Maar dit was in dierkunde dat die Boesman uitgeblink het. Dit is waar dat hy nie ’n klassifikasie van die diere had of vir hulle lang Latynse name gegee het nie, maar hy het hul spore geken en gegraveer op rotse. Hy het hulle manier en gewoontes tot op ’n haar geken, en gaan ure en ure van tevore sy posiesie inneem waar hy weet dat die wild op ’n seker tyd sal kom. Die gevalle alreeds gesiteer met die leeujag bewys byvoorbeeld dat hulle die leeu se gewoontes baie goed geken het. Ja, en daar is van hulle wat beweer dat hulle die taal van die leeu en ander diere kan verstaan. Moet ons die bewering as verspot verklaar? Nee geensins. Laat ons weer hoor wat Campbell sê, die man wat hier in ons land in ’n wit-en-blou-gestreepte broek rondgery het om die Boesmanmeide die alfabet te leer. Hy sê dat ’n leeu en ’n volstruis so amper dieselfde geluid maak dat hy die een nie uit die ander kon onderskei nie. Dat hulle in dieselfde musikale klas kom, is waar, en Boesman folklore bewys dat die Boesman dit ook besef het, maar geen volstruisboer sal vir ’n minuut twyfel wanneer hy die een of die ander hoor nie. Blinddoek enige boereseun, en plak hom by ’n hoenderhok neer. Van wat die hoenders daar gesels sal hy haarfyn kan beskrywe wat onder hul daar plaasvind. Van ’n hond se blaf kan ’n mens sê wat vir wild hy gevind het, en kortom, verstaan ons die taal van die diere wat ons rondom ons het. Wat die Boesman dus beweer van die dieretaal is heeltemal geloofbaar. Dat hy hul gewoontes so goed ken dat hy as ’n dier vermom, tussen hulle kan ingaan, bewys ook dat hy in daardie opsig baie meer kennis had as ons hedendaagse dierkundiges. Dit is nou nie te lank gelede nie dat Fabre, die Franse entomoloog, ontdek het waar die gif op die hare van rispes vandaan kom. Die kortbeen-jagters het dit al lankal geken, en na die bron daarvan gegaan om pylgif te kry. En die GENEESKUNDE.wonderlikste van alles is nie dat hulle die en ook ander gifte ontdek het nie, maar dat hulle met die verskillende teëgifte wat miskien die grootste deel van hulle geneeskunde uitgemaak het, bekend geraak het. Hulle het wel ook van ander medisyne af geweet, en hul dokters het kennis gedra van nog meer; maar, soos selfs by ons moderne dokters in seker mate oogverblindery uitgeoefen word, omdat die mensdom dit wil hê, het hulle dokters ook getoor. Wat nou ook weer onlangs gebeur het, bewys, alhoewel nie absoluut nie, dat die Boesman medisyne het. Tien Boesmans (Marsarwes) is op ’n beskuldiging van moord, gevang, en in die tronk vir tien maande opgesluit. Toe, na tien maande die regering besluit het om nie met die saak aan te gaan nie, was daar maar vyf oor! Die ander is intussen gesterwe, maar die oorblywende, wat darem ook siek was, kom dadelik weer reg toe hul weer by hul wortels kon kom. Van hul towermedisyne soos die gekruiste houtjies, en snye oor hul liggaam, is dit onnodig om nou hier verder oor uit te brei. Hul geneeskunde, PLANTKUNDE.as ’n ware kennis apart van bygeloof, het afgehang van hul kennis van plantkunde, en dit soos ander kennis van hulle was eg prakties. Van bolle en blare en saad, het hulle geweet wat eetbaar is, wat medisyne is, en wat gif is—en dié vraag bly onbeantwoord: waar, hoe, en wanneer het hulle die belangryke kennis opgedaan? Hulle het STERREKUNDE.nooit plante gekweek nie, nooit geploeg of gesaai nie, en dus verwag ’n mens nie dat hulle die jaar in jaargetye sou verdeel nie, maar hulle het ’n woord vir somer, ’n ander vir winter, en een vir lente wat beteken vroeg-somer. Mejuffrou Bleek weet egter van geen woord vir herfs nie. Die skrywer meen dat die begin van ware sterrekunde in die landbou en die seevaart lê, en dat later die studie weer ’n verder stoot gekry het deur die Bygeloof wat altoos met die sterre gepaard gegaan het. Onder die Boesmans vind ons dus ook nie ’n ware kennis van sterrekunde met kennis van die reis van die son deur die konstellasies nie, maar ’n kennis alleen van seker sterre en sterregroepe. Canopus, een van die groter sterre, en Sirius het hulle ook geken en aanbid soos alreeds vermeld, maar wat interessant is, is hulle stories oor die Hart van die Dageraad. Uit die twede Rapport van Dr. Bleek oor Boesman-Navorsinge, aan die Kaapse Parlement, 1875, kom die volgende:—
“The ‘Dawn’s Heart’ (The Star Jupiter) has a daughter who is identified with some neighbouring star preceding Jupiter (at the time when we asked, it was Regulus or Alpha-Leonis). Her name is the ‘Dawns-Heart-child’ and her relation to her father is somewhat mysterious. He calls her ‘my heart’, he swallows her, then walks alone as the only Dawns-Heart Star, and, when she is grown up, he spits her out again. She then herself becomes another (female) Dawn’s-Heart, and spits out another Dawns-Heart-child which follows the male and female Dawn’s-Heart.”
