[Inhoud]

HOOFSTUK V

UPERNIVIK EN DIE EENDE-EILANDE

Ons het omtrent middernag van Proven vertrek. Na ons vertrek uit die klein hawe, toe ons ’n paar kaal rotsagtige eilande verbyseil, het Pa en ’n paar ander aan land gegaan om ’n bietjie te gaan skiet. Ons het, toe ons aankom, ’n groot menigte van voëls en eende daar sien rondvlieg.

Hulle het van een- tot vyfuur weggebly, solank soos ek geslaap het. Later het Pa my vertel dat dit pragtig was, die water grys en stil soos silwer en die hemel loodkleurig met helder tinte van oranje en lemoengeel waar die son op die gesigseinder was. Hulle het seeswaels (E. tern), eider-eende en meeue saamgebring, [50]sommige om te eet en ander om op te stop.

Die volgende dag was dit mistige weer, dus het ons stadig geseil, want ons moes op ons hoede wees vir ysberge wat ons net op kort afstande kon sien. Omtrent nege-uur die volgende oggend het ons Upernivik bereik, die laaste stad van enige betekenis in Noord-Groenland en, as ek my nie vergis nie, die noordelikste stad in die wêreld. Daar woon ’n Deense Goewerneur en ’n paar ander Dene. Sy naam is Goewerneur Otto, en hy het ons baie goed behandel, ook later op die terugreis.

Upernivik is ’n mooi klein plek, op ’n eiland aangelê. Op die plek waar ons geland het, was net ’n klein skeepswerf, ’n paar pakhuise en lewensbehoeftes. Van hierdie hawe het ’n nou paadjie oor ’n steil heuwel na die eintlike stad gelei. Die is aan die ander kant teen ’n hang na die suide geleë met ’n pragtige uitsig op Sanderson-Hoop, ’n taamlik groot berg wat ’n paar myl weg is en aan ’n ope fjord lê wat [51]gladnie vir ’n hawe deug nie. Die dorp bestaan uit ’n dosyn houthuise, party waarvan regtig mooi is, veral die Goewerneur se woning en een vir die dokter wat daar woon; laasgenoemde doen ook diens as ’n hospitaal. En rondom die houthuise lê die sooihutte van die oorspronklike bevolking wat skynbaar vashou aan hulle ou lewensgewoontes. Op ’n heuwel by die dorp staan ’n fraai nuwe kerk.

Ons het die middag saam met Goewerneur Otto en sy dogter Ruth, ’n meisie van omtrent twaalf jaar, in hulle huis geëet. Daarna het ons by die hawe lewende beelde geneem van ’n Eskimo wat sy kajak omkeer. Dit het gelyk of hy gladnie swaar kry nie. Hy val eenvoudig na een kant toe om terwyl hy in sy kajak of vel-boot sit en kom dan aan die ander kant weer op, deur net ’n draai met sy roeispaan te maak. Toe hy dit doen, het hy ’n waterdigte pak aangehad en ’n soort kappie op sy kop wat hy styf om sy nek getrek het, en om sy middel, waar hy in die opening in die dek van die [52]kajak gesit het, was ’n stuk vel styf vasgemaak om die water uit te hou.

Robert Peary het lus gekry om dit ook te probeer. Hy verwissel toe sy klere vir ’n hemp van seehond-vel en klim in die kajak—dit was moeilik om daarin te kom, want hy is soveel groter as die Eskimo—en keer half om. Die kajak was nou onderstebo en sy kop kom aan die ander kant uit, maar gaan met ’n gespat weer onder. Hy kon eenvoudig nie weer orend kom nie en hang toe met sy kop onder die water en die boot onderstebo oor hom. Ek het regtig gedink hy verdrink.

Hy kom vir die twede keer op en skreeu om hulp. Ons was natuurlik naby en Carl roei toe onmiddellik in ’n skuit na hom toe, maar val amper self in die water terwyl hy vir Robert help om weer regop te kom. En het die Eskimo’s nie gelag nie! Hulle het dit as ’n groot grap beskou. Maar Robert het skynbaar gevoel asof hy soveel yswater van Baffin-Baai ingesluk het as wat hy kon verdra en hy was [53]so koud dat hy reguit na die skip teruggegaan het om ander klere aan te trek. Dog ek sal ’n weddenskap maak dat hy ander jaar by die huis in Maine die ding sal regkry.

