En soos sy idee van eerlikheid ’n verdraaide was vergeleke met ons ideë, so was dit ook met hulle Geloof of Godsdiens of wat gewoonlik by sulke primitiewe rasse godsdiens heet.
Die meeste outoriteite beweer dat die Boesman glad geen godsdiens, of glad geen idee van ’n Opperwese had nie; maar daar is veel feite wat nie maklik te verstaan is as dit werklik waar is. Om hieroor ’n duidelike begrip te kry, is dit nodig om eers te besluit wat ons verstaan deur godsdiens. As dit ’n geloof is in bowenatuurlike wesens, en in ’n lewe of iets na die dood, dan het die Boesmans ongetwyfeld van godsdiens iets af geweet. Bestaan godsdiens in die geloof aan een enkele Almagtige Opperwese, dan het daar geen Boesmangodsdiens bestaan nie. Maar om ’n geloof aan een God te soek onder die Boesmans wanneer die Grieke selfs met al hul ontwikkeling nie die begrip gehad het nie, is dwaas.
Hier weer voel die skrywer die onrypheid van sy behandeling van die onderwerp, en hier weer is ’n deel van die kultuur van die Boesman wat ’n aparte lesing vra. Die materiaal is nie alles vertroubaar nie, en lê so ver versprei, dat dit maar partykeer moeilik gaan om, soos die jong in die ou storie, die agterpoot en die oor bymekaar te kry. En daar bly ook altyd die gevoel by ’n mens dat by die volgende bron wat jy insien, jy iets sal vind wat jou ideë geheel en al omvergooi, en wat dit nodig maak om heelwat dood te krap wat jy op ’n vroeër geleentheid geskrywe het. Met hierdie verder waarskuwings en aanmerkings in die oog, laat ons maar na die Geloof van die Boesman terugkeer.
Mejuffrou Bleek beweer ook dat die Boesman geen God, en dus ook geen naam vir hom had nie. Daar was wel bowenatuurlike wesens wat hul gevrees het, waarvan die meesgevreesde miskien die Reen of Reenbul1 was; maar uit wat sy sê, lyk dit asof dit nie soseer die reen, maar meer die droogte is wat hul gevrees het. “As jy so en so doen, of sê, dan kom die reent nie!” het hulle mekaar gewaarsku. Sal dit nou ’n geloof wees wat hul met hul saamgebring het uit die Noorde, of is dit iets wat hul hier in ons dorre streke opgedoen het?
In die Noorde vind ons sonaanbidders, maar sover die skrywer weet is daar nie in die hele Suid-Afrika een enkele stam of ras inboorlinge wat die Son as die hoof aanbid nie, terwyl vir almal die maan die plaas van die son min of meer in hul godsdiens inneem. So het die Boesman nou ook die maan en sterre aanbid. Op so weinig getuienis as die skrywer het, durf hy nie ’n teorie baseer nie; maar vra is vry. In kou, nat Europa is die son altoos ’n ding van vreugde; maar tussen die keerkringe, of op ons dorre Karo, is dit die koelte dikwels wat ’n mens soek. In Europa is daar rede vir sonaanbiddery; maar sal ’n volk wat met so ’n geloof ’n trek begin en ’n duisend jaar miskien in die nabyheid van die ewenaar vertoef nog altoos aan die ou geloof vashou? Is dit nie redelik om te vermoed dat die heerlike koel maanligaande hul sal verlei nie, en dat die valse maangodin hul sal oorwin nie? Die Boesman het vir Dr. Bleek vertel dat hul hulle oë toemaak wanneer hulle die sterre aanbid. Is dit nog ’n oorblyfsel van die sonaanbiddery? Fakkels word ook gebruik in hul gebede, en in hul folklore vind ’n mens ook die idee van wierook.
In bose geeste, towery en paljas het hule vas geglo, ook in die Reenbul.
