[Inhoud]
HOOFSTUK IX

HOOFSTUK IX

ONS EERSTE NARWAL

Nadat ons Melville-Baai oorgesteek het sonder om by Kaap York aan te gaan, het ons in Thule aangekom. Met die opkom, aan die ander kant van Melville-Baai, het hulle my uit een halt gekul. Dit was een oggend baie vroeg toe ek nog geslaap het, en hulle het my nie wakker gemaak nie.

Toe die bote uitkom om die Morrissey te ontmoet het die manne hulle hoede geswaai om ons te groet. Maar toe hulle nader kom en dr. Rasmussen aan boord sien, begin hulle te skreeu en te juig. Die man wat hulle klein motorboot gedryf het, was so opgewonde, dat hy skoon vergeet om die motor tot stilstand te bring, met die gevolg dat sy boot in volle [102]vaart reguit teen die sy van ons skip loop en so hard stamp dat al die mense in sy boot omval.

Ons het Rasmussen na sy handelstasie gebring nadat hy vyf jaar laaste daar gewees het, en Pa het onderneem om die vosvelle wat hulle gedurende die winter van die Eskimo’s gehandel het, vir hom saam te neem na New-York. Mnr. Rasmussen se bestuurder, wat ook sy neef was, het die belofte gekry om vanjaar te mag teruggaan na Denemarke, nadat hy ses jaar aanmekaar in Thule gewees het. ’n Appel wat Pa vir hom gegee het, toe ons vir die eerste maal daar was, was die eerste wat hy in al die tyd geëet het.

Van Thule het ons ook ’n Eskimo-meisie Nette saamgevat wat haar opleiding as verpleegster begin het en nou na Denemarke teruggaan om haar kursus te voltooi; sy sal by mevr. Rasmussen tuisgaan.

Hans Nielsen is Rasmussen se bestuurder, en hy is natuurlik baie in sy skik oor die geleentheid [103]om weg te kom. Hy het sy eie kajak op die Morrissey gebring om ons met die jag te kan help.

Terwyl ons in Thule was, het Pa, Dan, Bob Peary en ek een oggend vroeg met twee Eskimo’s in die motorboot uitgegaan om te sien of ons seehonde kon kry. Ons het omtrent vyf myl die fjord opgegaan tot aan die voet van die gletser, en het omtrent ses gesien, maar ons kon nie naby genoeg kom om hulle te skiet nie. Ons het ’n paar skote op ’n afstand geskiet, maar het niks gemaak nie.

Toe moes ons teruggaan, want sodra as Nielsen en Nette gereed was, sou ons na Walvis-Sond vertrek. Daardie oggend, terwyl hulle besig was om te pak, het ons voor mnr. Nielsen se huis ’n dansie gehad. Kel het lewende beelde van die geselskap gemaak. Ons het ’n emmer lekkers daar gehad, en toe die omgestuur is, het die Eskimo’s albei hande ingesteek. Maar hierdie gawe noordelike volkie is regtig uiters beleefd en sal nooit iets vat eer hulle genooi [104]word nie. En ek glo nie dat hulle ooit steel nie. Dit was baie interessant om van mnr. Rasmussen te verneem dat die Eskimo-taal g’n vloekwoorde besit nie. Hulle gebruik eenvoudig g’n slegte taal nie. Die ergste wat mens vir ’n man kan sê, is dat hy ’n leuenaar is of ’n slegte jagter.

Ons het van Thule ’n klomp Eskimo’s saamgeneem, waaronder ’n ouerige man wat saam met Peary gegaan het en baie siek was. Hy het aan kapt. Bob gesê: „Ek verlang terug na die dae van Pearyarksjua, toe ons volop kos en klere gehad het.”

Die kaptein het hom natuurlik goed geken en het nog vertel dat hy omtrent die sterkste was van die hele lot Eskimo’s wat hulle gehad het, en ook een van die beste jagters. Sy naam is Aangmalokto. Dr. Heinbecker het vir hom ’n bietjie medisyne gegee en die skipper het hom tee en brood met konfyt gegee, maar hy kon dit nie eers eet nie. Dit was baie treurig. [105]

Thule self lê aan die punt van Noordster-Baai op ’n rotsagtige stuk strand in die vorm van ’n halwermaan. Aan die kant wat naaste aan die oseaan is, is daar aan die een kant ’n groot tafelkop met steil kranse bo wat ondertoe eweredig skuins afloop en talus-hellinge vorm. Dit lyk baie nes ’n mesa of hoogvlakte in die weste van ons land (V. S. A.). Hierdie eienaardige berg se naam is Omoenoeï. Daar is vier raamwerk-geboue, die noordelikste handelstasie in die wêreld. En omtrent ’n myl van daar lê die Eskimo-dorp, bestaande uit ’n aantal verstrooide toepiks, die velhutte waarin hulle in die somer woon, met die kliphutte vir die winter langs die kus in die nabyheid. Ek reken daar woon omtrent veertig mense.

