DIE SAAK VAN DIE BOESMAN SE KANT BESKOU.

Die beskuldigde het voorgekom, en ongehoord, is hy ter dood veroordeel. Dit help nie nou om sy pleidooi op te stel nie, sy bene, deur die aasvoëls skoongevreet, is al lankal vergaan; maar om die toestand van die jagterras beter te verstaan, is dit goed om ook die saak van hulle kant te bestudeer.

Hulle was vuil, ja, gewis; maar is dit ’n rede waarom hulle moes uitgeroei word? Hulle was nie kieskeurig wat hulle ete betref nie, maar waarom moet hulle as ’n lekkerny vir die aasvoëls opgedis word? Hulle bure, die Hottentotte, was maar net so vuil. Die ingewande van diere, effens skoongemaak en opgeblaas het hul gedien as sieraad om hul enkels en as beskerming teen slange. Die toestand van die halfskoongemaakte versieringe na ’n paar dae kan die geagte leser vir homself maar voorstel. En as meneer Hottentot miskien ’n rukkie daarna hongerly, eet hy sy enkelbande maar op! Is daar veel te kies tussen die Boesman en Hottentot wat reinheid betref?

En bestaan daar nie ’n goeie rede vir die laag stof wat die Boesman oor die huid gedra het nie? Soos Jonkvrou Augusta Uitenhage de Mist, dogter van die Kommissaris opmerk, het dit gedien as ’n beskerming teen die steek van insekte, en Ratzel vertel ons van die inboorlinge van Australië wat dieselfde mode gevolg het, met die resultaat dat alleen na die koms van die Blanke, en na hulle die liggaam begin was het, hulle nader kennis gemaak het met seker intieme wesentjies waarmee die Afrikaner in die Engelse oorlog ook in baie nou aanraking gekom het.

So verwyt mense ook die Boesmans omdat hulle nie huise gebou het nie, nie bedde gehad het nie, maar in neste in die grond soos volstruise geslaap het; maar hulle moet darem daarby voeg wat die Boesmans sê, naamlik, dat van die Blanke in die land gekom het, hulle nooit met hul voete onder die karos geslaap het nie, en met die uitbreiding van die vervolging van die Boesman deur die Blankes, die arme Barbaar later verplig was om sy woning so eenvoudig, en soveel molik na ’n bossie te laat lyk, sodat dit nie die aandag van sy beskaafde vyand moet trek nie. Kortom, het hy gebruik gemaak van die kuns nou weer deur die Franse ontdek: “camouflage.”

Sedelikheid is maar relatief. Hoe onsedelik moet ons dames by ’n teater of bal nie lyk vir die Slamse vrouens wat net hul oë voor die publiek ontbloot! Vir ander rasse is die mond iets onsedeliks wat moet bedek word, en hulle beskou dit as ’n bewys van ’n betreurenswaardige gebrek aan opvoeding as iemand, voor ander, kos in sy mond sou neem! So is dit ook in die geval van die Boesman; ons noem onsedelik alles wat nie pas by die sedes van ons kultuur nie, en dit is ook moeilik om van enige ander standpunt die saak te beskou. Van ons oogpunt egter, moet ons erken dat die Boesman baie minder onsedelik is as ander inboorlinge in Suid-Afrika, en selfs as die grootste meerderheid van inboorlinge in die hele wêreld.

Die moord van suigelinge, ouder ’n jagterstam soos die Boesman, na die dood van die moeder, is nie ’n bewys van wreedheid nie. Hulle had geen meelbol of ander spesiaal vervaardigde kinderkos nie. Hulle had nie gomelastieke tepels en bottels nie. Was die moord van die suigeling nie die gouste en genadigste einde aan die lyding van die kindjie nie? En die verlaat van die oumense is ’n verstandige opoffering van die indiwidu vir die hele stam, wat by alle jagter-rasse gevind word. Die oues bring nie alleen niks in nie, maar is nog bo-op ’n hindernis en ’n las wat die werksaamhede en beweeglikheid van die stam strem, nog te meer as deur droogte of wat ook al, die wild trek en hul agterna moet volg.

