Teen die twintigste Julie was ons amper oor Melville-Baai. Dit was op die kop ’n maand na ons vertrek van die huis, wat uitstekend goed was. Ons was natuurlik baie gelukkig dat ons die hele tyd nooit regtig moeite met die ys gehad het nie.
Gewoonlik is Melville-Baai omtrent die gevaarlikste en moeilikste deel van die reis noordwaarts. In baie gevalle duur dit weke eer mens daar deurkom, en partykeer is dit eenvoudig onmoontlik om deur te kom. Dr. Rasmussen het my later vertel dat hy al terwyl hy probeer het om deur te kom, ses volle weke rondgedryf het, daar sy skip vasgevries was [63]in die pakys. En dit in die middel van die somer.
Na ons vertrek van Eende-Eiland was ek ’n hele ruk besig om die goed vir handel en vir presente reg te maak. Ons sou natuurlik nie veel handel dryf nie, net vir goed wat ons persoonlik wou hê. Die meeste goed was bedoel om die mense te betaal wat ons op jag, en by die versameling van eksemplare sou help. Een van my lekker werkies was om blikke met skroefdeksels vol te maak met lekkers en suiker. Ons het ook woloorhemde en jersies met skitterende kleure wat mnr. Alex Taylor van Rye aan die ekspediesie geskenk het, uitgesoek. (Ek mag sê dat ons hele bemanning nou mnr. Alex Taylor se woloorhemde gebruik en dat ons hulle nuttig vind).
In die aand van 20 Julie het ons by Kaap-York aangekom. Dit is ’n groot kaap wat die noordelikste punt van Melville-Baai uitmaak en eintlik die begin is van die verre Noord-Groenland. Die mense wat daar en nog meer [64]noordelik woon, maak deel uit van die Eskimo-stam van Smith-Sond en woon nader aan die Noordpool as enige ander volk. Omtrent op hierdie breedtegraad is ’n mens verder noord as die noordelikste deel van die vasteland van Noord-Amerika, Europa of Asië. Ons het dus besef dat ons begin het om regtig ver noord te kom.
Die kaap self is ’n hoë berg wat so-te-sê direk in die see uitloop. Party van die hange is heeltemal rooi, en die sneeu is ook karmosynkleurig weens ’n soort stof wat dit skynbaar bedek. Hierdie deel word die Karmosyn-Rotse genoem en feitlik elke Noordpool-ekspediesie maak melding van hulle en beskryf hulle. Agterom die kaap is ’n groot gletser wat direk in die water afbreek, en dit is baie gerieflik. Kapt. Bob het die skip tot reg teenaan die ysmuur gebring en ’n paar man het van die boegspriet op die gletser gespring en die skip met toue vasgemaak, sodat hy daar teenaan kon lê asof die ys ’n kaai was. Natuurlik was daar [65]g’n wind nie en die see was heeltemal stil.
Toe vat hulle ’n slang en gaan daarmee ’n end op en sit die punt in een van die baie stroompies wat van die top van die gletser afloop, alles gesmelte sneeu. Die skuinste was genoeg om die water in ons groot waterbak op dek te laat afloop. Die matrose het ook die vaatjies met behulp van emmers volgemaak. Dit was ’n uitstekende plan om ’n hele voorraad egte yswater te kry.
Terwyl ons daarmee besig was, het ’n paar Eskimo’s in hulle kajaks aangekom. Ons het vir ’n koeëlgeweer en ’n klompie ammuniesie ’n pragtige kajak van hulle gehandel. Die volgende dag, toe ons aan land gaan, sien ons dat die eienaar van daardie kajak al goed op weg was met die maak van ’n nuwe. Hy het dus met sy uitstekende geweer goeie vooruitsigte gehad vir die jag. Ek hoop dit van harte, want ’n kajak is vir ’n Eskimo omtrent die vernaamste lewensbehoefte. Waarskynlik is ’n geweer die volgende. Dit is veral waar as ons dit vergelyk [66]met ’n outo wat vir ons tog maar ’n weeldeartiekel is, waarsonder ons maklik kan klaar-kom.
’n Kort end van die klein nedersetting by Kaap-York is daar ’n „voëlberg”. So noem hulle die plekke waar ’n mens „dookies”, ’n klein soort auks1 vind. Hulle is klein voëls wat teen berge hou waar mens talus-hellinge aantref—dit wil sê lang afdraandes met los rotse wat opmekaar gestapel is. Hulle maak hulle neste in die holtes en skeure waar hulle moeilik is om te vind.
’n Eskimo het saam met ons in die skuit na hierdie „voëlberg” gery. Ons het teen die helling uitgeklim tot by ’n plek wat hulle gereeld gebruik en waar hulle van los klippe ’n ruwe skerm gemaak het. Hy het ’n net aan ’n lang stok saamgevat. Ons het teen die helling gaan sit, gedeeltelik bedek deur die skerm. Toe vlieg die voëls verby, altyd in dieselfde rigting. Dit [67]lyk of hulle gedurig aan die gang was, of hulle opvlieg van die rotse, ’n wye draai oor die see maak en dan weer terugkom. Daar was duisende van hulle.
