Maar dit is nie te sê, al het die Boesmans ook ’n pedigree soveel duisende jare oud, dat hulle aristokrate was, of die fyn maniere had wat ’n mens van die lui verwag nie. Om nou met hulle ete en drinke te begin: soos Fritsch dit uitdruk, eet hulle enigiets wat hul tande kan kou, en drink hulle alles wat nat is. En dit is byna letterlik waar. Die ou reisigers gaan nog taamlik diep in onaangename besonderhede om te vertel hoe hulle die hele dier skoon opgeëet het—net die bene bly oor, en hulle word vir die murg gebreek. Weliswaar dat hulle bygeloof hul belet het om een of ander, vir ons heeltemal skoon, deel van ’n dier te eet, soos byvoorbeeld die biltongvleis van die hasie; maar dit was alleen hulle bygeloof, en dit was geen idee van gesondheid of fynheid wat hul beweeg het nie! By die slag van ’n dier, maak hul, volgens die beskrywing van Barrington in 1810, ’n bloeddrank aan wat afskuwelik morsig en vuil is. Wie verder informasie hieromtrent verlang moet maar die eerste band van Barrington se boek “An Account of a voyage to New South Wales”, naslaan.
Maar dit gebeur dikwels dat ’n Boesman die oorblyfsels van ’n leeu se buit of ander aas raakloop, en dan as daar nog veel kos op sit, trek hy met sy hele famielie na die plek en kampeer daar tot die bene kaalgekou is.
Dit is moeilik vir ons om ’n idee te vorm van die aptyt van ’n Boesman, maar ’n kort uittreksel uit Lichtenstein se Reisverhaal sal darem ’n bietjie lig op die saak werp. Hy vertel van ene Baardman, ’n berugte Boesman-dief wat voor die Landdros gekom het. Toe die Landdros hom vra waarom hy gesteel het,
“wys hy na sy lyf wat in plooie hang, en nadat hy ’n plooi in sy hand beetgeneem het, trek hy dit uit sover dit kon gaan, om te wys hoeveel sy huid kon hou as dit vol is; en toe, sonder om te wag op ’n aanmerking op die aanskouelike rede vir sy rowery, smeek hy vir iets om te eet, alhoewel hy, sowat ’n uur van te vore, op ’n goeie ontbyt trakteer is.”
Mej. Bleek vertel vir die skrywer dat die Boesman in sy taal nie minder as vyf werkwoorde het om te beskrywe hoe dik hy hom geëet het nie, en ons kry dus alweer hulp van die filoloog in ons poging om die eetvermoë van dié mensies te besef.