Die eerste punt wat ons hier moet opmerk, is dat Dr. Bleek nie heeltemal seker is watter ster met die planeet Jupiter geassosieer is nie. Die tweede punt is dat uit die verhaal ons moet aanneem dat die Hart van die Dageraad en sy kind en kleinkind hemelse liggame is wat altoos naby mekaar bly, anders sou so’n intieme verhouding nie aan hulle toegeskrywe word nie. Ten derde, is dit vermoedelik, dat die gebeurtenis wat beskrywe word een is wat hom dikwels herhaal, anders sou dit nie besonder indruk op die primitiewe brein gemaak het nie.
Dit is vir die skrywer heeltemal duidelik dat Dr. Bleek nie die Boesman verstaan het toe laasgenoemde hom die “Hart van die Dageraad” in die hemel probeer wys het nie.
En waarom het die misverstand ontstaan? omdat die Boesman na iets wys wat die Blanke nie met sy blote oog kon sien nie! Die enigste liggame wat met Jupiter die hemel deurreis is sy vyf mane, wat eers in 1610 deur Galileo ontdek is, die eerste sterrekundige ontdekking gedaan nadat hy sy verkyker gemaak het.
Om sy bewering te staaf, dat die Boesman twee uit die vyf mane geken het, en dus waarskynlik lank voor Galileo hul ontdek het, is dit nodig vir die skrywer om by bowestaande nog die volgende by te voeg uit ’n boek oor sterrekunde deur Dr. Chas. A. Young, Professor in Sterrekunde by Princeton Universiteit.
“When Jupiter is in opposition, the fourth satellite is sometimes nearly 10½′ away from the planet, or one-third of the moon’s diameter; and in a very clear air (soos byvoorbeeld in die Karo) can be seen by a sharp eye without telescopic aid. The third, though larger, never goes more than 6′ from the planet and it is perhaps doubtful whether it is ever seen with the naked eye unless when the fourth happens to be close beside it.”
Hier sien ons hoe die prosaïese sterrekundige probleem van die beweginge van Jupiter se mane wat ons soveel hoofbrekens op die Universiteit veroorsaak het, in ’n digterlike manier deur die Boesman behandel is. Digterlik is ook sy beskrywing van die oorsprong van die maan dat dit ’n sandaal is wat !Kaggen in die lug gegooi het. Digterlik omdat hulle altoos praat van die maan wat loop oor die hemel en die skoen vir hulle die stoflike voorstelling van “loop” is. Soveel van wat DIGTERLIKHEID EN LETTERKUNDE.hul sê en doen is so deurtrek van digterlikheid, dat ’n mens dikwels twyfel of die volk wat sulke wonderlike werk in die beeldende kunste gelewer het, werklik nie meer as digters moet waardeer word nie. Alleen die internasionale medium van die eersgenoemde kuns sal waarskynlik altoos die skaal aan sy kant aftrek, daar die oorgrootste meerderheid hul digkuns alleen deur ’n tolk kan geniet.
