„Daar word niks van hom nie,” het die skoolmeester gesê, toe hy met Jan se pa oor Jan gepraat het. „Hy is alte onnosel.”
„Maar daarom stuur ek hom mos skool-toe,” sê Jan se pa, en hy krap agter sy oor, soos sy gewoonte was as hy vererg was.
„Ek kan niks met hom uitrig nie,” sê die skoolmeester. „Hy het dit tot tweemaal tien gebring, maar verder kom hy nie. Verlede week was die inspekteur hier, en ek het my amper moes skaam. Hy kon die eenvoudigste vrae nie beantwoord nie!”
„Maar hoekom het hulle hom dan inspekteur gemaak, as hy so dom is?” vra Jan se pa.
„Nee, ek bedoel nie die inspekteur nie,” sê die skoolmeester, nou ook ’n bietjie vererg, omdat hy geweet het dat hy fout gemaak het. „Ons praat mos van jou seun.”
„Ek dink, meester,” sê Jan se pa, „dat hy maar lui is. Hy is nie so onnosel soos jy dink nie.”
„Dis nie net luiheid nie,” sê die skoolmeester, „ofskoon ek toegee dat hy ook lui is. Hy het al genoeg pakgekry, maar daar is niks aan te doen nie. Hy kan eenvoudig nie leer nie. Oom moet hom maar uit die skool neem.”
„Nouja,” sug Jan se pa. „As hy dan niks kan uitrig nie, sal ek hom maar uitneem. Stuur hom maar vanaand terug, en ek sal met hom afreken.”
Jan, wat ’n kosleerling was, het dié aand huis-toe gekom, en sy pa het met hom afgereken. Die ou was [116]eers van plan om sy sambok te gebruik, maar hy het daarvan afgesien, want hy het gedink, as Jan werklik onnosel is dan sou dit tog nie regverdig wees om hom te piets nie.
„Kyk, seun,” sê hy, so bedaard hy maar kan, „die meester vertel vir my dat jy baie onnosel is. Dit is nie iets wat in my famielie is nie, onnoselheid. My oupa was prokureur, en jou ma se broer is advokaat, en my swaer se oom is parlementslid, so kan jy nie sê dat dit iets is wat jy van ons geërf het nie. Maar ek sien tog in dat jy nie so skrander as Gert is nie. Hy is nog maar tien en hy is al in die vierde standerd, en jy is al vyftien en jy is maar nog in die twede standerd. Ek dink jy moet maar iets anders probeer. Dit kos geld om jou op skool te hou, en ek het nie te veel daarvan om sommer so weg te gooi nie.”
„Ja Pa,” sê Jan, wat altyd ’n gehoorsame seun was.
„Nou goed,” sê sy pa. „môre moet jy na die dorp gaan. Ek het met Van As gepraat, en hy sal jou aanneem as handlanger in sy moterkarwinkel. Jy kan dan leer om ’n moterkar te dryf, en mettertyd daaruit ’n broodwinning verdien.”
„Ja Pa,” sê Jan.
„Jy sal by Van As loseer,” sê sy pa, „en ek sal kyk dat jy klere het. Vir die eerste paar maande kry jy nie loon nie, maar later sal hy jou iets gee, as jy dit werd is.”
„Ja Pa,” sê Jan weer.
„En ek hoop jy sal jou goed gedra,” gaan sy vader voort. „Jy is tog nie so onnosel soos die meester sê nie, en die werk sal lig genoeg wees. Later sal ons sien wat uit jou te make is.”
„Ja Pa,” sê Jan, en hy kyk op sy skoene.
Die volgende môre het Jan dorp-toe gegaan, en die [117]eerste ding wat Van As hom gegee het om te doen was om ’n moterkar skoon te maak.
„Was daardie kar af,” sê die baas van die winkel. „Neem daardie slang en was hom goed, en dan vryf jy hom met die seemsleer-doek totdat hy blink.”
