[Inhoud]

HOOFSTUK IV

LANGS DIE KUS VAN GROENLAND

Op pad na Disko het ons slegte weer getref en ons moes omtrent veertig myl van Holsteinsborg agter ’n klompie eilandjies gaan skuiling soek. Daar was glad g’n mense nie. Ons het ’n paar visse gevang en ’n paar voëls geskiet om saam terug te neem.

Op een eiland het drie verlate sooi-huisies gestaan. Hulle was vol modder, visgrate en bene van seehonde.

Toe ons terugkom van die hutte het ek met twee van my maats, Jim en Ralph, gaan visvang. Ons het in die platboom-skuit ver uitgegaan tot waar die see heeltemal ru was—ek het tenminste so gedink. Ons het ’n paar rotskabeljoue gevang. Jim het ’n groot heilbot tot teen aan [39]die skuit gebring, maar net toe hy hom in die skuit wou trek, gee die vis ’n ruk en raak los.

Een aand toe ’n paar Eskimo’s langs die kus aan boord gekom het, wys ons hulle lewende beelde van Eskimo’s wat ’n walrus harpoeneer, om te sien wat hulle daarvan sou dink. Hierdie prente het ons in die midskeepse kajuit gewys waar ons algar eet en die meeste van ons slaap. Met ons Pathex-toestel het ons die prente op ’n doek gewerp wat Fred van die oliekleedjie van ons tafel gemaak het.

Toe die geharpoeneerde walrus die Eskimojagter wegsleep, het ons gaste geskreeu of gebrom. Dit was baie komieklik. Hulle het al van lewende beelde gehoor, maar hulle nog nooit gesien nie. Na die noordse prente het ons hulle ’n paar van die Suidsee-Eilande gewys. Die Eskimo’s het nog nooit iemand sien swem nie, dus het hulle nie geweet wat om daarvan te dink nie. Toe ’n vriend van ons wat hul taal kon praat hulle vra wat hulle daarvan dink, toe sê hulle net hulle het van algar [40]baie gehou, veral die prent waarop ’n leeu met sy dresseerder speel. Hulle het nog nooit soiets soos ’n leeu gesien nie. Daar is byvoorbeeld, soos ons verstaan, nie ’n enkele kat in die hele Groenland nie.

Dit is baie vermaaklik om die skuite te sien wat jou tegemoet kom, en die Eskimo’s wat so heeltemal anders is as ons en g’n woord Engels kan praat nie, behalwe ’n paar soos „shirt”, „sugar” en „coffee” wat hulle opgetel het. Sulke dinge wil hulle ruil vir stewels, beursies en velle. In die suide kerf hulle sulke dinge soos kajaks, messe en penhouers uit die ivoor van walrus-tande.

Hulle het partykeer baie gawe hoede wat van bont of eiderdons gemaak is. Een man het twee modelle van kajaks met die hele uitrusting, tot die klein rokkie vir die harpoentou en die figuur van ’n man, na my toe gebring. Ek het een daarvan vir my klein museum by die huis gekoop. Daarvoor wou hy ’n ou broek of ’n hoeveelheid twak hê. Selfs die vrouens wil twak [41]hê om te pruim. Ek het ook ’n paar baie mooi beursies gekoop wat van die vinne van seehonde gemaak is en knippies van been het. Dit is moeilik om ’n kleinigheid vir elke vriend by die huis te kry.

Die Eskimo’s is oor die algemeen baie gaaf en eerlik. Die meeste kan akkordion speel, en dit lyk of hulle baie musikaal is, en hulle hou bepaald van dans.

Ons het volop goed aan boord wat vir presente en ruilhandel deug, veral as betaling vir hulp en werk wat gedaan word. Geld beteken hier maar min. Ons voorrade sluit in byle, messe, krale, naalde, twak, pype, lekkers ens. Albei geslagte is lief vir gekleurde doeke, en spieëltjies is altyd welkom.

By een van die dorpe het ons ’n trop honde ’n vrot haai sien vreet. As ’n haai ’n paar dae dood is, word daar skynbaar ammonia in die vleis gevorm. Die honde hou daarvan, en nadat hulle dit gevreet het, lyk dit vir my, word hulle dronk en kan nouliks loop. [42]

Fred Linekiller, die opstopper van diere, is besig om my te wys hoe ’n mens voëls afslag. Dit is ’n interessante werk. Die eerste wat mens moet doen as mens ’n voël geskiet het is om watte in die wonde en die bek van die voël te steek, om te keer dat die bloed nie oor die vere loop nie. Dan word ’n naald deur die neusgate gesteek en die bek word toegewerk, dat die watte nie kan uitkom nie. Dan word die vere op die bors vanmekaar gemaak en die vel van die borsbeen tot die sagte deel van die maag deurgesny.

Nils, Dawid en Matak, die Seun van Poeadloena

Nils, Dawid en Matak, die Seun van Poeadloena

Dan word daar koringmeel ingestrooi om die vel droog te hou en die bloed en vogtigheid op te suig. Daarna word die vel nie afgetrek nie, maar gedruk om dit nie te rek nie. Weer meel word ingestrooi hoe verder die vel afgeslag word. As mens by die bene kom, word by die knie ’n sny gemaak, maar so dat die been bly om die voet in posiesie te hou. Net bokant waar die stertvere uitkom, word ’n sny gemaak en die vel omgekeer met die binnenste na buite [43]en die vel word versigtig opgedruk na die kop. Dit kan tot ’n bietjie verder as die oë gedruk word. Dan word die kop geskraap en ’n mes word tussen die kakebeen en die agterste deel van die kop ingedruk, sodat ’n mens die harsings kan uithaal. Dan word die vel, met die binnenste buite, met arsenikpoeier bewerk, en daarna word dit weer omgekeer met die vere na buite en die vere word uitgepluis. Dan is dit gereed om saamgevat te word om op te stop en op te sit, of anders om bestudeer te word soos dit is.

