The Project Gutenberg eBook of Uit ou Reisbeskrywinge: Dagverhale en ander letterkundige bronne oor die Kaap
Title: Uit ou Reisbeskrywinge: Dagverhale en ander letterkundige bronne oor die Kaap
Author: W. Blommaert
S. F. N. Gie
Release date: November 15, 2021 [eBook #66742]
Most recently updated: October 18, 2024
Language: Afrikaans, Dutch
Credits: Jeroen Hellingman and the Online Distributed Proofreading Team at https://www.pgdp.net/for Project Gutenberg (This file was produced from images generously made available by The Internet Archive)
Uit ou Reisbeskrywinge.
1922.
VOORWOORD.
Die doel van hierdie uitgawe is om dele van die Suid-Afrikaanse Geskiedenis in ’n meer direkte en aanskoulike vorm aan skole en die algemene lesende publiek te gee. Ons meen dat dit in ’n groot behoefte sal help voorsien. Of die behoefte ook assulks gevoel word, sal nog moet blyk. Dit is in elk geval waar dat wie die Geskiedenis regtig wil geniet en met vrug beoefen, met die ou oorspronklike geskrifte moet kennismaak; want in hulle lewe waarlik die gees van vervloë tye, en deur hulle word die verlede vir ons werklikheid. Om die leser meer in die gees van die tyd te laat kom, het ons trouens nie geaarsel nie om die originele Hollandse tekste onveranderd te laat of ’n ou Hollandse vertaling te reproduseer waar die oorspronklike geskrif in ’n vreemde taal opgestel was. In party gevalle, b.v. die Portugese tekste, was dit nie moontlik nie, omdat daarvan alleen gebrekkige en onvolledige Hollandse vertalings bestaan. Ons het hulle dan ook in Afrikaans oorgesit.
Al die stukke het reeds in druk of herdruk verskyn, maar in werke wat seldsaam geword het of in versamelings wat vir die gewone leser, ver van biblioteke verwyderd, moeilik toeganklik is. Uit uitgawes soos b.v. Reizen in Zuid-Afrika van dr. E. C. Godée-Molsbergen, wat eers kort gelede verskyn het en nog in die handel is, het ons met opset niks oorgeneem nie. Ons wens egter met nadruk op hierdie werk en ander publikasies van die Linschoten-Vereniging die aandag te vestig en hulle vir lees en studie aan te beveel. Ook kan hier herinner word aan die Records van Theal, wat maar alte dikwels ongebruik in ons openbare biblioteke lê, onder ’n laag van stof.
Die feit dat die Burgerleeskring hom veral tot die algemene lesende publiek wend, het ons genoodsaak om meer van die suiwer anekdotiese en awontuurlike element in te bring as ons anders miskien sou gedaan het. Verder het ons egter veral aan die kultuurhistoriese waarde van die uittreksels gedink; en in die inleidings, wat aan elke skrywer voorafgaan, probeer ons om die betekenis en belang van die stukke duidelik te maak. Ons hoop dan ook dat hierdie uitgawe sy weg ook na die skole sal vind. Die kundige onderwyser sal dit met vrug as historiese leesboek in die hoogste klas of klasse van die Primêre Skool en in die Sekundêre Skool kan invoer, en ons sal graag verneem welke ondervinding die onderwyswêreld daarmee opdoen. Party mense sal miskien dink dat sommige stukke vir skoollektuur te moeilik is. Ons meen egter dat as die onderwyser sulke stukke self goed voorlees en die kinders die teks in hulle boeke laat volg, hy verwonder sal wees oor die gemak waarmee hulle sewentiende-eeuse Nederlands sal verstaan. Dit is te hope dat die tyd van vaste leerplanne en hoofdelike inspeksie, wat tot die kou en herkou van een klasboek lei, aan die verbygaan is, en dat onderwysers ook nou die geleentheid sal hê om interessante bronne of stukke daaruit met die leerlinge te lees. Die ontwikkeling van die laaste tyd gaan gelukkig in die rigting van meer vryheid wat dit betref, en ons vertrou dat onderwysers ’n ruim gebruik van die vryheid sal maak. Die lees van ou geskrifte sal lewe en besieling in die historiese onderwys bring.
Hierdie boek omvat die eerste periode van ons geskiedenis tot die begin van die agtiende eeu. As dit blyk dat daar navraag voor bestaan, sal nog meer deeltjies oor ander tydperke volg. Stof is daar natuurlik genoeg voor.
W. Blommaert.
S. F. N. Gie.
Uniwersiteit van Stellenbosch,
Februarie 1922.
INHOUD.
[1]