Sy brein is maar klein, maar sy lyf ook; en sy brein, sy wilskrag hou hom gespanne as hy opgewonde raak. Met hom, soos met ons kunstenare vandag, word ’n werk wat begin, en afgewerk kan word, met ywer gepak, en klaargemaak; maar die nimmereindigende dagelikse klein werkies wat die siel van ’n kunstenaar breek, kon die Boesman ook nie baasraak nie, en daarvandaan die feit dat hul nie verder ontwikkel het nie. Brein, nieteenstaande wat baie skrywers sê, had hulle bepaald. Dink maar byvoorbeeld aan hulle ontwikkeling in hulle jagmetodes ens., wat hulle hier in Suidafrika moes uitgewerk het, afgesien van die kennis wat hulle uit die Noorde saamgebring het. Ook lewer die Boesman bewys van sy vermoë deur die gemaklike wyse waarop hy tale aanleer. Verskillende outoriteite maak spesiaal melding hiervan, en een vertel van ’n Boesman wat buiten en behalwe sy eie taal vlot Afrikaans praat, meer Engels ken as baie Boere, en sowat ses ander Hottentot- en Bantoe-tale magtig is. Om hierdie punt te bespreek, sal ons ’n bietjie te ver van ons onderwerp aflei. Ook die bespreking van hul taal is buiten die bevoegdheid van die skrywer. Alle Afrikaners weet dat Boesman-taal, saam met Hottentot- en een of twee Bantoe-tale die klappers besit, maar dat die Boesman taal meer het as die ander. Die klappers is moeilik vir die Blanke om uit te spreek, ja selfs om die aparte klappers vanmekaar te onderskei, en die moderne uitvindsel die praatmasien, probeer nie eers om die klappers weer te gee nie! Mejuffrou Doris Bleek, een van die weinige Blankes wat vandag nog kennis het van die Boesman-taal, het die skrywer ’n paar feite meegedeel; onder ander, ook wat aantoon hoe die Boesman aggee op die gang van ’n mens, vertel sy dat die Boesman byna tweemaal soveel werkwoorde het vir verskillende maniere van loop, kruip, slinger ens.
Maar terwyl ons die behandeling van die onderwerp van taal moet oorlaat aan die taalkundiges, is daar een metode van gedagtewisseling wat die Boesman gebruik het, wat ons wel hier kan bespreek, naamlik die seintaal. Dit is te verwag dat die Boesman ’n seintaal had. Alle nasies of klasse wat met mekaar wil gesels waar daar te groot geraas is, of waar daar nie mag gepraat word nie, het so iets. Die skooljong, die arbeiders in seker fabrieke, die spoorwegwerkers ens., het almal hul eie seintaal. Die bewoner van “flats” in Napels kan lang besigheidsgesprekke met die groentesmouse onder in die straat voer sonder om ’n woord uit te spreek. Die Grieke kon met gebare feitlik enige getal merk of weergee. En wat vind ons in die geval van die Boesman? Ongelukkig maar min besonderhede. Stow vertel dat hulle voor ’n strooptog die hele aanval in al sy besonderhede bespreek, en alle moontlike uitslae bedink en ’n kode van seine uitwerk om mekaar bekend te maak met die loop van sake gedurende die aanval. As dit so is, moet ons verwag dat vir eenvoudigheid hulle, sover moontlik, gedurig dieselfde seine gebruik het, en so ’n seintaal ontwikkel het. Campbell en ’n paar ander skrywers vertel vir ons van enkele gebare. Bleek en Lloyd vertel dat as ’n man by ’n jag flouval, hy stof opgooi as ’n teken dat hy hulp nodig het. Campbell vertel ook hoe hulle (d.w.s. onbekende wilde Boesmans) nog een aand met vuurseine hom op die regte pad na water gehelp het. Vergelyk ook die volgende twee uittreksels, een byna ’n eeu en ’n kwart oud van Lichtenstein, dat ander nog geen ses maande gelede nie deur Reuter uit S.W. Afrika gesein:
“Die Bosjesmanne het ’n onafgebroke kommunikasie met mekaar, so goed, dat hulle alles weet wat in die land aangaan, nie alleen gouer nie; maar meer akkuraat as enige ander nasie. Indiwiduele Bosjesmanne, sê hulle (d.w.s. die Betjoeanas) kom ongewapend en alleen na hulle (Betjoeana) veewagters en smeek om kos, in terugbetaling waarvoor hulle meedeel enige nuus wat hulle van wis.”
Die twede uittreksel is uit een van Reuter se telegramme oor die geval van ’n seker patrollie onder Kapt. Swemmer wat 160 myl van Grootfontein al hul kamele en al hul water buiten een kameel en een bottel water kwytgeraak het.
“Toe kom een van die geheimsinnige gebeurtenisse wat in die wilde Afrika gebeur. Op een of ander wyse stuur die Boesmans die boodskap aan dat Kapt. Swemmer deur leeus aangeval is, en met een kameel aankom en water nodig het. Die Boesmans op die grens van Grootfontein ontvang die boodskap, en deel dit met die beamptes by Grootfontein mee.….. Hoe die nuus vervoer is, bly onbekend. Boesman-bodes mag miskien die moeite gedaan het om dit na Grootfontein te bring. Dit, dink die mense is nie baie waarskynlik nie, en die ou Blanke-inwoners glo liewer dat die Boesman die groot primitiewe gawe van telepatie besit.”
En waaroor gesels die Boesman? Natuurlik oor sake wat binne of naby die grense van sy kennis lê. Die Jonkvrou Augusta Uitenhaag de Mist het in 1802 baie kortaf die kennis van die Boesman beskrywe. “Hy het kennis van niks,” skrywe sy, “as van gifpyle en vuurmaak.” Dit is egter nie so nie, en buiten en behalwe sy kennis wat ons alreeds ondersoek het, wil die skrywer ’n paar feite voorlê in verband met hulle kennis onder die volgende hoofde: aardkunde, aardrykskunde, rekenkunde, dierkunde, geneeskunde, plantkunde, sterrekunde, letterkunde, digkuns, toneelkuns, danskuns, musiekkuns, graveerkuns en skilderkuns. In seker van genoemde indelinge van kennis, is hulle vordering groot gewees, in ander weer, minder; maar afgesien van hulle kunste, was AARDKUNDE.hul almelewe prakties. So was dit ook met hul kennis van aardkunde. Die stowwe wat hulle van wis, was die grondstowwe waaruit hulle hul verf gemaak het, waarvan hul hulle pylkoppe gemaak het, en hulle bore; maar hulle het ook geweet wat vandag amper ’n verlore kuns is, d.w.s. hoe om die vuurklip te slaan om die verskillende werktuie te maak; ook wis hul waar om vir water te soek en dit was vir hulle altoos al te mooi, wanneer in die diens van die Blanke, om met hul kennis te pronk, en gou water te vind na die Bantoe tevergeefs probeer het.