Ou Abdoel se winkel was ’n wonderlike plek.
Dit was klein genoeg en die toonbank het die meeste ruimte ingeneem. Agter die toonbank was daar net ’n nou gangetjie en jy moes jou omdraai om nie vas teen die rakke te loop nie. Tot bo aan die dak was die rakke en algar was belaai met allerhande soorte goed. Daar was voersis, en geruit, en sy, en geblomde satyn, en kruisbande gestik met rooi garing, en pakkies—orals, orals. Op die onderste rakke was dose en kiste, en rondom die mure was nog groter dose en nog groter kiste. Sommige van die kiste was van kanferhout en op die rakke, tussen die negosie, was harde kanferbolletjies, om die motte uit die wolgoed te hou.
Maar dit was die toonbank wat die interessantste van alles was.
Op die toonbank was daar skottels met gekonfyte vye en waterlemoenkonfyt, suurvye en meebos, en, in die eerste somermaande, rooi duinbessies wat van Groenpunt gekom het. Daar was stapels gedroogde mootjies, en bokkoms, en ’n kom ingelegde vis, wat ou Abdoel se vrou daar bo in Chiappinistraat gemaak het. En daar was klappers, en piesangs, en, ook in die eerste somermaande, appelkose en vroeë perskes, en later spanspekke. En kraaltjies in pierinkies, en allerhande soorte ander goed, wat ’n mens nie kan opnoem nie, want dit sou te lank neem.
En rondom die muur was daar blikkies met speserye—allerhande soorte. As ou Abdoel een van die blikkies [7]oopgemaak het, dan kon jy allerhande soorte geure in die winkeltjie ruik—kaneel en naeltjies, en kalmoes, en Turkse tabak, en kassia, mirre, moskaatneut, rooi en wit peper, gemmer, en Smirna-gom, en balsem van Alexandrië, stekeltee, roosmaryn wat gedroë was, stieraks, en borrie, en saffraan, en bergamot, en bowe alles die sterk geur van kanfer. En as ou Abdoel ’n klein botteltjie oopgemaak het, dan was die ruik nog sterker, nie alte soet nie, en nie alte erg nie, maar tog so sterk dat jou oë amper daarvan getraan het. En as hy nog ’n kleiner botteltjie, wat ’n glas stoppertjie gehad het, en wat in sy gedraai was, rooi sy, met ’n geel stukkie lak daarop, oopgemaak het, dan was die ruik so sterk dat jy moes nies.
In die eerste flessie was opodeldok, wat hard soos lak was, en in die twede was roseolie, wat so dik soos heuning was.
„Dit kom uit Persië, Basie,” het ou Abdoel gesê, ná hy sy hande aan sy rooi Slamaaiermussie afgevryf het. „Duisende, duisende rose om één druppeltjie olie te maak. Stapels rose, Basie, en daarom kos dit so baie geld.”
„Tjeld,” het hy eintlik gesê, want hy het amper gepraat soos ’n Jood.
„Hoeveel dan, die botteltjie, Abdoel?”
„Meer as wat jy her, Basie. Meer as hier op die toonbank lê.”
„Ag nee a, Abdoel.”
„Ek lieg mos nie, Basie. Sewe pond vyftien sjielings het hierdie botteltjie gekos, en ek verkoop hom sikpens vir ’n smeertjie. Dan het ek trippens wins op elke smeertjie, Basie.”
„As dit kalifa-tyd is,” sê outa Abdoel, „dan kom die vroumense my vra vir smeerseltjies, en dan is my [8]klandiesie groot. Maar hulle gebruik nie baie nie. Nie soos in my land nie, Basie.”
„Waar is jou eie land, Abdoel?”
„Semarang, my Basie. Daar ver in die Ooste, waar die weer altyd in die namiddae opsteek en waar dit altyd reën. Daarvandaan kom ek, maar ek is al lankal hierso, en hierso sal ek bly tot ek sterwe, my Basie. Ek is mos hadj.”
„Wat is dit, Abdoel?”
„Dis een wat na Mekka gewees het, Basie. Ek het pelgrimstog gemaak na Mekka. Ek het in Jedda gesien waar Eva begrawe lê—’n groot graf, baie groter as dié wat agter op die Leeukop staan of dié wat by die strand is. Dertig voet lank. En ek was deur die woestyn, waar die trein glo nou loop. In my tyd was daar nog nie ’n trein nie. Ons moes te voet loop; dae lank, Basie. Ek het die groot swart klip van die Kaäba gesoen, en uit die put van Sem-Sem gedrink. My vrou het nog van die water wat ons saamgebring het. Ek bewaar dit tot ek doodgaan. Dan sal hulle daarvan op my lyk sprinkel, sodat die bose geeste nie vir my aanraak nie.”