Toe ek een oggend wakker skrik, vind ek dat ons in die klein, maar goeie hawe Godhavn op Disko-Eiland was. Kapt. Bob moet meeste van die tyd op wees, veral natuurlik as ons op pad is. Hierdie slag, byvoorbeeld, was hy die hele nag op, en Pa met hom. Disko is ’n moeilike plek om te land as mens dit nie verskriklik goed ken nie.

Daar is ’n klein steenkool-myn naby Godhavn. Steenkool uithaal en visvang, is omtrent al wat [44]die mense daar doen, behalwe dat hulle gaan jag, veral in die winter. Die meeste werk word deur die vrouens gedoen, terwyl die mans gaan visvang of jag. Toe ons aan land gaan, sien ons die vrouens met groot mandjies die steenkool uit ’n bootjie haal om dit te weeg en in ’n groot loods weg te pak.

Carl, mnr. Streeter, Art Young en ek het saam met twee Eskimo’s uitgegaan om in die mond van die baai haaie te vang. Ons het omtrent van een- tot vieruur gevis, maar het nie hond haar afgemaak nie. Later het ons deur ruil ’n paar pragtige modelle van goed uitgeruste kajaks gekry, ook van klein sleetjies met swepe en geweers daarop vasgebind met rieme.

Ons het met die Goewerneur die hele Godhavn deurgegaan, en Carl het opgetree as tolk. Dit is gerieflik om hom by jou te hê want hy praat taamlik goed Deens. Hy is ’n Amerikaner, maar sy ouers is albei Noors en by hulle huis in Minnesota het hulle baie Noors gepraat, en dit is baie nes Deens. [45]

Ons het die drukkery waar die enigste koerant in Groenland gedruk word, besoek. Dit is ’n maandblad, en die drukkery is ’n klein rooi geboutjie met een klein drukpers.

Omtrent drieduisend koerante in die Eskimo-taal word gratis onder feitlik al die inwoners van Groenland versprei. Die Goewerneur het ons vir ons versameling ’n ingebinde kopie present gegee. Die grootste gedeelte word deur Eskimo’s al langs die kus geskryf en ingestuur.

Die volgende oggend omtrent halfsewe het ons die anker gelig en Godhavn verlaat. As die anker opgetrek word, word almal na die windas geroep en dit word met ysterstange, soos handvatsels van ’n pomp, gedraai. As dit ’n lang ent ketting is, duur dit baie lank en is dit regtig harde werk.

In die middag het Pa my georder om ’n sakkie vol te maak met goed om te handel, want ons sou by ’n dorpie met die naam van Proven aangaan. Ons het omtrent agtuur daar [46]aangekom. Die hawe was baie klein, sodat die Morrissey nie kon ingaan nie en ons die boot moes gebruik. Ons is op die klein landingsbrug deur die hele bevolking begroet.

By die punt van die dok was omtrent agt haaie wat nog lewendig was met toue onder die water vasgebind. Later het Harry Raven een van tien voet lank gekry om saam te vat. Agterna het hy uitgevind dat die lewer ses voet lank was.

Terwyl Pa en die ander tee gedrink het met die Goewerneur (al hierdie klein dorpies in die suide het ’n Deen aan die hoof wat Goewerneur genoem word, al is die gemiddelde bevolking net veertig), het ek uitgegaan om ’n paar kamaks of velstewels te handel. Dit is ’n soort van dubbele, hoë skoen of stewel wat van die vel van seehonde gemaak word met die hare na binne en binne-in nog ’n harige stewel met gras daaronder om dit sagter en warmer te maak.

Die harige seehond van Groenland is heeltemal [47]anders as die seehond van Alaska wat bont lewer. Hy het nie bont nie, maar net growwe hare, en het g’n waarde nie, behalwe vir sy traan en vel. Ek kon verskillende pare kamaks kry, maar hulle was omtrent net half so groot soos my voete. Die Eskimo’s is baie klein mense, en die grootstes kom gewoonlik omtrent net tot by my skouer. Natuurlik het hulle ook klein voete.

In Proven het ek twee broeke van seehondvel geruil, een vir ’n baadjie en die ander vir ’n dosie lekkers en ’n wol-oorhemp. Ek het ook ’n soort halskettinkie soos die vrouens daar dra as hul vir hulle uitdos vir ’n steen seep, ’n stuk sjokolade en ’n soldate-spieël geruil, en ek dink ek het ’n goeie slag geslaan, want die halskettinkies is moeilik om te maak en moeilik om te kry.

Ons wou ook ’n kajak kry, maar dit sou gemeen gewees het om een te vat, want die Eskimo’s is nes kinders en sal amper enigiets gee vir lekkers en mooi stowwe. Die kajak is [48]hul vernaamste middel om kos te kry en is vir hulle dus verskriklik belankrik. Ons het altyd probeer om niks te vat wat vir hulle onmisbaar is nie, en om iets regtig nuttigs in ruil te gee vir belangrike voorwerpe, So het ons byvoorbeeld later toe ons ’n paar kajaks ruil, hout en ander materiaal waarvan hulle nuwes kon maak, gegee. ’n Baie gewenste en nuttige ruilmiddel van ons was Tetley-tee, in halfpond-blikkies. Dit, dikwels met ’n sakkie of blikkie suiker, was orals baie welkom, terwyl ons dit aan boord altyd self gedrink het.

[49]