BOERDERY.

Ons reken dat ’n volk die eerste stap in die beskawing gedoen het wanneer hul nie langer bereid is om te neem net wat die Natuur vir hul gee nie, maar wanneer hul daarvan werk maak om die Natuur te help kos lewer. Dit word dan gewoonlik verder uitgelê dat die “hulp” beteken veeteelt of landbou. As dit die toets is, dan is die Boesmans nog laer as die eerste stap, maar as ons reken watter inspanning dit gekos het om die eerste boog te maak, (wat die Australiërs nooit geken het nie) en al die gifsoorte uit te dink, en al die valle, dan moet ons erken dat die Boesman wel bewus te werk gegaan het om die Natuur ’n weinig milder haar rykdom met hom te deel. Sy vanggate, en die arbeid wat hy bereid is om in dié verband uit te oefen lewer verder bewys van sy ontwikkeling. Daar bestaan wel beskrywings van die boerdery van seker Boesmans, maar dit was al in die neentiende eeu, en hul het dit van die Hottentotte en Bantoe geleer.