Mooi onder die kranse het die alwyne gebloei, pragtig rooi teen die grys van die kliprand en oor hulle het die bye ’n dowwe gedreun gemaak.
„Daar’s baie heuning hier—daar’s baie heuning,” het die ou bye gesê.
„En dis maklik om te kry—dis maklik om te kry,” het die jongeres gesê, want hulle was ’n bietjie lui, omdat dit so warm was.
„En die mooiste van die grap is,” sê die bergswaels, wat hoog in die lug swewe, „die mooiste van die grap is, daar is so baie goggatjies wat die alwyne kom besoek, dat ons ook volop te vreet het.”
Nog mooier was die groot sandlelies daar onderkant by die vlei. Mooier, omdat hulle so rein, so skoon was, sonder ’n vlek op die rooskleur van hulle fyn blomblare. Elke kelk het oop gestaan vir die lug, die warm middaglug wat in wasem teen die kliprand opgerys het, om daarin te kom speel. En ewe mooi was die groot waboombosse, waarin die langstert-suikerbekkies boer, om die honderde goggatjies, wat die bossiestroop se soetigheid kom steel het, te vang.
Daar was twee veral, van die langstert-suikerbekkies wat dit danig besig gehad het. Hulle was man en vrou en hulle nessie was in ’n wilde tabakboom by die lopie wat van die krans kom en wat deur die vlakte kronkel om ’n pad te kry na die rivier. Daar was nog geen eiers in die nes nie, want dit was vroeg in die somer, maar die sagte dons was al gelê, waarop die eiers later sou moet rus en die ingang van die nessie [90]was al klaar gemaak, sodat dit net groot genoeg was om die wyfie toe te laat om binne te kom.
„Volop ete hier, vrou,” het die mannetjie-suikerbekkie gesê. Onder die suikerbekkies het hy die naam gedra van Korring, en sy vrou het hulle Korra genoem, maar jy het nooit die name gehoor nie. Dit was altyd maar net „Tjerptjik,” wat baie beduie. Volgens die uitspraak wat jy daarvan gee, natuurlik. Die suikerbekkietaal is nie maklik om te verstaan nie, maar ’n mens kan dit tog baasraak as jy vroeg in die môre opstaan en jou daarop toelê om die uitspraak, so sleg of so goed soos jy kan, na te maak.
„Ja, maar” sê Korra, „ek het al so baie van die torretjies gevreet, dat ek nou maar sal ophou. Die sysie sê mos dat te veel torre ’n voël buikpyn gee, en daarmee is ek nie gedien nie.”
„Ag wat,” sê Korring, „die sysie eet mos nie torre nie. Wat weet hy daarvan? Môre is die goed weg. Ons moet ons kans waarneem. Ek bly nog hier.”
„Net soos jy verkies,” sê sy vrou. „Vir my part, ek gaan daar na die alwyne. Die bergkanaries is daar, en ek wil ’n bietjie met hulle gesels.”
Die wyfie-suikerbekkie het toe na die krans gevlieg. Daar het sy ’n klompie bergkanaries en geelsysies aangetref, wat druk aan die praat was. Hulle het haar vriendelik gegroet en plek gemaak op die takkie vir haar en sy was maar alte bly om te gaan sit, want sy was moeg, nie alleen van die warmte nie, maar ook van die baie torretjies wat sy ingesluk het.
„Verbeel jou,” sê die oudste bergkanarie, „verbeel jou. Daar is ’n seun, so hoor ons, wat gaan probeer om uit te vind waar die reënboog begin.”
„Dis ’n kordate onderneming,” sê die blink spreeu, wat juis aangevlieg het. „Ek het ook al baie oor die [91]saak gedink. Sover ek weet is daar geeneen van ons voëls wat weet waar die reënboog begin nie.”
„Ek sou so sê,” tjirp die sysie. „Niks het mos nie ’n begin nie en die reënboog is mos niks. Sommer ’n kleur en daarmee uit.”