„Vertel ons ’n storie, Abdoel.”
„Watter storie, Basie? Van hierdie land, of van ’n ander land? Julle ken mos ou Abdoel se stories, net soos julle sy waterlemoenkonfyt ken.”
„Ja, Abdoel, en altwee is lekker.”
„Neem dan gerus nog ’n stukkie, Basie. Wag, ek moet eers die meisiekind help—trippens borriekruie, nè? Hierso .… en waar’s die trippens? Goed. Daarom dra ek groen vir my kopdoek—tulband is eintlik die naam, Basie. En julle wil ’n storie hê? Goed. Daar sal nou tog nie baie klandiesie wees nie. Dit word ook sleg in dié dae. Die mense koop nie [9]soos vroeër nie. Hulle wil alles verniet hê en daar is geen wins nie.…”
„Ag ons weet jy’s ryk, Abdoel. Skatryk! Pa sê jy het meer geld in die bank as menige winkelier.…”
„Nie in die bank nie. Ou Abdoel vertrou nie die banke nie. En waarom sou ek nie iets vir my ou dag spaar nie? Soos die profeet sê … maar julle weet nie van die profeet nie, hè?”
„’n Storie, outa Abdoel, toe tog.”
„Nouja. Sit daar op die sak. Dis ertappels, maar dis sag genoeg en dan kan julle nie so baie van my vye opvreet nie. Daar was vanselewe ’n koning.…”
„Waar, Abdoel, waar?”
„In ’n land ver in die Ooste. En sy naam was Abdoel.…”
„Moenie glo nie! Dis mos nie ’n koning se naam nie.”
„Wrintig, dit is. Al die groot konings in daardie land heet Abdoel. En hy was ’n groot koning en baie wreed. Een dag het hy uitgery en hy het voor die stadspoort gekom, want sy stad was groot en omring van ’n muur en daar was poorte in die muur, en by een van die poorte het hy uitgery. Daar was ’n hele trop van sy edelmanne om hom, algar te perd, en toe hulle by die poort kom, was daar ’n gedoente.…”
„Hoekoem, Abdoel, hoekom?”
„Dit vertel ek mos vir julle. Bly tog stil, anders kan ou Abdoel nie vir julle vertel nie. Die gedoente was omdat daar ’n kaffer.…”
„Ag nee a, Abdoel, daar’s mos nie Kaffers in daardie land nie!”
„’n Kaffer noem ons een wat nie glo wat ons glo nie. Hy glo nie aan die Profeet nie en in die koning se stad het algar aan die Profeet geglo. Maar dié een [10]was ongelowig en astrant. Hy het een van die stadsburgers in die gesig gespuug en dit was ’n groot belediging. Daarom het hulle hom tot die dood veroordeel en hulle wou hom stenig net toe die koning verbyry. Die koning het dit gesien, want die kaffer het voor sy perd kom lê en genade gesmeek. ‚Ja,’ sê die koning, ‚dis alte naar om jou te stenig. Jy is ’n beter dood werd. Ek sal jou ’n beter dood gee.’ En die koning roep een van sy edelmanne, ’n baie groot baas, wat baie spoggerig was, want daar was koningsbloed in sy are en hy was baie ryk. ‚Jy wat van koningsbloed is,’ sê die koning, ‚maak hierdie ding dood vir my.’ En die spoggerige edelman moes dit doen. Hy het sy swaard, wat krom was, en so skerp soos ’n skeermes, uitgetrek, en met één hou die kaffer se kop afgeslaan. Maar dit het hom nie aangestaan nie en hy het baie kwaad geword. ‚Is dit nou ’n koning se werk,’ het hy gebrom, ‚om ’n hond dood te maak?’ ‚Nee, dis goed,’ sê die koning. ‚Jy is mos my slagter. Dis al wat jy goed voor is.’ En die mense het die edelman uitgelag, want hulle het geweet dat die koning nie baie van hom hou nie. Elke dag het hulle hom uitgelag. Die kinders het agter hom aangeloop en geskree: ‚Hè, slagter van die koning, kom slaan ons honde dood.’ En die vissers het hom uitgejou: ‚Slagter, slagter, met jou skeermesskerp-swaard, kom maak die keffertjies dood; hulle pla so baie.’ Ja, dit was ’n naarheid en hy kon dit nie meer uitstaan nie. Hy was woedend en hy het gedink: ‚Ek sal die koning leer. Ek sal hom gaan wys dat ek nie sy slagter is nie.’
