Dié verhaal van Stow vertel ons van die musikale ekstase van ’n seker egpaar; laat ons onder die folklore van die Boesmans soek na iets wat ons miskien kan vertel van wat die volk dink en voel oor musiek en klanke. Ongelukkig is daar tot dusver nog so min gepubliseer, dat dit moeilik is om so ’n vraag te beantwoord, maar van wat gepubliseer is, kry ons ’n verhaal van wat feitlik ’n singwedstryd is (’n Boesman-Eistedfodd) tussen die volstruise en die leeus toe hulle nog mans was. Ook leer ons uit een van die verhale, dat die woord vir bewussyn beteken “dinksnare,” en as dié stilstaan, word die persoon bewusteloos. Vergelyk ook die gedig van die gebroke snaar wat eers die singer se heelal met soetklinkende trillinge gevul het. Hier het die musiek in die taal ingedring soos die “poker”-woorde in die taal van die Amerikaner, en die ossewawoorde in ons taal. Maar wat ’n mens merk in die gepubliseerde stukke is hoe dikwels, vergeleke met die paar plekke waar klank en musiek van gepraat word, die gevoel van skoonheid van vorm en kleur voorkom. Plekke, byv. beskrywe hulle as mooi, ook wolke en diere word bewonder. Ook die diere van hul fantasie word beskrywe as mooi diere—“gestreep soos ’n sebra”. Een van die verhalers vertel van ’n potjie wat gemaak is, ’n kleipotjie, pragtig bo al sy maters, ook en hier durf ek nie die vertaler se woorde weer vertaal nie, praat een van “a handsome young man, his head is surpassingly beautiful.”
En hul idee van skoonheid was nie bepaal deur kleur soos in die geval van die gestreepte dier of vorm soos by die kleipotjie nie; maar hulle het ook kan waardeer grasieuse beweginge as bewys deur !Han !Rasso wat vertel van die hasie wat hy had toe hy ’n seuntjie was, en wat hy so bemin het, want, hy dag “dat daar niks was wat sig so liefies beweeg, as die hasie wanneer dit saggies huppel, saggies daar rondhuppel.”
Dit is kunstenaarstaal, en kunstenare is uit die volk gebore wat nie die kop in skaamte hoef te buig in watter geselskap van skilders hul ook mag kom nie. Vir die kunskenner is dit onnodig om verder uit te brei oor hierdie punt, en die man wat geen oog vir die beeldende kunste het nie, kan ’n mens moeilik leer om die Boesmankuns te waardeer, of te geniet; maar met die name van reuse slaan ’n mens sulke Filistyne dood.
Neem byvoorbeeld die bekende skildery van die leeu wat die man opeet, die Filistyn beskrywe dit en dergelyke kunsstukke as “unbedeutende Kritzeleien welche gar keine Beachtung verdienten”, maar in daardie selfde gekrabbel sit Kuns! Net ’n paar lyne wat glad nie die omlyning is van “Felis Leo” nie, en tog staan daar die “vaal kat” met die gewig van ’n os in sy skouers en die ratsheid van ’n kat in sy voete! Nog nooit was daar ’n man soos die een wat daar sy doodskreet uit nie, en tog vertolk daardie krom lyntjies die wanhoop van die arme man, en sy skreë vir hulp klink in die ore van die toeskouer. Dit is die werk van ’n barbaar, onontwikkeld. Maar die Franse is tog die wêreld deur bekend vir ’n hoog ontwikkelde, kunsvolle nasie, en wat produseer daardie volk na al die jare, na al die eeue; nadat hul die kuns van Assirië, Egipte, Griekeland, Italië, Spanje, Holland, Indië, en Japan bestudeer en verteer het? ’n Skool wat werk lewer soos “Die Dans” van Matisse1. ’n Skool wat die Gees, die Siel probeer skilder sonder om te veel ag op die liggaam, op die uiterlike te gee. Die dorpeling gaan op die veld met ’n jagter; daar gunter is daar ’n beweging, wat oor is byna voor dit begin. “Dit is so-en-so ’n dier,” sê die jagter, en die dorpeling bewonder die jagter se skerp gesig, maar wat hy behoort te bewonder is die jagter se kennis. In daardie oomblik was daar byna geen kans om kleur te merk, seker geen kans om vorm te sien nie, maar wel tyd om die beweging te besef en te herken as van die of daardie dier. En dit verklaar een van die eienskappe van baie van die Boesman-kunsstukke. Soos in “die Dans” is die omlyning foutief, maar die beweging wonderlik, kunsvol, akkuraat. Voor ’n Boesman tekening staan baie met die gedagte: “Presies die jakhals wat ek nou-nou daaronder tussen die bossies gesien draf het.” Terwyl voor die doeke van baie van die moderne diereskilders, kom dié gedagte op: “Watter pragtige hare! Maar is die huid nie goed geskilder nie! Dit lyk kompleet die jakhals wat ek eergister in die museum gesien het!”