„Ja Omie,” sê Jan, en hy gaan na die agterplaas waar die kar staan, want hy was ’n gehoorsame seun.
Maar waar hy ook soek, hy kon nie ’n slang vind nie.
„Dis nou snaaks dat ’n mens ’n slang moet gebruik om ’n kar te was,” sê hy. „Ek weet ook nie waar ek een kan kry nie. Ek sal maar in die veld loop soek.”
Hy het toe van die agterplaas gegaan en buite op die veld, buitekant die dorp gaan soek. Dit was nie lank nie, of hy sien ’n pofadder onder ’n kraalbos. Die pofadder was aan slaap, want hy het net die môre ’n streepmuis ingesluk, en die beste manier om dit te verteer is natuurlik om daarop te gaan slaap. Dit was dus vir hom baie onaangenaam toe Jan hom met ’n stok wakker gemaak het. „Wat op aarde wil jy nou van my hê?” sê die pofadder. „As jy my nie met rus laat nie, dan byt ek jou in jou hakskeen.”
„Ag nee a,” sê Jan. „Ek het jou nodig om meneer Van As se motorkar te was. Hy het mos gesê ek moet die slang gebruik.”
„Daarvan het ek nog nooit in my lewe gehoor nie,” sê die pofadder, wat regtig verwonder was. „Maar as jy my werklik nodig het, sal ek saamgaan en vir jou help. ’n Mens moet altyd hulpvaardig wees, selfs vir sy vyande.”
„Ja,” sê Jan.
„Maar dan moet jy vir my dra,” sê die slang. „Ek is te vol om agter jou aan te seil.”
„Jy moenie vir my byt nie,” sê Jan, wat ’n bietjie [118]bang was, en liewerster ’n dooi slang wou geneem het as ’n lewendige.
„Nee,” sê die pofadder, „dit sal ek nie doen nie, as jy my nie seermaak nie. Tel my op by my stert en dra my versigtig sodat my kop altyd net bo die grond is. Ek hou van die sand.”
Jan het toe die pofadder versigtig opgetel en hom gedra aan sy stert. Toe hy in die agterplaas kom, was Van As net daar om te sien hoe ver die kar-skoonmaak gevorder het. Toe hy Jan sien aankom met die slang, spring hy boöp die kar en gaan tekeer.
„Maak daardie vervlakste slang dood,” skree hy. „’n Groot pofadder! Het jy in jou lewe soiets gesien? En hy bring dit nog hier! Maak die ding dood!”
„Maar Omie het mos gesê ek moet die kar skoonmaak met die slang,” sê Jan.
„Magtig, maar die vent is onnosel!” skree Van As. „Die slang is mos daardie ding waardeur jy die water pomp. Maak die ding dood.…”
Jan was so verbouereerd dat hy die pofadder losgelaat het, en die slang het dadelik weggeseil, want hy was amper net so bang soos die baas van die moterkar.
„Nee, nou weet ek dat jy werklik onnosel is,” sê Van As. „Dis te gevaarlik om jou hierso te gebruik, maar ek sal jou nog ’n kans gee. Loop gooi nat die perskebome daar in die boomgaard. Dit kan jy tenminste doen sonder om fout te maak.”
Jan het mismoedig weggestap na die boomgaard, maar hy kon nie sien waar die water was nie. Hy het toe maar aan een van die Kaffers gevra, en die het hom gesê dat die water in die blikke in die winkel was, want die Kaffer het gedink dat hy die water vir die moterkarbatterye wou hê. Jan het na die winkel gegaan. Dit was juis die middaguur, en al die mense was weg om te [119]gaan eet. Jan het orals rondgesnuffel, maar water kon hy nie kry nie. Daar was egter baie blikke, en hy het een daarvan oopgemaak en gesien dat dit vol met iets was wat net soos water gelyk het. Dit het wel anders geruik, maar daaraan het hy hom nie gesteur nie. Hy het ’n dosyn van die blikke, één vir één, na die boomgaard gedra, en die water uitgegooi onder die perskebome. Net toe hy besig was om die laaste blik uit te gooi, kom Van As in die boomgaard. Sodra hy sien wat Jan doen, gaan hy vreeslik te keer.