Van die begrawe van die ouer kinders in die graftes van hul moeders is daar nie ’n goeie ekonomiese rede te vinde nie. Tot dusver, egter, is die skrywer nie oortuig dat dit algemeen onder die Boesmans was nie, en het ook niks gevinde wat hy as die rede kan aannneem nie. Molik het dit ’n godsdienstige sy, iets in verband met hul Geloof, wat ons later weer sal aanroer. Maar terwyl ons met die moord van famielielede besig is, is dit miskien nuttig om een uit honderde gelykstaande feite aan te haal, om die regte perspektief te kry in verband met die onderwerp. Omtrent die helfte van die kinders van die Australiese inboorlinge is vermoor by hulle geboorte deur die moeder wat ’n skerp houtpen deur die oor, in die babetjie se brein slaan, en hoe meer van haar eie kinders ’n vrou vermoor, hoe hoër staan sy in die samelewing!

Vir die moord van skaapwagters en steel van vee is dit amper nie nodig om die Boesmans se sienswyse te gee nie—die rede is so duidelik. Lank voor die koms van die Blanke was die Boesmans al baas in Suid-Afrika: die hele land was sy weiveld, en die wild, sy vee. Elke stam of famielie het sy eie jagterrein gehad en ’n oortreding van die grense daarvan deur ’n ander stam het oorlog veroorsaak. En toe kom die veeboer—Hottentot, Bantoe, of Boer—en neem besit van sy fonteine, jag op sy terrein, en laat die vee daarop wei. Van die Boesman se staanpunt, is dit ’n oortreding van sy wet, van die wet van die land. Soiets moet gestraf word, en dit ook volgens die wet van die land. ’n Oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand sê die wet van Moses—diefstal vir diefstal sê die Boesman: “Jy het my water gesteel, my boerdery omvergegooi, ek sal jou daarvoor beboet, en as dit nodig is om jou skaapwagter dood te maak om my vonnis uit te voer, wat daarvan?”

Daar is verskillende vermoedelike redes waarom die Boesman die vee mishandel het by ’n onsuksesvolle strooptog, maar dit is moeilik om te weet wat die regte doel was. Was dit maar die kinderagtige weerwraak wat ’n mens ook sien in die beweerde moord van die oorwinnaar se kind na ’n stryd? Is dit dat hulle gehoop het om ook na ’n paar dae van die vleis van die verlate diere te kom eet? Of is dit werklik die uitwerking van ’n vaste idee om die vee, d.w.s. die bestaan van die blanke, uit te roei, en dit daardeur vir hom onmolik te maak om dit daar uit te hou? Wat ook al die rede is, soas al gemeld, het dit in baie gevalle dié gevolg gehad.

Fig. V.

Fig. V.

Primitiewe Kuns van: A., Noord Amerika (Kalifornië); B., Kolumbië; C., Brazilië; D., Venezuela (na Breuil), E., Ceylon (na Seligmann en Sollas).

Dat die Boesman nie oneerlik is nie, maar alleen ’n ander idee van eerlikheid had, is al lankal bewys. Onder die eerste Koloniste wat dit ingesien het, en die feit in ’n pleidooi vir die Boesmans gebruik het was Ds. A. Faure. Die grensboere in die ou dae het dikwels hul kuddes aan Boesmans toevertrou om hulle in Boesmanland te laat wei, en altoos is die vee veilig teruggebring. Soos Mnr. Smit van Dasfontein naby Beaufort, ’n man wat van kindsbeen die Boesman en sy taal geken het, vir Campbell in 1820 gesê het, en soos Mnr. E. B. Watermeyer vandag ook konstateer, kan jy ’n Boesman vertrou met alles wat jy formeel in sy sorg plaas, maar wat opgesluit is, of wat aan die buurman behoort, is nie veilig nie.