Die ander punte in verband met Boesmankuns moet ons maar net korteliks aanroer, want ’n behandeling van die Boesman-kuns verdien ’n aparte lesing. Maar ons kan hier darem op ’n paar ander eienskappe van die Boesman-kuns wys.
Die wanhoop van die leeuprooi2, die tergende speelgees van die bobejane, die wakkerheid van die jakhals, die gerustheid, of die argwaan van die bok3, die lompheid van die vermomde jagter, hoe duidelik het die Boesman kunstenaar ons dit vertolk; hoe duidelik is die bewys van sy vermoë op dié gebied. Die vorse spring van die leeu2, die sorglose, trotse, parmantige draf van die olifant en die “vry hotnot” wat hom houdings gee, hoe natuurlik is dit geskilder! Trek vir die laasgenoemde ’n rooibaadjie en blou broek met ’n rooi naadstreep aan, druk ’n platdop-pet op sy kop, en daar het jy ’n Phil May-tekening van Tommy Atkins.
Diere in profiel is baie algemeen4, en hier en daar vind ’n mens een wat baie vry, byna matematies versier is, maar die durf van die Boesman is partykeer brutaal in sy keuse van ’n onderwerp, en hy skilder diere in houdings wat geen Europeaan sou durf weergee nie5. Terwyl hulle dikwels enkele diere en mense skilder, is daar baie werke van hul bekend waar ’n jagavontuur of ’n dans, of ’n toneel uit hul geskiedenis afgebeeld is. Daar is bekend ’n ’goin ’goin-dans, ’n ’Ko’ku-curra-dans, ’n Mo’Koma-dans, en een wat waarskynlik die Wysgeer se dans weergee. Jagavonture is volop, die jag van die olifant, die elande, die volstruis en die leeu. En van die laasgenoemde, is daar twee wat die skrywer besonder interessant vind, een waar gebruik gemaak word van die elandsvel-skilde, en een waar die Boesman die leeu na die skutters toe lok. Oorlogtonele bestaan uit afbeeldinge van gevegte tussen Boesman en Bantoe, Boesman en Hottentot, Bantoe en Bantoe, en Boesman en Boesman. ’n Pragtige voorbeeld van hul kuns is die tekening van ’n klompie Boesmans wat van die Bantoe ’n twintigtal vee steel, ’n ander vertel weer van hoe hulle ’n Boer doodgemaak het en sy vee gebuit het terwyl sy Bantoe-veewagters vlug. Wat besonder die oog vang in hierdie tonele is, wat tegnies heet die komposiesie, en ’n wonderlike ineenloping van lyne is in hulle werk te bespeur wat nie toevallig kan wees nie. Mense en diere is dikwels te vinde, maar landskappe en plantelewe minder algemeen. Die skrywer weet alleen van een verdroogde pan, ’n paar bome (een uit Rhodesië met ’n papegaai daarin) ’n klompie takke, enige kiepersolblare, en ’n klein klompie bome en bolle wat hul uit hul eie gedaan het. Hulle het ook bewys gegee van ’n liefde vir mooi lyne wat niks stofliks voorstel nie.
Die kleure wat hul gebruik het is wit, swart, geel, oranje, bruin, sjokolaad, rooi, rosskleur, pers, blou en groen. Mej. Bleek weet van geen woord in hul taal vir pers nie en sê dat hul maar een woord het vir blou en groen. Dit beteken natuurlik nie dat hulle nie die verskil weet nie, want ons noem byvoorbeeld al die volgende kleure rooi, alhoewel ons goed besef dat hul nie almal dieselfde kleur is nie: die kleur van ’n pennieposseël, en die kleur van die posbus, die kleur van ’n rooi os, en die kleur van rooi hare, die kleur van ’n rooi-roman, van rooi-koper, en die kleur van bloed.