„Jou dit en dat,” skree hy, „dis mos my petrol wat jy daar vermors! Hemel en aarde, wat moveer jou om soiets te doen.…”
„Maar Omie het mos gesê dat ek die perskebome moet nat maak,” sê Jan. „Dis die water wat ek in die winkel gevind het.…”
„Twintig pond na sy grootjie!” sê Van As, woedend. „Jou pa sal my daarvoor moet betaal, dit sê ek vir jou. En wat van die perskebome? As hulle doodgaan dan eis ek skadevergoeding, so waar as my naam Van As is, en al moet ek jou pa dagvaar in die rondgaande hof. Maar jy is nou eenmaal te gevaarlik. Loop, ek wil niks meer met jou te doen hê nie!”
Nog mismoediger as tevore het Jan huis-toe gestap. Die plaas was ’n goeie drie uur van die dorp, en hy het geweet hy sou nie vóór sonsondergang daar aankom nie, so het hy maar stadig geloop, veral omdat hy gedink het dat sy pa nie in sy skik sou wees om hom terug te sien kom nie.
Op pad het hy ’n koddige kêrel ontmoet. Hy het eers gedink dat die kêrel ’n smous was, want hy had ’n pak op sy rug, maar toe hy naby kom, sien hy dat die pak net maar ’n veerbed was.
„Goeie middag,” sê die kêrel. „Kan jy my nie ’n [120]bietjie met hierdie veerbed help nie? Ek sal bly wees.”
„Ja,” sê Jan, „ek kan dit vir Oom dra. Waar gaan Oom na toe?”
„So-te-sê, nêrens nie,” antwoord die man. „Ek is hier alleenlik om te kyk hoe die wêreld lyk.”
„Maar waarom dra Oom dan die veerbed?” vra Jan, wat nou en dan nuuskierig was, soos elke gesonde seun is.
„Om op te slaap as ek die wêreld wil bekyk,” sê die man. „‚’n Veerbed,’ so het my oorlede ma gesê, ‚is altyd die beste om op te slaap.’ ”
Jan het gedink dat dit tog wonderlik is dat ’n mens sy beddegoed met hom ronddra, maar hy was te beleef om meer aanmerkings te maak. Hy het dus maar voortgestap, en gedink wat hy aan sy pa sou sê as hy tuiskom.
„Dit skyn vir my,” sê die kêrel, wat nou besig was om biltong te sny, waarvan hy nou en dan ’n stukkie vir Jan gegee het, „dit skyn vir my dat jy nie, so-te-sê, ’n alte skrander seun is nie. Ek oordeel maar na jou uiterlike. Sou jy my miskien kan sê hoeveel ag-maal elf is?”
„Ek is nog maar by tienmaal twee,” antwoord Jan, wat ’n bietjie skaam gekyk het.
„So!” sê die man. „Nou tweemaal tien is ook al goed. Wat was was voordat was was was?”
„Dit weet ek,” sê Jan, bly om iets te hê wat hy kon beantwoord. „Dit was mos iets wat die bye uit die blomme kry.”
„Nie alte ver raak nie,” sê die man. „En van raak gepraat, as jy ’n bok skiet wat wil jy liewers, dat jy amper mis of amper raak skiet?”
„Amper raa—” sê Jan, en toe bedink hy hom en sê vinnig: „Nee, ek wou sê amper mis, Omie.” [121]
„Dit kom daarop aan of jy die arme dier wou kwes,” sê die man. „En as jou oom se broer nie jou oom is nie, wat is hy dan?”
