En met vee wat hul gesteel het, het dit ook maar sleg gegaan. Soos Mentzel sê, die Boesman wil nie, of weet nie hoe om, vee op te pas nie, om hulle te laat wei en vermenigvuldig nie, en so moet die gebuite vee maar daar bly totdat die Boesman en die roofdiere van hul skoonveld gemaak het! En as die Boer die verlies merk, en die Boesman agtervolg en inhaal voordat hy by sy kraal kan kom, beseer die Boesman eers die vee voor hy hul verlaat, en vlug om die veiligheid van sy eie vel te verseker. Dié onnodige, doellose, wrede behandeling van die stomme diere het die Boere baie vererg.
Die getalle vee wat gesteel is, word dikwels aangehaal deur die ou reisigers, maar gewoonlik is daar so min bygaande feite gegee dat die blote syfers nie veel waarde het nie; maar Lichtenstein getuig van grensboere wat verplig was om hul plase te verlaat weens die rowery en moor van die Boesmans. Joachim, Baron van Plettenberg, ook, ’n vyf-en-twintig jaar vroeër, bespreek ernstig of seker distrikte of grense al dig genoeg deur die Blankes bewoon is om dit veilig teen die Boesman te maak. Die feite spreek baie meer duidelik as onvolledige statistiek.
Daar het u ’n beeld van die Boesman soos die Koloniste van ’n anderhalf eeu gelede hom geken het—die vuil dief, die onsedelike moordenaar, bewoner van ’n vuil grot, met die wêreld tevrede as daar net genoeg vleis, heuning (vir karrie) en dagga (of tabak) by die hand is. “Das unglückselige Kind des Augenblickes” soos Fritsch hom beskrywe, byna sonder enige idee van spaarsaamheid of voorsorg—kortom, ’n knaende iets wat nie saam met die beskawing van die Blankes kon bestaan, en ook nie daarmee ingelyf word nie.
Vandag is hul binne die grense van die Unie feitlik uitgesterwe. Alleen die wrede woestyn het ’n vriendelike hand vir hul uitgestrek, en in sy boesem ontvang; en daar, waar Witman nie kan woon nie, bestaan die laaste klompie van die volk wat eenkeer ’n groot deel van die hele wêreld besit of bewoon het.