[Inhoud]
HOOFSTUK VIII

HOOFSTUK VIII

DIE MORRISSEY HERSTEL

Dinsdag die derde Augustus het ons weer in Upernivik aangekom met Melville-Baai veilig agter die rug. Ons het goed geweet dat ons reis daar en dan sou ophou, daar ons die lekplekke in die Morrissey nie kon regmaak nie. Op die terugreis het elke minuut omtrent tien gellings water ingeloop. Dit op sigself was nie erg nie, maar daar was gevaar dat dit enige oomblik erger kon word, veral as die skip ooreis sou word of in botsing kom met ys of iets anders.

Toe ons inseil was ek aan die beurt om te pomp. As die motor slaan, moes ons amper aanhoudend pomp, want deur ’n toestel wat Robert Peary uitgedink het, gebruik die motor in [89]sy verkoelingsinrigting baie water uit die skeepsruim, en dit het die pompery baie verminder.

Ons het dadelik ’n paar Eskimo’s aan boord laat kom om te pomp. Kapt. Bob het aan land gegaan om uit te vind hoe diep die water was en hoe skuins die kus, om te sien of ons die Morrissey op die strand kon bring. Later in die agtermiddag het die Goewerneur en sy assistente ons vertel dat daar omtrent tien Engelse myle (die Deense myl is omtrent vier van ons s’n) van Upernivik ’n fjord was waar dit maklik sou wees om die skip op die strand te bring. Hulle het die plek self gebruik om onder aan hulle skepe te werk.

Ons het onmiddellik vertrek en dit het ons twee-en-’n-half-uur geneem om daar te kom. Op weg soontoe het ons deur ’n soort van natuurlike poort in die rotse wat omtrent so wyd soos die lengte van die skip was, geseil. Dit was baie, baie diep, want aan weerskante was daar ’n berg met steil kranse wat waarskynlik baie vame onder die water eindig. [90]

Hulle het die skip geanker en vir ’n hoë gety gewag, terwyl kapt. Bob voorbereidsels gemaak het om hom uit die water te kry, sodat hulle aan die boom kon werk. Ongelukkig was die skade heeltemal onder aan die kiel, dus was dit nutteloos om die skip maar net oor te kantel op sy sy. Pa het in Upernivik reëlings getref om ’n dosyn Groenlanders saam te vat wat kon help by die moeilike werk, soos die verskuiwing van die ballas. Ons het ook die goewerneur se smid en ’n klompie van sy gereedskap geleen.

Die volgende dag het ’n paar van ons die goewerneur in ons motorboot teruggebring na Upernivik. Dr. Heinbecker en ek het daar gebly en ’n besoek gebring aan dr. Rasmussen, die vroulike dokter wat daar woon en al die klein nedersettings in die rondte besoek. Sy maak die ritte in haar eie klein motorboot, vergesel deur ’n paar Eskimo’s wat dit vir haar dryf. Sy is Deens en is baie gaaf. Sy is baie groot en sterk en wonderlike verhale word van haar [91]vertel, hoe sy in die winter haar span honde dryf, en selfs mans wat probeer om by te hou, word uitgeput. Die hele tyd wat ons in Upernivik deurgebring het, het sy ons in haar klein hospitaal in lekker beddens laat slaap, en ons in alle opsigte uitstekend behandel. Gedurende ons besoek daar het ons allerhande interessante kos gekry, soos die vleis van seehonde, auks en eende en eendeëiers.

Daardie agtermiddag het dr. Rasmussen berig gekry dat daar siekte was in ’n klein dorpie met die naam van Aupilagtok wat net ’n paar myl van die plek waar die Morrissey was geleë was. Die ander het teruggegaan na die Morrissey, terwyl Dok en ek saam met dr. Rasmussen na die dorpie gegaan het, nadat ons hulle versoek het om ons daar te kom haal. Ons het met haar skuitjie gegaan wat in Denemarke gemaak is. Dit is baie sterkgebou en ploeg ewe maklik deur die ys asof daar nie soiets was nie.

Daar was in Aupilagtok ’n klein winkeltjie in ’n klein kamer wat teen die huis van die [92]hoofman gebou was. Sy naam was Imik en later het hy Pa op ’n driedaagse tog na die gletsers en die groot gletserveld begelei. In die winkel het hulle lood vir koeëls wat hulle in primitiewe vorms gegiet het, ook doppies en kruit. Hulle geweers skiet met koeël en koeëlpatrone en hulle maak alle ammuniesie self. Hier het die Eskimo’s geld waarvoor hulle beskuit, suiker, twak en ander dinge koop. Hierdie artiekels word met ’n snaakse skaaltjie geweeg met twee ou koper-skarniere as gewigte.