„My oom se broer nie my oom is nie,” sê Jan, „maar my oom het mos maar net één broer, Oom.”
„Ja, en as hy nie jou oom is nie?” vra die kêrel, en gee hom nog ’n stukkie biltong.
„Hy’s mos my pa,” sê Jan, wat ’n bietjie in die war was.
„Dis heeltemal moontlik,” sê die kêrel, met ’n glimlag. „En as ’n seuntjie honderd nartjies het, en vyftig appelkose, en dertig tameletjies, en twintig stukke koek en hy eet die helfte daarvan, wat sal hy dan hê?”
„Dan is hy mos baie gulsig,” sê Jan. „Maskas, Oom, glo mos buikpyn.”
„Dit glo ek ook,” sê die kêrel. „En nou ons van buikpyn praat, as jy ’n gat deur die buikplank van ’n wa boor, boor jy dan ondertoe of boontoe?”
„Ondertoe, Oom,” sê Jan.
„Daarvan is ek nie so seker nie,” sê die kêrel. „Maar ons kan dit maar laat bly. Hoe oud is jy?”
„Vyftien jaar, Omie,” sê Jan.
„Nou ja,” sê die kêrel, „Sê veertien. Veertien bo twaalf—dit gee mos nul punt ag-vyf. Taamlik goed. So-te-sê, nie alte sleg nie. Ek sou liewerster iemand geneem het wat oor één was, maar dié soort seuns is algar op skool, en dis moeilik om hulle in die hande te kry, veral nou dat daar vry onderwys is. Dit bederf ’n hele lot van hulle, nie waar nie?”
„Ja, Omie,” sê Jan, wat nie geweet het wat die kêrel bedoel nie.
„Nou weer, nouja,” sê die kêrel. „Kyk, as jy by my wil kom werk sal ek jou agtien pond min sewentien gee elke jaar, en soveel te ete as wat jy maar kan eet, [122]en klere bowedien, en vakansie elke dag as jy niks te doen het nie.”
„Watter werk, Omie,” vra Jan.
„Dit hang af van wat jy eintlik kan doen,” sê die kêrel. „My plan was om ’n fabriek op te rig, êrens in die Karro, om paddavissies te speen. Maar daar is groot gebrek aan water daar, hoor ek, en ek het nou besluit om kieserslyste op bakstene te druk. Daar steek geld in, seun. Jy sal met die kleitrap moet help.”
„Ja, Omie,” sê Jan.
„Nou kom dan maar mee,” sê die kêrel, en hy slaan ’n sypaadjie in, wat hulle weldra na ’n spelonk in die berg gebring het. Jan, wat hier die wêreld goed geken het, was ’n bietjie verbaas oor die spelonk, want hy het nie geweet dat daar soiets in die omtrek was nie. Binnekant was dit nog mooier as buitekant, want die mure van die spelonk was ingelê met vuurvliegies, wat ’n skitterende lig gegee het, en daar was honderde katte in die spelonk, wat algar rondom die kêrel kom krioel het, en algar so baie gemiaau het dat dit amper ’n naarheid was om na hulle te luister.
„Jy sal na die katte moet kyk,” sê die kêrel. „Daardie grootste mies is baas, en jy sal hom baie versigtig moet behandel, want hy is geld werd. So-te-sê diamante, daardie dier. Sy naam is Enkelvoud-meervoud. Daardie swart ene se naam is Rombus-winkelhaak, en jy moenie die name verwissel nie, anders kom daar onraad.”
Die aand het Jan op die veerbed geslaap, nadat hy ’n heerlike aandete geniet het. Dit was ’n bredie wat so lekker gesmaak het dat hy driemaal daarvan gevra het. Hy het nie geweet dat dit van paddas en streepmuise gemaak was nie, en wat ’n mens nie weet nie maak hom ook nie heet nie. [123]
Die volgende môre het die kêrel gesê:
„Ek gaan nou weer die wêreld bekyk. Bly jy nou hier en voer die katte. Jy sal genoeg muise vang hier in die spelonk. As jy ’n muis wil hê, hoef jy net te sê: ‚Muis, kom laat die kat jou opvreet, en die muis sal dadelik na jou kom.’”