„Hy het lank oor die saak nagedink en eindelik het hy besluit, hy sou die koning gaan vermoor. Hy het geweet dat die koning snags, as dit so warm is, [11]in ’n klein huisie in die tuin van die paleis geslaap het, sonder wagte. Maar die koning het gehoor dat die edelman kwaad vir hom was en die koning het sy eie maatreëls geneem.
„Een nag het die edelman na die huisie gestap, versigtig; want ofskoon dit donker was, wou hy geen geraas maak nie. Hy wou die koning stilletjies in sy slaap doodmaak. Dit was al.
„Maar toe hy in die donker in die kamer van die klein tuinhuisie kom, het ’n paar soldate hom dadelik gegryp. Hulle het die lig aangesteek en hy sien die koning voor hom staan. Die koning het ’n glimlag om sy mond gehad en het vriendelik met hom gepraat.
„‚Edelman,’ sê die koning, ‚slagter-edelman, dis nie goed om so ’n skerp ding met jou rond te dra nie. Dit kan jou maklik in gevaar bring. Ek weet jy kom uit beleefdheid vir my, maar so ’n soort beleefdheid kan ek sonder klaarkom. Ek wil jou daarvoor beloon. Die loon wat ek vir jou gee is, dat jy vir my iets sal vra voordat jy drie dae ouer is en vir my seën, omdat ek dit vir jou gee.’
„‚Dit sal ek nooit doen nie,’ sê die edelman. ‚Jy kan my doodslaan, maar ek sal nooit iets vir jou vra nie. Ek gaan liewerster morsdood.’
„‚Ons sal sien,’ sê die koning, met sy glimlag. En hy sê aan die soldate: ‚Neem hom buite die stad en stenig hom op die mishoop, maar stenig hom volgens die wet.’ ”
„Wat beteken dit, Abdoel? Sê vir ons.”
„Die wet sê, Basie, dat as jy iemand stenig, moet jy hom so stenig dat hy nie doodgaan nie. Jy moet hom seermaak en as hy self wil doodgaan, dan is dit sy saak, nie joue nie. So het hulle ook die edelman gestenig. Hulle het al sy bene en arms gebreek en [12]’n groot klomp klippe op hom gestapel, en as hy ’n klip verroer, dan het hulle dit weer op hom gegooi, so hard as hulle kon. En die koning het een van die soldate by die kliphoop gestel en gesê: ‚As my slagtertjie iets van my verlang, laat my dan maar weet. Maar nie vóór die derde dag nie. Sólank moet hy maar probeer uithou.’
„Die mense het kom kyk, dag vir dag, hoe dit met die edelman gaan. Dag vir dag het hy uitgehou, sonder water, sonder iets om hom verligting te gee.
„En op die derde dag het hy gesmeek: ‚Maak my tog asseblief dood, Koning. Red my uit my pyn.’ Die boodskapper wat nag en dag by die steenhoop gestaan het, om die smeekgebed van die edelman te verneem, het dadelik na die paleis van die koning gesnel.
„Die koning was aan die ete. Niemand kon hom stoor nie. Die boodskapper moes dus bly wag, totdat die koning klaar geëet het.
„Toe hy voor die koning kom, sê hy: ‚Groot Vors, die skepsel wat jy veroordeel het, smeek om van sy lewe verlos te word,’
„‚Aha!’ sê die koning, en hy lag. ‚Ek het mos gesê hy sou my iets vra, voordat drie dae verby was. Hoe lyk dit met hom?’
„Dit lyk maar sleg, groot Vors,” sê die boodskapper. „Hy kan skaars die woorde uitkry en dit sou ’n genade wees om hom uit sy pyn te neem.”
„Watter genade sou hy vir my gegee het, toe hy mv wou vermoor?” vra die koning. „Maar hoor, ek is tog genadig en ek sal hom verlos. Maar dit is nog maar sononder en hy het die hele nag voor hom. Laat hom maar vannag nog bly lewe, dan kan hy oor die saak nadink. Maak hom môre dood.” [13]
Die boodskapper het teruggegaan en aan die edelman, wat nou skaars meer die woorde kon hoor, gesê:
„Die koning sê, môre eers. Tot dán moet jy maar uithou.
„In die vroeë môre het hulle die edelman doodgeskiet en toe hy die roers hoor raas, het hy die naam van die koning geseën. Dit is die storie wat hulle daar in my land vertel, Basie.”
„’n Nare storie, Abdoel. Wat nou van ’n spookstorie?”
„Nee, Basie. Nou moet ek toemaak, want dit is tyd om my gebed op te sê. Maar Abdoel sal julle tog ’n storie vertel, môre.” [14]