed teen die agtermuur. Alles, tot koskook, word in die een kamer gedoen en die hele famielie slaap op een bed. Die huise was baie bedompig en het na velle en honde geruik. Die honde was orals te sien, tot in die tonnels het hulle gelê, sodat mens nouliks kon verbykom.

Daardie aand om nege-uur het ons na ’n fjord, Ikortok genoem, vertrek om professor Hobbs en sy geselskap aan wal te sit. Ons het omtrent veertig myl die binneland ingegaan. Deur drie platboom-skuite aanmekaar vas te bind het ons ’n vlot gemaak om sy goed van die skip te vervoer. Een vrag was ’n bietjie te swaar, sodat die vlot amper gesink het deurdat een van die skuite vol water geloop het.

Terwyl die laaste vrag afgelaai is, het Pa en ek met Carl ’n bietjie gaan vis vang, maar sonder sukses. Ons sien toe aan land ’n voëlnes wat lyk of dit ’n goeie eksemplaar kon wees. Ons probeer om dit te kry, deur teen ’n rots uit te klim, maar kon dit nie bereik nie. [35]

Toe ons in ons motor-bootjie die land verlaat, het ons in vlak water geraak. Die skroef van ons Johnson-motor raak toe die grond met die gevolg dat die motor losruk en oor boord val. Gelukkig kon ons dit weer kry. Ons moes egter die hele pad terug roei, daar die motor vol soutwater geword het en nie wou loop nie. Die hooggety het juis met geweld die fjord opgekom en ons moes vir omtrent vier myl net hard roei. Toe ons ’n stuk strand bereik, trek ons die boot uit die water, en werk aan die motor. Ek vat toe ’n geweer om te sien of ek nie ’n paar voëls kon kry nie wat geskik sou wees om te eet of anders om opgestop te word. Teen die tyd dat ek die ander end van die strand bereik het, het hulle hoop opgegee om die motor droog te kry en weer begin roei. Hulle skreeu toe vir my dat ek maar al langs die kus moes terugstap, daar dit dan makliker sou wees om te roei. Ek het nie veel van die idee gehou nie, maar ek moes òf aanstap, òf daar bly. Ek het ’n paar van die velstewels wat [36]hulle kamiks noem, aangehad, en dit was moeilik om daarmee oor die rotse te loop. Ek was ook bang vir honde, want ons het aan land, nie ver van die ankerplek van die Morrissey, ’n klomp klein hondjies gekry. Nou is ’n teef in die noorde dikwels so kwaai soos ’n wolf as sy kleintjies het. Ek het ’n paar honderd tree af een gesien en het dus agter ’n rots gaan sit en wag dat hy moet verder weggaan.

Toe ek die kus naby die skip bereik het, stuur hulle ’n platboom-skuit om my te haal.

Op die volgende dag het ons in ’n paar dorpies langs die fjord oorgebly. Die Eskimo’s het in bootjies en kajaks gekom om met ons te handel en die Europeane en hulle snaakse skoene te sien. Toe ons hulle vra na visse wat geskik was vir eksemplare, bring hulle ’n seevark te voorskyn.

Daardie agtermiddag het ons ’n groot kolonie van voëls teëgekom. Dit was wonderbaar om te sien. Die hele sy van die rots was oortrek met duisende neste van seemeeue. Dit is ’n [37]soort van klein seemeeu wat in die winter soms sover as New-York afkom. Die voëls het met hulle aanhoudende geskreeu ’n verskriklike lawaai gemaak.

Ons het in die platboom-skuite tot teen die rots geroei en daar ’n klompie voëls geskiet om saam terug te vat en ander om te eet. Ons het ook lewende beelde geneem van die voëls wat al om die rots vlieg. Op ’n afstand het die menigte vlieënde voëls presies soos ’n sneeustorm gelyk.

Toe is ons terug na Holsteinsborg om twee mans terug te bring wat ons daar gekry het. Om drie-uur in die oggend het ons daar aangekom en hulle in ’n boot aan wal gesit in plaas van met die Morrissey in te seil, want ons wou so gou as moontlik aangaan na Disko. [38]