Toe die kêrel weg was, het Jan die woorde gesê, en dadelik was daar ’n groot muis, wat Enkelvoud-meervoud sommer opgesnap het. So gou as Jan die woorde kon uitspreek, het die muise gekom, en die katte het smaaklik ge-eet. Enkelvoud-meervoud—wat ons in die toekoms maar Em sal noem—en Rombus-winkelhaak—wat ons vir verkorting maar Row sal noem—het die meeste ge-eet, en Jan was moeg om muise te roep, want die katte se aptyt was baie groot. Eindelik het hy so moeg geword dat hy gesê het:
„Nou het julle genoeg. Ek gaan nou slaap.”
Maar Em en Row het so ’n lawaai opgeskop dat Jan weer ’n paar honderd muise geroep het. Toe het hy so vererg geword, omdat die katte nog aangehou het om meer muise te kry, dat hy Em by die stert en Row by die nek beet gepak het en hulle altwee teen die muur van die spelonk geslinger het. En sodra hy dit gedoen het, het al die katte sommer verdwyn.
Die aand toe die kêrel huis-toe kom was sy eerste vraag, „En waar is die katte?”
„Oom,” sê Jan, „die goed het my so gepla dat ek hulle weggeja het.”
„Dis ongelukkig vir jou,” sê die kêrel, „want sonder katte kan ek nie klaarkom nie.” En die kêrel roer Jan se hare aan met sy hand, en Jan verander sommer in ’n groot kat. Dit was baie onplesierig, en hy het nie geweet wat om met sy stert uit te rig nie, want die ding het altyd tussen sy bene gekom maar hy kon daar niks aan [124]doen nie. Hy het mos nie geweet dat die kêrel een van die slimste towenaars was nie.
Die kêrel het hom nie verder aan Jan gestoor nie, maar het gaan slaap op sy veerbed, en Jan het bly staan, en met sy stert gepeuter en probeer hardloop. Ofskoon die stert hom baie gehinder het, kon hy tog mooi hardloop, en hy het die spelonk uitgehol in die rigting van sy pa se plaas.
Toe hy daar aankom was dit al amper dag. Sy pa was net besig om vroeë môrekoffie te maak in die kombuis en Jan het dadelik by die venster ingespring.
„Waar kom die kat nou vandaan?” sê sy pa. „Voertsek, kat.”
Jan het gemiaau, want hy kon nie anders praat nie, maar sy pa het natuurlik nie verstaan wat hy gesê het nie, en het eindelik die besem geneem en hom uit die kombuis verwilder. Toe het Jan na die voorhuis gegaan en onder die tafel gaan lê. Na ’n rukkie het Stomp, die hond, binnegekom, en dadelik vir hom gaan blaf. Jan het weer gemiaau, en tot sy verbasing het die hond stil gestaan en hom bekyk, en toe met hom gepraat. En weer tot sy verbasing het Jan gevind dat hy Stomp se taal goed kon verstaan.
„Watter soort kat is jy nou?” vra Stomp. „Ek ken al die katte in die buurt, maar vir jou ken ek nie.”
„Ek is nie ’n kat nie,” miaau Jan. „Ek is Jan. Ek het ’n ongeluk gehad, anders was ek nog Jan.”
„Jan die onnosele seun,” sê Stomp, en hy skater uit van die lag. „Nou dit is alte koddig. Nou kan ek mos vir jou ja oor die werf.…”
„Dit verbeel jy jou,” miaau Jan. „Ek sal dit nie toelaat dat ’n hond vir my ja nie.”