In die besit van die skrywer is ’n stoflike gedig—’n Boesman gifpyl—die snel bode met ’n doodlike boodskap. Vooraan, op die kop lê die slanggif dik, en agter in plaas van die gewone seningband, is ’n ringetjie van slangvel aangekrimp. ’n Stoflike gediggie wat die slang beskrywe. ’n Toehoorder mag miskien beswaar hê dat die digterlikheid net in die verbeeldingskrag van die skrywer sit, maar met jou studie van die Boesman sien ’n mens soveel van dié gees dat dit nog lank nie onmolik is dat die pyl so afgewerk het nie. Dit is swaar om ’n gedig aan te haal, want die skrywer moet ongelukkig vertaal van ’n vertaling. Hier volg egter so ’n vertaling, en uit dit inleiding blyk dit dat die digter ’n man is wat deur die sendelinge sou beskrywe word as ’n man wat in die diepste ellende van onkunde verkeer, en tog hoe pragtig is sy beskrywing van die leegheid nou dat sy maat nie meer by hom is nie.
“Dit is ’n treurlied deur Gaattin gesing na die dood van sy vriend die towenaar en reenmaker !Nuin !Kuiten wat aan die gevolge van ’n skot gesterwe het wat hom een aand getref het terwyl hy, in die vorm van ’n leeu rondloop. (Hy sê die snaar wat daar so lief in die blou hemel gesing het in die leeftyd van die towenaar, word nie langer gehoor nie).
Dit was die mense die, wat
daardie snaar vir my gebreek ’t.
Daarom
word die plek nou so vir my
daaroor.
Want daardie snaar was wat vir my gebreek ’t.
Daarom
voel die plek nie meer vir my
soos dit hier eers gevoel het
daaroor.
Want
die plek voel net asof dit ope voor my gebreek het.
die plek voel net asof dit ope voor my staan
omdat die snaar vir my gebreek het.
Daarom
is die plek nie aangenaam vir my
daaroor.
’n Volledige, selfs seer uitgebreide behandeling van die digkuns en letterkunde van die Boesman kan onmolik hier ’n plek kry, maar die Filistyne wat nie wil glo in die digterlikheid van die Boesman nie, moet die gediggie aan ’n nog nie ontluikte blom lees, en dit ernstig probeer verteer.
Onder Dr. Bleek se ou Boesmans was ene IIKabbo, ’n oubandiet wat verantwoordelik is vir een van die mooiste digterlike prosastukke wat nog in ons land in enige taal saamgestel is. Dit is die beoordeling van die skrywer, en hy word in sy opienie gestaaf deur een van ons Afrikaanse digters wat hoog aangeskrewe staan. TONEEL- EN DANSKUNS.In die Boesman-kultuur gaan toneelkuns nie saam met letterkunde nie, maar maak feitlik met danskuns en musiek een geheel uit. Soos my toehoorders sal weet is die Bantoe-ekwiwalent vir die Afrikaanse vraag: “Wie is jy, en waar kom jy vandaan?” ’n vraag wat beteken: “wat dans jy?” (m.a.w. wat is jou ‘siboko’ of jou stam?) Dit wys op die feit, dat by die Bantoe die dans ’n half-nasionale, half-godsdienstige betekenis het. Dat dit so by die Boesmans was is vir die skrywer nog nie duidelik nie. Dat iets bowenatuurliks, mense straf wat te kwaai dans is ’n vaste geloof by hul. Ook is daar storie van ’n Godin en haar feë wat met die mense dans; en in seker van hul danse is daar ’n tydelike opheffing van die streng sedewette, iets wat by die Bantoe ook in seker Godsdienstige seremonies plaasvind. Dit is wel molik dat party van die danse, soos onder baie barbare half godsdienstig is; maar ander danse lyk meer op ’n gevolg van ’n opborreling van lewenslus as die heuning en vleis volop is; terwyl ander weer die egte tekens van toneelkuns dra. Vir die grootste gedeelte van hulle danse is al die dansers of die meerderheid vermom soos diere wat dan ook die gang van die diere namaak. Die danse sal ook waarskynlik dien as ’n oefenskool vir die jonger jagters. Die musiek word gewoonlik deur die meide verskaf, maar nie altoos nie.
PLAAT B.
Bo: Ou rotsskilderinge in Europa na Abbe Breuil.
Onder: Boesmanskilderinge van Modderpoort, O.V.S., na ’n skets van die skrywer.