„Dit glo ek nie,” sê die blink spreeu. „So ’n geweldige groot ding moet tog iets hê. Hy kan nie sommer so in die lug staan nie. Ons moet probeer uitvind.”
„Ek sê vir jou hy’s niks,” antwoord die sysie. „Ek het mos dwarsdeur hom gevlieg en hy het net ’n kleurtjie op my vlerke gemaak, anders was daar niks nie—glad niks nie.”
„Dit kon in één geval gebeur het,” merk die blink spreeu op. „Ek sê nie dat dit ’n misverstand was nie, vriend Sysie. Maar ek hou vol dat daar tog iets moet wees—iets wat ’n mens kan beetkry en wat selfs ’n voël kan beetkry as hy kans het.”
„Ons voëls is algar slimmer as die mense,” sê die bergkanaries. „Hulle kan mos nie vlieg nie. Wat verbeel jy jou?”
„Vlieg is nie die enigste ding nie,” sê die blink spreeu, wat verstandig was en gladnie verwaand nie, want hy het al baie van die wêreld gesien, en hoe meer jy van die wêreld sien, hoe minder dink jy dat jy al die wysheid beet het. Die wêreld is so groot en daar’s so baie dinge in, dat dit jou nadenkend maak, as jy verstandig is en nie verwaand nie.
„Vlieg is nie die enigste ding nie,” sê die blink spreeu. „Ek sê nie dat dit nie iets goeds is nie, maar dis nie die enigste goeie ding nie, dit beweer ek en julle kan daar niks teen inbring nie. En wat die reënboog betref, ek het selfs daarin en daar rondom gevlieg en ek het niks bespeur nie, maar dit bewys nog gladnie [92]dat daar niks is nie. Hierdie alwyne het ’n maand gelede geen blomme gehad nie. Vandag is hulle vol blomme. Daar moet tog iets wees, as jy my goed verstaan.”
„Dit skyn vir my,” sê die ou uil, wat tot hiertoe stil onder die klip gesit het, want sy oë kon nie goed die lig verdra nie, „dat dit alleenlik ’n saak van soek is. Tot hiertoe het hulle nie noukeurig gesoek nie. As ’n mens—ek wil sê, ’n voël—soek, dan vind hy. Dit is ten minste my ondervinding.”
Daar oom Uil—wat al amper oud genoeg was om oupa Uil te wees—baie rondgereis het in die wêreld, het hy baie ondervinding opgedoen. Dit het elke voël geweet en daarom het hulle met eerbied na sy woorde geluister.
„Sou hierdie seuntjie nou een wees wat dit kan loop soek?” vra die spreeu.
„Dit weet ek nie,” sê oom Uil. „Hy is glo ’n padvinder en die seuns is ondernemend, maar of hulle volharding het, dit staat nog te sien. Ek sê maar ’n mens—ek wil sê ’n voël—sou kan uitvind. Mits jy volharding het en nie omgee wat jou oorkom nie.”
Toe die voëls nou so praat, het die klein seuntjie, waaroor hulle gepraat het, hom klaargemaak om op reis te gaan. Hy was nie meer so ’n klein seuntjie nie, want hy was al oor die sestien jaar oud en het die vorige jaar reeds sy matriek gemaak. Daaruit kan julle sien dat hy taamlik slim was. Nog meer, hy het Duits en ’n bietjie Frans geken en nie alleen vir eksamens gewerk nie. Hy het gewerk en geleer om te leer en hy het reeds so baie geleer dat hy geweet het, dat hy nog baie onvolleerd was.
Ook was dit nie waar nie, dat hy van plan was om te gaan sien waar die reënboog vandaan kom nie. Dit het [93]hy al geweet. Hy het geweet dat die reënboog maar die weerkaatsing en verbreking van die lig is deur miljoene reëndruppeltjies, waardeur die lig straal. Hy het geweet dat as jy ’n straal-lig opbreek jy dan die mooi kleure kry wat jy in die reënboog kan sien. Wat kleur is, het hy nie geweet nie en hy wou dit baie graag uitvind, maar om dit uit te vind moes hy nog baie, baie aanleer.