„Ons sal sien,” sê Stomp, en hy lag weer geniepsig. „Jan het my baie geja oor die werf toe hy hier was, en [125]nou sal ek hom daarvoor betaal. Die oubaas is mos nie gedien met vreemde katte op die plaas nie. Hulle steel net.”
„Ek sal jou krap as jy dit probeer,” sê Jan. „En ek is nie bang vir die oubaas nie; hy is mos my pa.”
Net op die oomblik het Jan se pa in die kamer gekom. „Daar is die gedit en datte kat weer,” sê hy, vererg. „Stomp, ja hom tog uit. Sa, Stomp!”
Stomp het weer begin blaf, en so na aan Jan gekom dat Jan onder uit die tafel weggespring het, die deur uit. Hy was baie kwaad, maar hy kon niks teen die hond doen nie, en hy moes toe maar die groot eikeboom opklim waar die hond hom nie kon bereik nie. Daar het hy mismoedig gesit, en sy stert was baie lastig vir hom, want dit het altyd tussen sy bene gekruip, en hy het gedink dat dit hom sou laat afval van die boom. Maar hy het darem daarin geslaag om sy balans te behou, en ofskoon dit koud was om daar in die nag op die boom te sit—want hy moes die hele dag en die volgende nag daar sit—het hy maar uitgehou. Nou en dan het hy hard gemiaau, wat eintlik was „Ek wens tog maar dat ek weer in ’n seun kan verander.”
Ondertussen het Stomp, die hond, met die hoenderhaan gaan praat.
„Verbeel jou,” sê Stomp, „daardie onnosele Jan, die oubaas se seun, sit daar in die bloekomboom. Hy is nou ’n kat.”
„Skei uit met jou gekskeer,” sê die hoenderhaan. „Daar glo ek niks van nie.”
„Dis waarlik waar,” sê Stomp. „Jy kan hom daar gaan sien. Dis om oor te lag. Onthou jy nog hoe hy vir ons geja het oor die werf.…”
„Vir jou moet jy sê,” antwoord die hoenderhaan. [126]„Geen seun sal my ja nie, óf oor die werf óf oor iets anders. Ek sou daar hartlik voor bedank.”
„Jy spog altyd,” sê Stomp.
„Nee, ek praat die waarheid,” sê die hoenderhaan. „Maar … sê my nou eers, is dit werklik waar wat jy daar sê?”
„Ja,” sê Stomp, „ek kan dit sweer.”
„Nou dan is dit baie ernstig,” sê die hoenderhaan. „Daar is ’n gesegde dat as die oubaas se seun in ’n kat verander, dan is die end van die wêreld naby. Dan word ons algar glo opgeblaas of soiets. Dit staan my nie aan nie.”
„Wat is daar dan aan te doen?” vra Stomp.
„Net een ding,” antwoord die hoenderhaan. „Dit het ek van my oorlede pa gehoor. Ons moet die seun weer verander kry; hoe onnosel hy ook as seun is, hy is tog minder gevaarlik as soos hy nou is. Loop soek daardie towenaar, want dit moet ’n towenaar wees, en vra hom om die seun weer tot seun te maak.”
Stomp was nie in sy skik nie, maar hy was bang dat as die wêreld vergaan hy ook miskien sou opblaas, en dus het hy maar toegestem. Hy het nog dieselfde nag na die spelonk geloop, want hy het geweet waar dit was, en wie die towenaar was. En hy het so hard gesoebat dat die towenaar gesê het, „Ja, ek sal bom weer verander. My katte is terug, en ek het hulle gepaai, sodat ek eintlik niks teen hom het nie. Maar hy is darem maar ’n onnosele seun.”
Hoe die towenaar dit geprakseer het, weet ek nie, maar die volgende môre het Jan se pa vir Jan onder die bloekomboom gevind waar hy aan slaap was.
„Daar word tog niks van jou nie,” sê Jan se pa. „Jy bly maar onnosel.”
En hy het vir Jan na die uitlê-veld gestuur met die skape.