Die musiekinstrumente van die Boesmans is die ’Kopo, ’Joum-’Joum, ’Kangan, en ’Goura wat almal op die boog gebaseer is. Siedaar ’n tema vir ons Afrikaanse digters—om te beskrywe die mooiklinkende klank van die singende snaar in die oor van die jagter wat weer indring in sy siel as hy die aand by die vuur sit en sy maters vertel, miskien nog in versmaat, van sy gelukkig jagtog. Onwillekeurig, onbewus gly sy hand na sy boog, en onwillekeurig pluk-pluk hy aan die snaar, half uit bewondering vir die klank, en half omdat die voel van die snaar en die klank van sy noot hom help om die jagtoneel weer voor sy oë saam te stel.
Hieruit is gebore die musiekinstrumente van die Boesmans—’n stel boë wat elkeen ’n aparte noot weergee of ’n boog met drie of vier snare; snare wat opgeblaas word, of gepluk of geslaan word, en miskien ook met ’n strykstok aan ’t trille gesit. Vir klankvergroting is ’n die later instrumente ’n skilpaddop of ’n kalbas vasgemaak. Buiten die snaarinstrumente is daar die fluitjie, die rommelpot of tamboer, en die Boesman-klokkies gewees. Laasgenoemde is uit gedroogde springbok-ore of soiets gemaak met klippies of saadjies daarin, en om die enkels van die danseres gedra.
Verskillende poginge is al gemaak om die Boesman-musiek op te skrywe, maar deskundiges sê dat dit nie met ons note molik is nie. Musiekkenners weet dat die ag note van ons Europese toonleer willekeurig is, en buite vir die eerste en laaste note daar geen egte wetenskaplike rede vir die aanneming van so ’n toonleer bestaan nie. In die musiek van ander nasies, dus, tref ons dikwels die vaste bestaan van kwart-tone, en ander, vir ons, uitheemse dinge. En dit is nie alleen onder minontwikkelde musikante nie; selfs die Skotte wat lank moes musiek gespeel het voordat hulle die wonderlike en wonderbare doedelsak ontwikkel het, gee bewys (as die skrywer hom nie misgis nie) deur hul ouer volksliedere, van die bestaan van ’n toonleer met maar vyf note in plaas van ons ag. So verskil ook die Boesman toonleer, maar die skrywer kan nog nie beskrywe presies waar die verskil lê nie.
Stow beweer, dat die Boesman onder al die inboorlinge die musikaalste aangelê is. Dit is moeilik om te bewys, en moeilik om te glo, nog te meer as ’n mens hulle musiekinstrumente vergelyk met die van die Bantoe; maar dat die digterlike skilders ook besiel is met ’n musikale gevoel wat tot in hul murg deurdring het, is duidelik uit die storie wat Stow ons vertel. Dit is van twee ou Boesmans, man en vrou vir wie hy sy kopieë van Boesman-skilderye gewys het.
“Eindelik kom ons by die prente van ou danse. Ou ’Kou’ke roep dadelik uit, ‘dit, a, dit was ’n pragdans, dit is die ’Ko’Ku-curra!’ Dit, sê sy, is uit die mode geraak toe sy nog ’n dogter was, maar is altoos in die dae van haar ouma se ouma gedans. ‘Ek ken ‘dit, en ken die lied.’ En dadelik met haar kop en lyf aan ’t roere, begin sy sing”——dan volg die musiek—“Terwyl ’Kou’ke die boonste reël sing, word die ou man meer en meer aangeroer en hou aan, aan haar arm pluk, terwyl hy herhaal: ‘Moenie! Moenie!’ Maar sy gaan maar deur; toe hy weer vreeslik treurig sê, ‘Moenie, moenie, die ou liedere sing nie, dit maak my hart te weemoedig’, maar sy wil nie luister nie, en hou aan selfs met meer lewe as eers, asof die herinneringe uit die verlede haar opgewonde maak, tot eindelik die ouman, nie meer in staat om sy gemoed te bedwing nie, uitbars met die lied van die twede reël”, (d.w.s. van die aangehaalde musiek). “Hul kyk na mekaar en was uiters gelukkig, die blik van die vrou was asof sy wou sê ‘A, ek dog dit sou jou omhaal!’ ’n Mens het nie verwag om ’n vertoning van sulke egte gevoel te vinde onder mense nie wat beskou en behandel word as die ontembare, venynige ongediertes wat die tot-die-dood-bestemde ras kamte is.”