En daar was nie meer geld nie. Sy pa was dood en sy ma het nie meer genoeg gehad om hom op skool te hou nie. Ook was daar geen plek meer vir hom op die skool nie. Hy moes, as hy wou leer, na die uniwersiteit gaan.
Die seun, wie se naam Roelfs was, het ’n ou vriend in die dorp gehad. Die ou vriend was ’n ou prospekteerder, wat op sy ou dag ’n broodwinning verdien deur as skoenmaker te werk. ’n Prospekteerder is iemand wat rondgaan om te kyk of daar goud of silwer of edelgesteente in die kliplae te vind is. Dit is ’n interessante soort werk, maar dit verg baie van die man wat dit onderneem en as hy nie geluk het nie, dan laat dit hom baie min oor vir sy ou dag. Dit het ou meneer Jors—want dit was die oubaas se naam—ook uitgevind, en in sy ou dae was hy maar alte bly dat hy in sy jong dae geleer het, hoe om ’n skoenmakersels te gebruik.
Vir hom het Roelfs nou opgesoek en aan hom het hy die saak vertel.
„Dit is ook nie nodig dat jy na die uniwersiteit gaan nie,” sê die ou skoenmaker. „Ek was nooit na ’n uniwersiteit nie en as jy nagaan sal jy sien, dat die beste en grootste manne waarvan die geskiedenis praat ook nie uniwersiteit-toe gegaan het nie. Noudat jy sover is, behoort jy jouself op te werk. Dit is maklik genoeg. [94]Gebruik jou oë, lees so veel jy maar kan en leer waar jy maar ’n kans kry.”
„En wat van die kos?” vra Roelfs.
„Daarmee kan ek jou help,” sê die ou. „Hier het net aangekom ’n meneer wat na die wilde bosse gaan. Hy gaan om orgideë te soek. Jy weet mos wat ’n orgidee is, nè?”
„Nee,” sê Roelfs. „Ek weet nie.”
„Ek ook nie,” sê die ou kêrel. „Ek weet net maar dat dit ’n soort blom is, van die soort wat ons moederkappies noem. Maar in die wilde bosse groei hulle op die boomstamme en nie op die grond nie. Hoe warmer en ongesonder die streek is, des te mooier is die orgidee. Nou, die meneer wil graag ’n handlanger hê, wat iets verstaan van plantkunde. Hy weet dat ek ’n prospekteerder was en het my kom vra of ek nie van iemand weet nie. As jy wil kan jy met hom saamgaan. Dit sal ondervinding vir jou wees en jy sal iets van die wêreld sien en jy sal baie leer, want die professor is ’n geleerde man en sou jou baie kan help.”
Roelfs het die saak oordink, en besluit om mee te gaan. Daarom was hy juis aan pak toe die voëls oor hom praat.
In die wilde bosse was dit baie mooi en baie bedompig en baie eensaam. Elke dag het dit gereent en alles was waternat. In die dag kon jy byna nie die son sien nie, want die bome was so dig en het so teenmekaar boontoe gegroei dat hulle ’n soort van gewelf gemaak het, waardeur die lig nie kon dring nie. Snags was dit egter mooi lig, want ofskoon jy nie die sterre te sien kon kry nie, was daar so baie vuurvliegies, en vuurkewers, wat nog baie groter as die vliegies was, wat die omgewing helder gemaak het. Daar was ook swerms muskiete en gifgoed genoeg in die bos, maar [95]daarteen kon ’n mens een of ander maatreël neem. Roelfs het die reis baie geniet en hy het baie geleer. Die professor, sy baas, wat regtig ’n geleerde kêrel was, het hom allerhande dinge vertel oor die blomme en veral oor die orgideë. Hy het hom gesê wat eintlik ’n orgidee is—en dit is nie so maklik om te sê wat ’n orgidee is nie, want om dit duidelik te maak, moet jy Latyn en Grieks praat wat dié saak nog onduideliker maak. Maar Roelfs het verstaan dat ’n orgidee eintlik ’n soort blom is waarvan die saaddraadjies algar saamgevleg is en in ’n klein stammetjie binne in die blom, wat die kolom heet, en dat die beste orgidee nie in die aarde groei nie maar op boomstamme. Hy was verbaas om te hoor dat sommige soorte baie skaars was en dat sommige soorte baie op prys gestel word.