Maar buiten die ge-illustreerde geskiedenis en versieringe alreeds omskrewe, is daar honderde tekens waarvan ons nog nie en waarskynlik nooit die ware betekenis sal weet nie6. In byna enige grot is hul te vinde, en dieselfde ontwerpe wat ’n mens langes die Vaalrivier naby Kimberley op die harde rotse graveer, vind, pryk in verf op die rotse in Basoetoeland. Alleen van een of twee van die tekens is die betekenis bekend. Is hulle ’n primitiewe skrif wat miskien alleen deur ’n klein getal ingewydes bekend is? Is hulle ’n oorblyfsel van ’n ou Geloof? Wie kan vandag sê! Hulle is geheimsinnig, of om meer akkuraat te wees, is hulle betekenis vir ons ’n geslote boek. Dat ’n geheimsinnige of godsdienstige of toweragtige agtergrond of oorsaak bestaan vir die Boesman-skilder en -graveerkuns is die idee van seker deskundiges, maar ander soos Hahn en Stow ontken dit ronduit. Daar is tekeninge wat met hul Geloof en Bygeloof te doen het, maar sover die skrywer kan oordeel is daar net so min towery of godsdiens daaraan verbonde as aan die prente in ons ge-illustreerde Bybels. Baie van die tekeninge het eenvoudige verklaringe, maar ons kennis van die volkies is te beperk. Fritsch byvoorbeeld skrywe:—
“Zuweilen scheinen die Künstler aber ihrer Phantasie freien Spielraum gelassen zu haben wie sich z.B. eine nackte menschliche Figur mit rothem Zickzack streifen um die Lenden und einem Ding wie ein zusammengefalteter Regenschirm in der Hand auf einem Felsen in Key Poort (östliche Colonie) vorfand, welche sich nicht wohl deuten lässt.”
Vandag weet ons dat wat Fritsch nie kan verstaan nie ’n afbeelding is van ’n Kaffer met ’n steekasgaai wat soveelmaal groter en breër is as die Boesman-pyl, en vir hom so lomp lyk, dat hy digterlike vryheid gebruik het en die lompheid te oordrywe soos ook in die grot by Modderpoort, O.V.S.
Die handigheid van die Boesman om gebruik te maak van die natuurlike vorm van die rotsoppervlakte in sy tekeninge; sy wonderlike graveerkuns waarmee hy ook pragstukke gelewer het7, Stow se teorie dat die Boesmans uit twee aparte stamme die skilders en die graveerders of beeldhouers, soos hy hul noem, bestaan; en die praktiese moderne toepassing van die Boesmankuns, behoort meer tuis by ’n behandeling van hul kuns, en sal ons hul maar vir ’n later geleentheid laat bly.
En so laat ons tydelik afskeid neem van die Boesman, die dwergie, die barbaar, wat in sy primitiewe staat beter kon teken as die Egiptenaar en selfs as die Griek toe die al die fondament van ons wysbegeerte en boukuns aangelê het. Ons bejammer die Boesman, en daardeur minag ons hom. Is sy primitiewe toestand voor die koms van die Neger en Blanke rasse meer te betreur as die van ons? As hy genoeg kos het, (en hy kry genoegsame gesonde liggaamsoefening om dit te wen) kom hy tuis na sy vrou en kinders en geniet daar sy vleis en groente met sy bier. Daarna kan hy vir hom besig hou met die kunste en sy geestelike genot uit die wêreld trek. Kom daar nie duisende Blankes van hongersnood om nie? Is die krotjies in die agterstrate van die stede te vergelyk met die grotte onder die kranse wat uitsien op myle en myle varse lug?
PLAAT C.
“Die Dans” van Matisse, na ’n reproduksie in “Cubists and Postimpressionism,” deur Eddy.
En waar bestaan die volk wat soveel digterlikheid en letterkundige smaak sal vertoon onder so ’n klein klompie indiwidue as wat Dr. Bleek by hom had, en dié nog almal uit die tronk uitgehaal?
Ekonomies is ons vooruitgegaan, maar as die ware geluk, die doel is van die mensdom, die mikpunt van almal, kan ons ons nog die vraag stel—Is ons werklik nader aan ons doel as die Boesmans?