DIE JAG.

Van ’n bespreking van hulle godsdiens, keer ons nou na die meer materialistiese sy van hul lewe, en die eerste wat ons moet bespreek is natuurlik hulle nering en hulle lewensmiddele. Die honger beheers die wêreld, en totdat die barbaar iets gedoen het om die inwen van sy kos effens te vergemaklik, sal ons tevergeefs soek na kuns of ’n estetiese lewe. Die Boesman was ’n jagter; sy hele lewe het afgehang van die wild wat sy vee was, en ons kan nie dankbaar genoeg wees vir die eerste Boesman-voorvader wat die pyl-en-boog ontwerp het, en vir al sy nakomelinge wat met hul vernuftigheid al die ander kunsies uitgevinde het nie, sodat die kunstenare van die ras tyd had om te droom, en ons van hul verskillende kunswerke iets na te laat. Sy kennis van jag en sy metodes is dus van belang vir ons, want dit vind ook ’n weerkaatsing in sy kuns.

As ons “jag” in sy wydste betekenis aanneem as kos soek, het die Boesman se jagkunde bestaan uit kennis in verband met die insameling van eetbare bolle (selfs as die blare al verdwyn het) van miereiers of Boesmanrys (d.w.s. die larwe van die miere) van insekte, van heuning, vis, en wild van alle groottes tussen ’n muis en ’n olifant.

Hier is daar weer ’n interessante studie—die jagmetodes van die Boesman, en alles wat daarmee samehang. Die eerste wat ’n mens sou merk as jy met ’n Boesman gaan jag, sou sy wonderlike skerp gesig wees. Ons sal later weer op hierdie punt moet terugkom, maar om hier aan te toon hoe skerp sy gesig was, afgesien van sy veldkennis wat dikwels sy gesig gesteun het, moet ons hoor wat Lichtenstein sê van ’n seker Boesman, ene “Flamingo,” wat Generaal Jansens met hom na Europa geneem het. Hy sê dat die Boesman se gesig so skerp was, dat hy op die reis dikwels skepe van die dek gesien het wat die matrose, selfs van die mastoppe met hul vêrkykers amper nie kon raaksien nie! Bye in die vlug het hul gevolg, en op die manier die byneste gevind. Von Wielligh vertel ook van ’n ander manier waarop hul die rigting van die neste ontdek het. As ’n nes dan gevind is en dit hoog in ’n kransskeur sit, beklim hul die krans, indien nodig, met behulp van penne wat hulle inslaan, of anders kom hulle van bo af met behulp van lang rieme.

Die twede punt wat ’n blank jaggenoot van ’n Boesman sou merk, is sy wonderlike, byna geheimsinnige, kennis van spore. Vir hom was spoorvolg so maklik soos brieflees vir ons. Baie van die hedendaagse skrywers beweer dat die wild altoos kort na ’n gifpyl hul tref, gevrek het; maar die rede van hierdie bewering hoef ons nie nou te bespreek nie. Dit kan bewys word dat dikwels, (waarskynlik met die grootste wild) dit ure en ure geduur het voor die dier gaan lê, maar die Boesman het so ’n dier nie dadelik gevolg nie—hy het gewag tot dit tyd was vir die gif om te werk, en toe die spoor afgeloop—deur al die duisende spore van dieselfde soort dier! Die betekenis van die spoor en sy verhouding tot die dier of mens self leer ons uit die geloof van die Boesman dat, as ons sterwe, die wind kom en ons spore wegneem—“anders sou dit nog lyk,” sê hulle, “asof ons nog lewendig is.”

Ja, die Boesman kon “loop en lees”! ’n Boesman kon te voet spoorvolg, en by berede Blankes hou! En sy spoed is iets om te bewonder. Wat nou die “record” sal wees, weet die skrywer nie, maar onlangs hoor hy uit ’n geloofbare bron dat ’n Boesman tussen sononder en sonop 48 myl afgeloop het, en die oggend na die werk kom sonder om te wys dat hy iets besonders gedaan het of ’n slaaplose nag gehad het; en ook uit dieselfde bron, van ’n ander Boesman wat weer tussen 4 uur v.m. en ongeveer 8 uur namiddag, 84 myl geloop het; en dan nog kla dat hy vroeër sou teruggekom het, maar die Baas het nog na die ete gaan slaap voordat hy hom die antwoord wou gee! Bleek en Lloyd se Boesmans vertel hoe hul lewendige (d.w.s. sonder wonde) wild ingehol het. Verbeel jou ’n springbok of ’n hasie inhol! Uit genoemde stories blyk dit dat een man ’n hasie kon inhol, maar wat meer waarskynlik is, is dat ’n partytjie saamgewerk het, en mekaar afgelos het soos Fritsch dit ook beskrywe. Fritsch, soos enige man wat oor die Boesmans skrywe moet doen, het taamlik baie aggegee op die jag, en sy opsomming van die onderwerp is goed. Die skerpte van die sintuie van die Boesmans, sê hy, en in die besonder van hul oë, is hulle tot groot nut gewees, maar dit maak nie vir hom ’n jagter nie; daarby is daar sy skranderheid en sy slimheid wat hom lei om alles aan sy doel diensbaar te maak. Hy het vernuftige valle en vangmetodes uitgedink om die wild in sy hande te kry wat baie van die ander inboorlinge nie eers kon naäap nie. En dan moet ons Fritsch se eie woorde hoor:

Er kennt die Gewohnheiten der Thiere auf’s Genauste und mit eiserner Geduld lauert er am bestimmten Ort auf seine Beute und fühlt nicht Hunger, Durst, oder Hitze, solange noch eine Hoffnung auf Gelingen vorhanden ist.