Na ’n ruk het Pa en ’n paar ander met ons motorskuit aangekom en ons het algar teruggegaan na die Morrissey, dwarsdeur ’n hele spul ys. Meestal het dr. Rasmussen se skuit, die Mitik, wat baie breed is vooruit deur die ys geploeg en ons s’n het gevolg.

Toe ons by die Morrissey aankom, wou die kaptein ontslae raak van ’n paar van ons om dit makliker te maak vir Billy, die kok, wat ook vir die hele trop Eskimo’s moes sorg. Buitendien was hulle besig om die ballas te [93]verskuif en alles klaar te maak om die skip op sy sy oor te kantel. Gevolglik moes hulle alle vure doodmaak en op die strand boer. Dr. Rasmussen het ons dokter, Harry Raven en my genooi om saam met haar na Upernivik te gaan, en ons het die uitnodiging aangeneem.

Ons het in haar boot teruggegaan na Upernivik en omtrent vieruur in die oggend daar aangekom. Dit was natuurlik helder dag en die son het geskyn; want ons was die hele tyd gelukkig om heerlike weer te hê, terwyl dit ook taamlik warm was. Ek meen die temperatuur was op sy warmste sowat sestig graad en op sy koudste nooit onder veertig nie.

Gedurende die middagete om twee-uur die agtermiddag het ons weer ’n groot geskreeu van die Eskimo’s gehoor.

Demiaksoa!” het hulle geskreeu. Dit is hulle woord vir „skip”. (Ek het die woord gespel soos dit vir my geklink het.)

Tot ons groot verbasing sien ons ’n oorlogskip die hawe binnekom. Dit blyk toe die [94]Islands Falk (dit beteken Ysland-Valk), die Deense patrollie-skip te wees. Onder in Suid-Groenland het hulle deur middel van hulle radio-toestel van ons moeilikheid gehoor en het daar en dan noordwaarts vertrek om ons te kom help. Die eerste draadlose berig wat deur ’n Amerikaanse skip aan hulle oorgesein is, het gesê dat die Morrissey heeltemaal vergaan was, en dat ons algar op die kus was. Waarom juis so’n berig gestuur is, kon ons nie begryp nie, daar ons natuurlik niks van die aard laat weet het nie.

In elk geval het kapt. West van die Valk later ’n ander berig ontvang van die Kanadese skip Boethic wat aan die Kanadese kant was. Die Boethic het ’n draadlose onderhoud met ons gehad en het kapt. West met die ware feite bekendgestel, naamlik dat ons op weg was na Upernivik om ons skip te herstel. Die Valk het dus na Upernivik gekom om ons te help.

Ek het ’n klein skuit gekry en uitgeroei na [95]die oorlogskip en aan boord gegaan. Tot my groot verbasing is ek begroet deur dr. Knud Rasmussen wat in die Valk opgekom het van Disko waar ons hom sou ontmoet het. Maar sy skip van Denemarke was baie vertraag en hy kon dus nie daar by ons aansluit nie. Ek het hom vertel wat ons oorgekom het.

Kapt. West, kommandeur Riis-Carstensen, dr. Rasmussen en ’n paar ander gaan toe na die Morrissey en bied hulle hulp aan. Op die end het hulle ’n gawe klomp manne soontoe gestuur met ’n duiker en bote en alles. Die duiker het omtrent ses dae gewerk, terwyl die Deense offisiere en matrose op die skip geslaap het en aan land uitgekamp het. Dit blyk toe dat dit met behulp van die duiker moontlik was om die lekplekke meer of min toe te stop. Maar ek is seker dat ons sonder sy hulp in ’n taamlik benarde toestand sou gewees het. Die groot moeilikheid was om die beskadigde plek te bereik wat heeltemal onder aan die skip was. En op die plek waarheen hulle ons gestuur [96]het om die skip op die strand te bring, was die gety nie sterk genoeg om die kiel heeltemal uit die water te kry nie.