’n Paar Eskimo’s is uitgestuur om haaie vir die museum te vang en Doc, Ralph en ek het in die boot agternagegaan. Hulle het toe al vier grotes gevang en ’n ander een het weer oor boord geval. Hierdie Groenlandse haaie is baie stadig en lui. Hulle sit hulle glad nie teë nie. Hulle beweeg baie stadig en dit lyk of hulle niks kwaai is nie, en heeltemal anders as die haaie wat ek in Florida gesien het wat mense daar gevang het.

Die volgende oggend het Goewerneur Otto ons saamgevat om sy honde te sien wat hy gedurende die somer heeltemal alleen op ’n kaal rotsagtige eiland omtrent ’n myl vandaar hou. In die somer word hulle omtrent alle drie dae met eende gevoer wat in ’n groot mandjie soontoe gebring word. Die meeste eende is skynbaar al taamlik lank bewaar, sodat hulle [54]alle taamlik „ryp” is. Maar die honde hou bepaald daarvan.

Ons het in ons groot skuit oorgegaan met die goewerneur en ’n paar Eskimo’s wat die kos gedra het. Toe die honde—dit was omtrent ’n dosyn—ons sien kom, storm hulle af na die see en volg ons soos ons verbygaan, terwyl hulle aanhoudend blaf. Hulle het goed geweet dat dit etenstyd was.

Ons het geland en besluit om hulle ’n end van die water af te voer waar dit gelyker was en Kellerman dus beter in staat sou wees om lewende beelde te neem. Terwyl die Eskimo’s die groot mandjie met voëls gedra het, moes een van hulle die honde afhou. Daarvoor moet hy ’n roeispaan gebruik. Tog het hulle opgespring en probeer om die mandjie vleis op die man se skouer te bereik, sodra hulle die minste kans kry. Ek het g’n die minste twyfel nie dat hulle hom sou onderstebo gespring het as hy alleen gewees het.

Toe is die voëls klompiesgewys vir die honde [55]gegòoi. In ’n oomblik was hulle verskeur en opgevreet. ’n Hond kan een van hulle in ’n oogwink oopskeur en hom afwurg, alles behalwe die vere. Daar was baie bakleiery, en die hele tyd was daar ’n groot lawaai soos hulle tjank en vir mekaar blaf.

Dit was baie interessant om die koning-hond te sien. Elke span van honde in hierdie land het ’n leier, die koning wat baas is. Hy is gewoonlik die swaarste en mooiste onder hulle en natuurlik ook die baas-bakleier. Ek dink hy spook die leierskap eenvoudig uit. Een ding is seker, as hy vir hulle iets „sê”, dan voer hulle sy orders gou genoeg uit, of anders kry hulle op hul bas.

Die koning het ook ’n koningin, en dit is grappig om te sien hoe hy vir haar sorg. As sy ’n eend, of ’n stuk daarvan, beetkry, dan staan die koning maar net by haar en sorg dat g’n ander hond haar molesteer nie. As een van hulle opgewonde raak en naby die koningin en haar kos mag kom, dan gee die koning net [56]een brom—en dit is die end van die saak. Of as ’n ander hond ’n stuk eend het en die koning kom na sy kant toe, dan laat hy dit sommer val en hardloop weg, of hy gaan lê op sy rug en soebat. Daar was sekerlik tug op die eiland.

Toe die spul oor was, was daar net ’n klompie vere op die rotse rondgestrooi en die honde se bekke en koppe was besmeer van die bloed, soos hulle die vleis verskeur het.

In elk geval het hulle blykbaar algar ’n goeie maaltyd gehad en het hulle vir die eerste keer rustig gelê om vir die volgende etenstyd oor drie dae te wag. In die winter is daar werk vir hulle, baie werk. Hulle is natuurlik van groot belang vir die mense in hierdie noordelike streke. Daar is g’n perde nie en natuurlik g’n outo’s of enigiets van die aard nie. Dus word alles op sleë vervoer en die word deur honde getrek.

Die hondevelle is besonder fraai. Die haar is dig en sag en blink. Pa het ’n paar hondevelle [57]gekoop om ’n jas daarvan te laat maak.

Daardie agtermiddag het ons Upernivik verlaat en ’n noordelike rigting oorgesteek na Melville-Baai. Algar was daar om ons vaarwel te sê en die Goewerneur het bo die heuwel waar die Deense vlag waai, sy kanonnetjie laat afskiet. Hulle het ons ’n saluut gegee met drie kanonskote en ons het met drie geweerskote geantwoord.

