By die studie van ’n hoogbeskaafde volk, is dit gebruiklik om saam met die regeringsvorm ook die opvoedingstelsel te ondersoek. Hier is daar maar min te vertel. Die kleintjie word gebore en dit duur miskien twee en ’n half jaar voor hy gespeen is. Intussen het hy al begin ronddwaal en saadjies en bolle begin toets. Soos die kinders van ander rasse moet hulle maar altoos klaar staan om te doen wat die ouers sê. ‘Soggens na ’n fuif, as die ouderlike tong droog uithang van die katsenjammer, moet die kleintjies opstaan en water haal—vader en moeder het mos nog nie uitgerus nie. Daar was nie kweperlat in daardie dae nie, maar wat ook al die surrogaat was, dit was doeltreffend; alhoewel daar ook ’n ander middel was om die Boesmannetjies soet te hou, naamlik deur Paaiboelies waarvan ons ook hoor. Verder was die speel van die kinders maar die werk van die ouers verklein. Mejuffrou Bleek vertel die skrywer dat die ou Boesmans klein pyle en boë vir hulle seuns gegee het, en !goin-!goins vir die dogters. In die Kaapstadse museum is daar klein ’kibies wat volgens Dr. Peringuey speelgoed is. As dit so is, styg die Boesman as vader hoër in die agting van die skrywer. Watter ouer sal vandag ’n ’Kibie vir sy kind maak? Dat die seuns met hul vaders uitgegaan het om te jag, en so kennis opgedoen het van diere en wind en spoor, kan die skrywer nie bewys nie; maar dit is vermoedelik. Dat hul in skyngevegte geleer skiet het, weet ons. Twee seuns (of mans) met egte gifpyle bewapen, skiet in dié gevegte op mekaar so vinnig as hul kan, en elkeen probeer om te koes sodat die ander se pyl hom nie raak nie.
In verband met die opvoeding van die kinders is die volgende verhaaltjie te kostelik om uit te laat. Een van Dr. Lloyd haar klein Boesmannetjies was ’n bietjie onmanierlik. Dit het die ander Boesmans soseer vererg dat hulle na die Dokter gaan om beleef verskoning vir die kind te vra, want, sê hulle, haar ouers is dood toe sy nog ’n babetjie was, en sy is by blankes groot geword!