Stow beweer dat hul die Hottentotsgot, en ook ’n ander rispe aanbid het, maar alhoewel dit waar mag wees, moet ons daardeur nie verstaan dat dit vir hulle heilig was, of dat hul selfs soveel eerbied daarvoor getoon het as die Bantoe vir sy “Siboko” of die Australiër vir sy “totem” nie; want hulle het nie omgegee om die insekte te vang, en dood te maak nie. Dat daar iets geheimsinnigs was in verband met die Hottentotsgot of !Kaggen soos hul hom noem, was hulle van seker, soos die stories van die diertjie getuig, maar die mees treffende gebed wat die skrywer nog van hul gelees het, is die gebed aan die ster Canopus, ’n ster wat in die koudste deel van die jaar net kort voor sonop opkom. En die Boesman bid dan vir die ster om hitte in die son te sit! Daar is ook ander pragtige stories van Gode en Godinne, soos die van Goha en Ka wat Makoon ’n Boesmankaptein vir Campbell vertel het, maar dit kan ons nou nie ondersoek nie. Vir al die Gode het hul om kos gebid—om hul te wys waar die miereiers die sogenaamde Boesmanrys te vinde is, of vir wild, of vir sekerheid by hul pylskiet.
Fig. VI.
Die Reenbul—na ’n tekening van Orpen in die Grey Kolleksie, Openbare Biblioteek, Kaapstad.
(Sien bds. 29.)
Makoon, dieselfde Boesman wat vir Campbell die storie van Goha vertel het, het hom ook vertel dat hy nie in ’n lewe na die dood glo nie, maar dat as ’n mens doodgaan, jy heelternal dood is. Uit wat ander Boesmans weer sê, sowel as uit hul gedigte, is dit weer duidelik dat hul wel in ’n toekomstige lewe glo. En hul folklore-stories is net so teenstrydig; maar dat daar darem onder hul ’n geloof is dat daar iets anderkant die graf lê, is taamlik seker. Soos die ou Palaeolietiese man, en baie ander barbare, het die Boesman die gewoonte gehad om ’n lid van ’n vinger (gewoonlik van die pinkie) af te sit. Die ware betekenis van die afsit is moeilik om agter te kom. By seker volke het dit duidelik iets met die huwelik te doen, by ander word dit deur die towerdokter vir geneeskundige doeleindes aanbeveel. Dan is dit weer ’n offerande aan die bose geeste in geval van epidemies; ook word daar by die begrafnis van die hoof van seker volke ’n getal vingerlitte met die grootman begrawe, min of meer soos baie volke weduwees en ander famielie van ’n man saam met hom die ewigheid vir geselskap instuur. Waarom volg die Boesman die gewoonte? Barrington beweer dat die Boesmans dit gedoen het om van siektes ontslae te raak, en Mejuffrou Bleek vertel die skrywer dat in die ongepubliseerde materiaal deur haar vader en Mejuffrou Lloyd versamel, daar ’n storie voorkom wat dieselfde rede gee. In die “Bushman Folklore” van Bleek en Lloyd, word vertel dat die mans die eerste lit van die regterpinkie, en die vrouens die van die linkerpinkie afgesit het, maar daar word geen rede gegee nie. Stow beweer weer dat die rede is dat hul na hul dood baie kos sal hê op hul reis na ’Too’Ga, die vergaderplek van die oorledene. As Stow se bewering reg is, kan daar geen twyfel bestaan dat hulle in ’n lewe na die dood geglo het nie.
Die vroeër genoemde mnr. Smit van Dasfontein het ook vir Campbell vertel dat die lyke begrawe word met die oorlede se wapens aan sy sy, sodat hy hom na sy opstanding weer kan verdedig, en kos verkry; maar as die oorledene onpopulêr is, begrawe hul hom sonder wapens.
Sir George Keith (1819) in die beskrywing van sy reis na Suid-Afrika, vertel dat na die dood van ’n vriend hul sy gees aanspreek, en beledig hom omdat hy hul so vroeg verlaat het. Hy kon mos, sê hul, nog ’n bietjie by hul vertoef het. Livingstone vertel weer dat by ’n seker Boesman-begrafenis die vriende die dooie aanspreek en hom beleef vra om nie kwaad te wees nie al wil hulle (d.w.s. die vriende?) nog ’n tydjie op die aarde bly.
Die paar aanhalings is vermoedelik genoeg bewys dat die Boesmans nie geglo het dat met die dood alles eindig nie.
Daar is ander interessante feite in verband met die godsdiens wat baie aanloklik is om na te gaan, maar die skrywer is huiwerig om op die oomblik enige gevolgtrekkinge te maak, en lê die feite maar voor soos hy hul gevind het. Almal wat met inboorlinge gewerk het, weet hoe lief hul is om maar, ja, te sê op alle vrae wat hul nie goed verstaan nie, en hoe moeilik dit is om die waarheid te leer. Daarby moet ’n mens nog rekening hou met die feit dat die Boesman al jare in aanraking met ander stamme gewees het, en daarom moet ons ook voorsigtig wees met ons gevolgtrekkings gebaseer op die informasie deur later skrywers verskaf. Die sendelinge het ook aan die Boesmans gearbei, en by die oorweging van die Boesmanstories moet hulle invloed ook in die oog gehou word. Wat die invloed van die sendeling was, het die skrywer nog nie genoeg bestudeer nie, maar die volgende uittreksels word voorgelê, en as hulle verteenwoordigend is, was die invloed van die sendelinge maar gering.