As ’n voël by ons verbyvlieg, amper so naby dat mens hom kon aanraak, maak die Eskimo ’n vinnige swaai met sy net en pardoems,—daar lê een van die voëls in die net. Hy trek gou die net terug, haal die voël uit en maak hom dood, en hy is weer gereed. Dit is hoofsaaklik die werk van die vrouens wat baie bedrewe daarin is en honderde (waarskynlik duisende) van hulle vang. Hulle is heerlik om te eet, en die velle word gebruik om veer-klere te maak vir ’n voering wat teen die lyf gedra word.
Nadat ons Eskimo-vriend ons gewys het hoe om dit te doen, het ek ook probeer. Dit het baie maklik gelyk. Maar dit was nie die geval nie. Ek het baiemaal misgevang.
Pa en Dan Streeter het gestaan en kyk en kiekies geneem, en hulle het vir my gelag as [68]ek so’n swaai maak sonder om iets te vang.
„Drie kanse en jy is uit!” roep hulle toe ek vir die derde keer misvang.
Maar na ’n ruk het ek darem ’n paar gevang, en ’n paar het ek met die stok raakgeslaan sodat hulle half bedwelmd was en ons hulle kon kry. Pa en Dan het ook probeer, maar hulle het ook g’n rekords geslaan nie. ’n Kêrel met ’n goeie oog vir krieket soos Babe Ruth behoort by soiets uit te blink. Dit was in alle geval groot pret, en natuurlik was dit die eerste keer dat ek probeer het om voëls met ’n net te vang. Wat baie snaaks is, is dat ek die volgende dag werklik met ’n strik ’n paar gevang het.
Die plek waar ons skip die agtermiddag gelê het was net lang ’n groot klomp baai-ys, ysskolle met water tussenin. In die verte kon ons hier en daar seehonde sien. Hulle sit in die son en bak, maar gewoonlik digby ’n gat in die ys. Sodra hulle skrikgemaak word, seil hulle af en verdwyn. Selfs as ’n mens hulle skiet, [69]tensy hulle onmiddellik dood is, plof hulle nog in die water en sink.
Dan en een van die Eskimo’s het probeer om die seehonde—of „poeiesie”, soos die Eskimo’s hulle noem—te bekruip. Hy was taamlik gelukkig en het drie raakgeskiet, twee waarvan hulle gekry het. Hulle het ook taamlik nat geword, terwyl hulle so oor die ys kruip en deur dammetjies water wat deur die son gesmelt is. In alle geval was dit ons eerste buit en die vleis was ook lekker.
Voor die volgende oggend het ons noordwaarts gegaan na Parker-Sinow-Baai. Toe ek wakker word, lê ons daar geanker. Dit is ’n mooi plek, ’n klein baai heeltemal op die kus met ’n stukkie gelyk grond en daar agter kom ’n gletser af wat tot by die groot gletserveld uitstrek. Aan weerskante van die gletser staan twee steil berge en een van hulle het ons Bartlett-Kop genoem. Een van die berge het aan die seekant kranse wat steil uit die see oprys. En daar is ’n groot voël-kolonie. [70]
Op die kus het ons ’n blou vos gesien. Na môre-ete het ons die voël-kolonie aangepak om eksemplare te kry. Dit was ’n heerlike, sonnige en stil dag en ons het regtig ’n aangename tyd gehad. Party van ons is tot die agtermiddag besig gewees en het die boot teruggestuur om ons middagete te haal.
Ons het teen ’n krans uitgeklim. Om dit reg te kry moet ons die maklikste kant van ’n steil puntjie uitkies. Van die krans af kon ons ’n paar van die neste bereik. Ons kon selfs aan party van die voëls raak, aan auks en seemeeue. Hulle het op hulle neste gesit en broei, en party op baie klein kuikentjies. (Toe ons drie weke later terugkom, was daar baie meer kuikentjies.)
Op hierdie plek het ek ’n ligte lyn gebruik en heel party voëls daarmee gevang. Ek het aan die een ent ’n lissie gemaak en die oor die kant van die krans laat afsak, totdat dit op een van die neste lê. As die voël dan terugkom en reg daarop gaan sit, gee ek ’n skielike ruk. Dit het heeltemal goed gewerk. [71]
Bob Peary, wat baie goed kan klim, het ’n tou om sy lyf vasgemaak, en toe het ons hom laat afsak om eiers en neste te kry. Art Young en Carl was die „ankers” aan die ander ent van die tou. Een slag terwyl hy afgaan, het Bob op ’n los klip getrap en dit afgestamp. Die klip het in sy val ’n groot klom ander klippe losgeruk en die hele spul het met ’n geweldige geraas en gespat in die water geval.
Die krans was van bo tot onder omtrent loodreg, met net ’n lys wat omtrent twintig voet bokant die water uitgestaan het. Na ’n ruk het Bob tot daar afgegaan waar hy kon staan, en toe het ons Pa ook soontoe laat afsak met ’n klein kamera waarmee hy lewende beelde kon maak. Later het die boot soontoe omgegaan, en die manne wat daarin was het die tou styf vasgehou, terwyl die manne bo dieselfde gedoen het, en so het eers Pa en na hom Bob langs die tou afgeseil, nadat hulle eers ’n emmer met eiers en ’n kissie met neste laat afsak het en ook ’n klompie kuikens wat hulle daar gekry het. [72]