Ons was regtig dankbaar vir alles wat die Deense amptenare vir ons gedoen het. Niemand kon gawer en edelmoediger teenoor ons gewees het nie. En ek het nog nooit ’n gawer klomp manne teëgekom nie. Dit was vir my groot pret om op die skip en in die dorp met hulle rond te gaan. Die meeste van die sestig man aan boord het van alle dele van Denemarke gekom en was juis besig om hulle verpligte jaar op see uit te dien. In Denemarke moet elke man een jaar in die land- of seemag diens doen. En ek dink hulle hou algar daarvan om hierdie reis na Groenland te maak, omdat dit so ’n verandering is.

Terwyl hulle aan die skip besig was, het Dok, Harry en ek na Upernivik getrek. Pa het drie mans na die gletser geneem waar hulle portrette geneem het en eksemplare van voëls versamel het. [97]

Dit was ’n woelige tyd vir Upernivik, waarskynlik die lewendigste wat hulle nog ooit gehad het. Want behalwe die Morrissey was die Valk daar met sestig man wat meestal aan land was. Daar was elke aand ’n dans in ’n groot pakhuis naby die skeepswerf, wat gewoonlik tot die oggend aangehou het. Dit was in kort nooit nag nie. As in die somer ’n skip na een van die afgeleë dorpe kom, vergeet die mense heeltemal om te slaap. Algar bly die hele tyd wakker. Vir die manskappe van die skepe is dit eintlik vermoeiend, want die dorpsmense kan tenminste slaap as die skip vertrek, terwyl die manne aan boord dan eers regtig begin werk.

Die kerk van Upernivik is die noordelikste in die wêreld. Die nuwe gebou is toe net klaargemaak en die Sondag toe ons daar was, ingewy. Daar was ’n menigte mense, en die Goewerneur het sy pluiskeil opgehad en wat daarby behoort. Ons het natuurlik algar soontoe gegaan, ook na ’n Eskimo-bruilof in die agtermiddag. Die gesange en ’n lang preek was [98]algar in die Eskimo-taal. Die eerste kerk in Upernivik is reeds in 1780 gebou.

In die aand van 10 Augustus het die Morrissey teruggekom na die hawe. Die duiker het die skip pragtig reggemaak. Kapt. West het aan kapt. Bartlett ’n brief gegee wat getuig dat die Morrissey weer heeltemal seewaardig was. Ons was dus gelukkig, want dit het beteken dat ons ons reis wat so amper noodlottig was, kon voortsit. Ons het besluit om weer noordwaarts te gaan en Knud Rasmussen na Thule te bring.

Die aand voor ons vertrek het hulle vir ons in Goewerneur Otto se huis ’n groot geselligheid gegee. Alle luike is toegemaak om dit donker te maak en toe, om dit geselliger te maak, het hulle ’n menigte kerse opgesteek. Agtien mense het in die klein eetkamer ingedruk. Daar is toesprake gehou, en dit was net ’n lekker affêre. Ek het taamlik vroeg ingekruip, maar die grootmense, dink ek, het nie voor sewe-uur in die oggend gaan slaap nie. [99]

Die laaste aand was daar nog ’n afskeid op die Ysland Valk. Kapt. Bob en Pa was die gaste van kapt. West by ’n dinee. Hulle het al die goed van dr. Rasmussen op die Morrissey gelaai. Hy sou die hele end pad saam met ons gaan, tot by New-York, en het dus ’n hele klomp klere en ander goed gehad.

Toe ons die anker lig en weer op koers gaan, laat ons ons vlag sak en skiet drie skote van ons grootste geweer as ’n saluut. Die Valk antwoord toe met drie skote van sy groot kanonne, en die mense op die land skiet nog ’n saluut met hulle klein kanonnetjie. Dit was heeltemal ’n spoggerige afskeid. Die Goewerneur was in sy groot roeiboot en waai vir ons vaarwel. Upernivik kon ons bepaald nie beter behandel het nie, en ons het dit ten volle waardeer.

En toe draai ons weer noordwaarts met dr. Rasmussen. En ons het ons gelukkig geag dat ons weer op pad was in plaas van suidwaarts te retireer. Ons was nou op die punt om [100]Melville-Baai vir die derde maal oor te steek, wat heeltemal ’n rekord is vir een seisoen.

Dr. Rasmussen het byvoorbeeld al veertig maal oor die baai geseil. Waarskynlik het hy meer in hierdie streke gereis as enige ander lewende man. Hy het my vertel dat dit hom een slag ses weke geneem het om net oor Melville-Baai te kom, daar sy skip in ’n groot massa dryfys vasgevries was en sommer rondgedryf het. Hoe gelukkig was ons dus nie om driemaal oor te kom nie feitlik heeltemal sonder ys.

[101]