Kircher het in 1799 probeer by Zakrivierspoort om die Boesmans te bekeer. Hy het die heiden leer bid in ’n vreemde taal met die hoop dat hulle later sou verstaan; maar die getrouheid aan die godsdiens het geduur net solank soos daar slagskape in die sendeling se kraal was, en nie ’n dag langer nie.
Campbell het omtrent net so te werk gegaan. Soos die storie lui, het hy eenkeer, blykbaar by ’n uitspan, twee Boesmanmeide uitgenooi en begin om hul te bekeer—hoe? Dit is byna ongelooflik, maar nietemin waar. Sy eerste stap was om hul die alfabet te leer! ’n Mens is verplig om hier Campbell se eie woorde aan te haal:
“… two of the women persevered in attempting to learn the alphabet till one of them knew half the letters. I left two Hottentots as their instructors, but they soon returned to the waggons saying their scholars had fled to the hills.”
Selfs in die stad waar ’n sendeling hom vestig, was sy invloed in daardie dae nie besonder sterk nie. Campbell vertel van die siekte van Matabee, ’n Betjoeana-kaptein. Hy het gemeen dat dit die towery van ’n Boesman is, en laat ’n Boesman en ’n Betjoeana-dokter roep. Toe hy gesond word, word dit publiek aangekondig dat die medisyne van albei hom goed gedoen het, sowel as die medisyne en gebede van die sendelinge. Geskenke is toe aan altwee dokters gegee, maar die sendeling kry niks.
Hoe min simpatie Campbell met die volkie gehad het blyk uit die volgende aanhaling. Hy (Campbell) het ’n Boesman se lewe gespaar; daaroor, sê Campbell, was die Boesman bly, iets wat vir ons almal maklik te verstaan is, maar nie vir Campbell nie: hy moes eers byvoeg die rede: “Life is precious even to a Bushman!” Nog een aanhaling om die verhouding tussen Boesman en Sendeling te wys, en weer moet ons Campbell se eie woorde gee. Dit was by Ramah, nou in S.W. Vrystaat waar hy die Boesmankaptein Kiewiet besoek het.
“I spoke to him of God, and his soul, and eternity; but he seemed quite indifferent about these subjects, making no reply, and asking for a tinderbox.”
Met die voorafgaande waarskuwings en aanmerkings, kan die skrywrer nou die volgende twee stories voorlê, en dit aan die geagte lesers oorlaat om hul eie gevolgtrekkings te maak uit die wonderlike ooreenstemming van die een met ons idee van die Drieëenheid, en van die ander met die dood en wederopstanding van Kristus.
Stow vertel dat die kruis enkel, of in groepe van drie, ’n ou Boesmanteken is, en van besonder nut by die behandeling van siek mense; ook dat daar drie groot kapteins bestaan: !Kaggen, Kogas (sy seun) en ’Qwanciqutchaa. Hulle is almal groot en magtig, maar !Kaggen het beheer oor hul almal en gee sy bevele deur die ander twee.
Fig. VII.
BOESMANTEKENINGE
A., B., en C., na Mej. Helen Tongue. D., na Stow.
Uit Bleek en Lloyd se Bushman Folklore kom die volgende baie verkort. Kogas die seun van !Kaggen gaan stokke haal (waarskynlik om ’n boog en pyle te maak) vir sy vader om die mense-wat-op-hulle-hakke-sit, mee te beveg (d.w.s. die bobejane toe hulle nog mense was). Nadat hulle die saak lank bespreek het, kom hul dit agter en slaan vir Kogas sodat sy oog uitspring en hy self sterwe. Toe speel hulle met die oog bal-bal. En !Kaggen sien dit en is so ontroerd, dat hy huil. Na ’n rukkie staan hy op en gaan na hul toe; maar eers dro hy sy oë af. Toe speel hy saam, en met behulp van ’n bietjie goëlery steel hy die oog van hulle, en gooi dit in die water waar na ’n paar dae die seun Kogas weer aan die oog gegroei het, en splinternuut weer uitkom.