„Ja,” het die professor gesê, „daar is baie soorte. Hoeveel soorte weet ek eintlik nie, maar ek vermoed so omtrent twaalfduisend. Daar is kleintjies, byna nie groter as ’n pinkie nie en omtrent twee duim hoog, met blommetjies so groot soos ’n speldeknop en met maar een of twee blommetjies aan die steel. Daar is grotes, so groot soos ’n kruiwa, met duisende blomme aan die steel en met elke blom drie duim groot van kant tot kant. Daar is alle soorte van kleure, en alle soorte van gedaantes onder die blomme op te merk, want die orgideë is die koddigste blomme wat ons ken. En wat die kosbaarheid betref, daar is ’n paar wat jy nie vir ’n duisend pond sal kan koop nie.”
„Nie eers een plantjie nie,” antwoord die professor. „’n Halwe plantjie van een soort is onlangs verkoop op ’n publieke veiling vir oor die vierduisend pond. Die oorspronklike bol van die blou orgidee het vyfduisend pond gekos vir sy twede eienaar. Nog baie meer eintlik, want dit het die lewe van verskillende mense [96]gekos. Soos jy sien, dit is nie maklik om dié soort blomme te kry nie. Hulle groei in plekke waar dit baie gevaarlik is, weens die koors en die ongedierte, om te gaan snuffel in die kreupelhout.”
Die twee het lank weggebly, maande lank, en altwee het koors gekry. Toe Roelfs weer huis-toe kom, was hy taai en groot, want hy het baie deurgemaak, en genoeg geld by hom gehad om nou na die uniwersiteit te gaan. Die blink spreeu het hom gesien huis-toe kom en het dadelik die nuus aan die ander voëls gaan vertel.
„Die seuntjie is terug,” sê die blink spreeu.
„So,” sê die bergkanarie. „En wat van die reënboog?”
„Die het hy nie meegebring nie,” sê die blink spreeu. „Tenminste ek het dit nie gesien nie. Hy het net ’n hele boel ou stukkies gedroogte hout meegebring, wat daar in die agterplaas in die son lê.”
Die blink spreeu het nie geweet dat die stukkies droë hout die bolle van die kosbare orgideë was nie. ’n Mens verwag ook nie dat blink spreeus iets van plantkunde afweet nie.
Maar oom Uil was ’n bietjie slimmer.
„Ja,” sê oom Uil, „ek dink hy het uitgevind waar die reënboog vandaan kom. Hy was mos in die wilde bosse. Daar reën dit elke dag en die reënboog word elke middag daar gebore. Hy het baie kans gehad om dit te sien. En wat meer is, hy het van die reënboog meegebring. Daardie droë stukkies hout sal later algar reënboogkleure hê. Glo vir my.”
Maar die voëls het dit nie geglo nie, want hulle het dit nie gesien nie, en wat hulle nie sien nie, glo hulle ook nie. Net soos sommige mense wat alles eers wil sien, voordat hulle dit glo. [97]
Roelfs het later self professor in die botaniek geword. Die blink spreeu het in ’n wip bly vassteek en die klonkies het hom gebraai, want hulle het nie omgegee om hom op te eet nie ofskoon hy baie taai was. [98]