Die Eende-Eilande is ’n klompie rotsagtige klein eilande, naastenby twaalf myl van die vasteland van Groenland aan die suidelike end van Melville-Baai. Ons het hulle omtrent twee-uur die volgende agtermiddag bereik en in ’n soort van hawe tussen die grootste twee eilande geanker. Ek reken die grootste is omtrent twee myl lank en sowat ’n halfmyl wyd, en heuwelagtig en vol rotse. Langs die see waar die land ’n bietjie vlak is, is die rotse oorgroei met mos en is daar kolle met vleie en modder.

Op albei eilande het ons taamlik rondgeloop [58]en groot getalle van eider-eende teëngekom wat daar in groot troppe broei. In die ou dae het die walvisvaarders as hulle na Baffin-Baai gekom het, hulle hoofkwartier hier opgeslaan en skeepsvragte van eende-eiers bymekaar gemaak.

Ons het baie eende op hulle neste gesien. Die nes is somar ’n donsagtige bol vere op die gelyk grond. Hulle pluk die donse uit hulle borste, sodat die wyfies as mens hulle in die hande kry, lyk asof iemand ’n handvol donse daar uitgetrek het. Dit word eider-dons genoem en word vir baie goeie bulsakke en kussings gebruik. Dit is baie warm en ook van groot waarde. Die Eskimo’s versamel dit van die neste en pluk dit van die eende, en dit, saam met die velle van vosse en seehonde en ’n paar ander artiekels soos die ivoor van walrusse en die slagtande van narwalle is die vernaamste artiekels vir handel met die buitewêreld.

Die mannetjies en wyfies van die eider-eende [59]is baie verskillend. Die wyfie is heeltemal bruin, terwyl die mannetje net ’n bietjie bruin op sy bors en maag het, met baie wit op sy rug en aan sy nek, en vere wat donker-grys of amper swart is. Die wyfie is baie stadig en dit is baie maklik om haar by te kom en dood te maak. Ons het ’n hele klomp van hulle geskiet om te eet en hulle aan die takelwerk opgehang waar Billy, die kok, dit kan haal wanneer hy dit nodig kry. Die mannetjie is baie wilder en vlieg vinniger en is taamlik moeilik om te skiet. Daar was baie min mannetjies op Eende-Eiland. Dit lyk of die mannetjies op eie houtjie weggaan, terwyl die wyfies broei. Later het ons in die fjords anderkant Upernivik baie van hulle teëgekom. Albei geslagte is groot en swaar en heerlik om te eet.

Sover terug as die jaar 1850 en vir sowat dertig jare daarna is in hierdie dele veel jag op walvisse gemaak. Baie van die skepe het van Skotland gekom. Daar is op die heuwel of klein [60]berg by Eende-Eiland ’n klipbaken van walvisjagters en ook ’n ringmuur vanwaar hulle uitgekyk het. Tussen hakies, in daardie baken het Peary in 1888 ’n dokument agtergelaat. Ons kon egter niks vind nie. Waarskynlik het die Eskimo’s al lank gelede alles daar uitgehaal.

In ’n laagte naby die water, waar ’n hoop vuilgoed gelê het, het ons die graftes van ’n paar walvisjagters gevind. Hulle was met klippe bedek, maar net een naambord het oorgebly. Daarop was die volgende te lees: „In memory of William Stewart, A. B., S. S. Triune of Dundee, June II, 1886. Aged 24.”

Art het met my uitgegaan om met my nommer sestien haelgeweer te gaan skiet, maar ek het nie goed gevaar nie. Ek het nie baie oefening gehad om voëls in die vlug te skiet nie en is, daarin maar sleg. Om met ’n twee-en-twintig koeëlgeweer te skiet, lyk baie makliker. Art self is ’n uitstekende skut met koeël- of haelgeweer.

Ons het baie eiers gevind en Pa en ’n paar [61]ander het groot klompe eiers gevind, honderde van hulle blykbaar deur Eskimo’s wat die eilande vroeër in die seisoen besoek het, versamel en daar neergesit om later gehaal te word. Hulle was in ’n gat gebêre met klippe daar omheen gepak en die skeure met mos toegestop, sodat hulle uitstekend goed beskut was. Hulle het ook die kopbeen van ’n ysbeer gevind.

By drie van die eiers wat ons gevind het, het die klein eendjies net uitgekom. Ons het hulle saamgevat na die skip. Een het ek onder ’n eendewyfie gesit wat ek lewendig in ’n Eskimo-strik gevind het, en die ander twee agter die stoof in die kombuis waar dit lekker warm was. Twee van hulle het ’n taamlike ruk gelewe, maar later het ons hulle op ’n pynlose manier doodgemaak en hulle gebêre as eksemplare vir die museum. Ons het ook ’n paar neste vir die museum saamgevat, en ek het een vir my versameling gekry.

[62]