In rekenkunde was hulle ook swak. Hulle het name gehad vir een, twee, en drie, en geen hoër getal nie, vertel Mejuffrou Bleek, maar hulle het gesê veel, of met hulle vingers gewys: “soveel” vir getalle tussen drie en elf. As dit verby die tien kom, is hulle verlore, en sê net “seer veel.” Mejuffrou Bleek egter sê dat sy nog nooit ’n Boesman gekry het wat nie kon tel nie, maar dan maak hul gebruik van die Afrikaanse of Engelse of Bantoe-telwoorde.
Die waarde van rekenkunde word eers deur ’n volk gevoel as hul begin handel, of voorsorg vir die toekoms maak, soos by voorbeeld vir die winter ens. Die Boesmans, soos ons al gesien het, het wel ’n bietjie handel gedrywe, maar alhoewel hulle nou en dan ’n bietjie biltong maak of miereiers of sprinkhane braai en maal, duur dit maar ’n week of twee voor alles weer op is. Onder hierdie omstandighede is daar maar min ontwikkeling in rekenkunde te verwag. Tussen hakkies is dit miskien nodig om te sê dat die gebrek aan hoër getalle as drie nie beteken dat hul nie met hoër getalle kon werk nie. Die Indiërs byvoorbeeld het twee woorde lakh en crore vir getalle wat ons nie woorde voor het nie, maar tog werk ons met daardie getalle (d.w.s. honderdduisend en tien miljoen). Die Australiër het ook maar woorde vir een en twee; maar drie is vir hulle twee-een; vier, twee-twee; nege, twee-twee-twee-twee-een; tien, twee hande; twaalf, tweehande-twee; twintig, een man; en drie-en-neentig, byvoorbeeld, tweeman-tweeman-tweehande-twee-een. Stow beweer dat die Boesmans op dieselfde manier tot tien getel het.