Oor die valle wat Fritsch van skrywe, is dit onnodig om nou verder te spreek; maar daar is een vangmetode wat by hulle so algemeen was, en met soveel variasies toegepas is, dat dit die moeite werd is om dit te ondersoek. In beginsel bestaan die metode uit ’n seker gevaarlike sentrum, en ’n tregter om die prooi op genoemde punt te konsentreer. Die gevaarsentrum bestaan miskien uit ’n vanggat, of ’n groepie skutters, of in die geval van vis—uit ’n mandjie, spesiaal ontwerp en gevleg vir hierdie doel. Die tregter bestaan uit klipmure, of uit ander jagters met veel strategie op seker punte geplaas, of uit ’n ry stokke met koppe van met-rook-deurtrokke volstruisvere, of in die geval van die visvang, uit ’n damwalletjie dwarsdeur die rivier gebou. Die prooi word dan aangeja na die bek van die tregter en by die tuit gedood.

Fig. VIII.

Fig. VIII.

BOESMANTEKENINGE.

A. en D., na Mej. Helen Tongue.

B., C. en E., van grot op die plaas Minnehaha, Distrik Zastron, O.V.S., na tekeninge van die skrywer.

Sien bds. 71.

Die vanggate van die Boesmans is ook iets wat ons aandag trek. Campbell vertel van ’n groep van twaalf gate wat hy gesien het in die vorm van ’n halfmaan 20 voet lank, 10 voet wyd, en 5 voet diep in die grond gegrawe, met twee rye kleintjies in die middel van elke put. Dit is byna ongeloofbaar dat die Boesman dit met hul ’kibie-stokkie kon gemaak het.

Toe die ander rasse Suid-Afrika ingetrek het, en die Boesman in sy jagtery gestrem het, het hulle by die weerwraak van die Boesmans ’n ander merkwaardige kuns van die dwergies ontdek, naamlik dat die Boesman hom so goed kon wegsteek en vermom dat jy byna op hom kon trap voordat jy hom sien. Dit was werklik ’n groot kuns van die Boesman. Met ’n graskroon op sy kop, was hy in die gras onsigbaar; met ’n kop en vel van ’n dier oor sy lyf en sy kort bene deur die gras bedek, het hy wild bekruip. Hy het dit nie gewaag om diere te bekruip wanneer hy soos een van hulle vermom was nie, maar altoos wanneer vermom soos ’n diersoort wat gewoonlik met hul saamwei—met een uitsondering alleen, sover die skrywer weet, naamlik in die geval van die volstruis. Is dit omdat die voël so vreeslik dom is, so min harsings het in verhouding met sy groot liggaam?

Maar vermom soos stof of gras, of dier of voël, het hy met sukses sy vyand of prooi bekruip, en het ook geweet hoe om selfs sy vermomde lyf weg te steek. Baie Boesmans is voorsien van gelaatstrekke so plat dat ’n plank tegelykertyd ken, lippe, neus, wange, en voorhoof kan raak, terwyl die uitpuilende oë nie ver van die plank sal sit nie. Uit die vorm van sy kop het die Boesman ook voordeel getrek, want, volgens Stow, as hy wild bekruip, en wil sien hoe dit voor lyk, lê hy plat op sy rug met sy voete na sy prooi en lig sy kop dan net so hoog op dat hy oor sy wange kan sien wat hy wil sien. As hy so lê, is sy oë (sy periskoop) feitlik die hoogste deel van sy kop, en alles te same is daar nie een vierkant duim oppervlakte van sy kop te sien nie.

As hy naby genoeg aan die prooi kom, los hy ’n gifpyl. Sy boog is maar klein, sy pyltjie so lig, dat hy baie naby moet kom voordat hy kan skiet; en dan is dit alleen deur die gif dat hy iets met die wapen kan uitvoer. Die gif is van verskillende soorte—onder ander, slanggif, bolletjies-gif of malkopgif, klipgif, en ’Ngwagif. Die slanggif het hulle uit die gifkliere van slange gekry; die malkopgif van die gif-amarillis (Haemanthus toxicarus); die klip-gif (volgens Fritsch) van seker bolle wat tussen die rotse groei. Maar die giftigste van almal is die ’Ngwagif van die ingewande van die ’Ngwa, ’n seker soort rispe of wurm gemaak. Al die verskillende gifte is gemeng met een of ander soort harpuis van ’n norsboom versamel, en dik gekook, sodat dit maklik op die pyl kan gesmeer word. Soos ’n skilder, nou hierdie, dan weer daardie penseel gebruik, of ’n kolfspeler nou die, nou daardie stok kies, so het die Boesman ook vir verskillende doeleindes verskillende gifpyle uit sy koker uitgesoek. Klein wild is gou dood, selfs met ’n swak gif; groot wild, en leeus het sterker gif nodig, maar die sterkste is nodig om die volstruis te dood.

Die uitwerking van die aparte soorte gif was ook anders: die een het meer op die senuweegestel gewerk—die malkopgif—die ander het weer ’n “septiese” wond veroorsaak. Die dood volg gewoonlik binne twaalf uur van dat die man of dier deur die pyl getref is.

Gewoonlik dra die Boesman sy pyle onderstebo in sy koker, maar as hy ’n geveg tegemoet gaan, dan dra hy die pyle in ’n band om sy kop waar hy hul maklik kan by, en dan kan hy, sê hulle, tot drie pyle in twee sekonde skiet!