Rasmussen hou hierdie handelstasie sedert 1910 aan die gang. Dit is bedoel om hierdie noordelike Eskimo’s, die Smith-Sond-stam, te help. Hulle is die noordelikste stam in die wêreld. Voor daardie tyd is hulle nooit in die geleentheid gewees om gereeld hulle benodighede [106]te koop of hulle velle van die hand te sit nie, behalwe so nou en daan as walvisvaarders of ontdekkingsreisigers daar gekom het. Voordat Peary omtrent dertig jaar gelede begin het, het hulle g’n geweers of staal of iets dergeliks gehad nie, behalwe wat hulle self gemaak of gevind het. Toe het hulle pylpunte van stukkies meteorsteen gemaak en vuurklip wat hulle opgetel het, gebruik om vuur te maak. Omtrent al hulle wapens en messe was van ivoor gemaak. Die slagtande van ’n walrus is uitstekend daarvoor.

Selfs vandag besit hulle baie min in vergelyking met die armste volk wat ons in die wêreld ken. Maar hulle is gesond en gelukkig en baie goedgeaard en goedhartig. Hulle is natuurlike, uitstekende jagters. Dit is absoluut noodsaaklik as hulle aan die lewe wil bly.

In Thule vorm Rasmussen en die Deense komitee wat met hom die saak dryf, as-’t-ware ’n koninkryk. Pa noem dit ’n verlige diktatorskap, waarby hy bedoel dat Rasmussen feitlik [107]koning is, maar alles vir die beswil van die mense reël. Hulle het hul eie geld, drie soorte muntstukke van verskillende waarde met ’n gaatjie in die middel. Die handelstasie betaal hulle daarmee vir hul bont, en die Eskimo’s gebruik dit weer om goed in die winkel te koop.

Harry Raven, die Dierkundige, leer my om die kopbeen van ’n Narwal skoon te maak

Harry Raven, die Dierkundige, leer my om die kopbeen van ’n Narwal skoon te maak

Die goedere word baie goedkoop verkoop, en volgens mnr. Rasmussen is die bedoeling om die handelstasie selfbetalend te maak. Soos ek in ’n vorige hoofstuk gesê het, het ons baie goedere van New-York saamgebring. En nou neem ons die vosvelle, die winter se opbrings van die jag, saam terug.

Vroeg in die agtermiddag van 15 Augustus het ons Thule verlaat.

Die volgende oggend, toe ek op dek kom, was ons by Northumberland-Eiland en kon ek die eienste plek sien waar ons skipbreuk gely het en so amper ’n hele ruk moes oorbly.

Ek was op die dwarshoute op die uitkyk na walrusse en gewaar toe ’n paar seeleeus en [108]twee wat moontlik walrusse kon wees. Toe ek begin koud kry, neem Bob Peary my plek in. Kort daarna het ons die skip aangehou weens die mis, en omtrent algar het ingekruip om te slaap, want met die voortdurende sonskyn, lyk dit, kon ons nie genoeg tyd kry om te slaap nie.

Besig aan die Geraamte van ’n Narwal

Besig aan die Geraamte van ’n Narwal

Ek was onder in die hoofkajuit toe mnr. Nielsen inkom en aan Carl, wat Deens praat, sê dat daar ’n dooie wit walvis in die nabyheid was. Ek gaan toe na Pa en vertel hom daarvan. Binne ’n paar minute was daar ’n boot in die water en was hulle op pad om hom te kry. Toe hulle die drywende liggaam bereik, skreeu hulle dat dit ’n wyfies-narwal was en nie ’n wit walvis nie.

Hulle sleep haar toe aan en ons sit twee of drie takels aan haar en begin haar op te hys. Sy was omtrent vyftien voet lank en het heel moontlik oor ’n ton geweeg. Sy was al ’n hele ruk dood en het taamlik sleg geruik, dus het ons besluit om haar oop te sny, terwyl sy langs die skip hang, en die binnegoed uit te haal en [109]’n klompie van haar spek af te sny. Die binnenste vleis was nog goed en bruikbaar.

Ons het ’n roeiboot langs die skip vasgemaak en Harry Raven en Fred het daarin geklim en die ding stukkend gesny met hulle oliejasse aan, want dit was ’n morsige werk. In die narwal het Harry ’n kleintjie gevind. Hy was ook nie te klein nie, maar was vyf voet sewe duim lank. Hulle het hom sorgvuldig gebalsem, d.w.s. Harry het ’n soort vloeistof in sy are gepomp wat verhinder dat die vleis sal sleg word. Hy moet na die Museum geneem word presies nes hy is. Ek dink ’n kleintjie van ’n narwal is ’n skaars eksemplaar, en ons hoop algar ons sal hierdie een in ’n goeie toestand kan aflewer.

[110]