EIENDOMSBESEF.

Die maak van die pyle met sy los kop is vir ons doel van belang omdat ons daarin sien hoe die Boesman die giftige pylkop bewerk het sodat dit in die wond kan bly steek, al breek die pylriet af.

Ook om een ander rede is die pyle vir ons belangryk, naamlik omdat die jagter sy eie pyl met sy eie teken merk; want hier sien ons die begin van skrywe, en ook ’n bewys van ’n vaste eiendomsbesef wat ons graag verder wil ondersoek. Dieselfde beginsel van ’n teken wat aandui dat ’n artiekel aan die of daardie behoort, is te vinde by die byneste wat altoos deur die ontdekker gemerk is as sy eiendom en daarna, soos een Boesman gesê het, soos sy melkkoei word. Kom daar ’n kolonis wat die teken nie sien of ken nie, en die nes berowe, het die Boesman weer ’n klagte teen die Blanke wat hy dan geregtig voel om te berowe.

Die kos wat ’n Boesman gewen het, was sy eiendom, maar hy was baie gasvry, en het gewoonlik sy kos gedeel onder die ander. Dit word ook bewys deur die skelnaam “Vrot arm” wat hul gebruik om die gierigaard te beskrywe. Die verdeel van kos was so algemeen dat daar spesiale beleefdheidsvorme teenoor die gasheer ontwikkel het, soos byvoorbeeld die terugbring van die bene na die gasheer as die maaltyd oor is. Maar om absoluut seker te wees dat daar ’n eiendomsbesef onder hulle was, is dit nodig om te bewys dat hulle ook koop of ruil geken het, en ook diefstal bestraf het, want dit moet mos met eiendomsbesef gepaard gaan. Uit die vertellinge van Bleek en Lloyd se Boesmans kan dit gelukkig bewys word, want daarin lees ons dat die !Kun Boesmans ’n dief selfs met die dood straf, terwyl ander verhale melding maak van die verruil van goed saggebreide karosse vir rooi-smeergoed en gifpyle. Dit was natuurlik net onder hulselwe. Later, toe hul met ander inboorlinge gehandel het, het hulle, so vertel Mejuffrou Bleek vir die skrywer, velle en heuning vir ysterpylkoppe gegee (meestal heuning). Maar daar is ook ’n ander soort handel wat hul met die vreemdeling en uitlander gedrywe het wat interessant is in verband met die eiendomsbesef, en dit is die grondhandel.

Toevallig is al die informasie in die verband wat die skrywer tot dusver ingewen het, van aparte bronne, net oor die handel tussen die Boesmans en die famielie Kok. In 1811 (of 12) was daar net een Boesman, Oktober Bailie, op die terrein waar die dorp Campbell vandag staan, en Adam Kok het hom 150 dalers betaal om van die fontein weg te trek. In 1819 het Cornelis Kok weer seker bome afgekap om lande te maak. Die plaaslike Boesman-Kaptein het by hom kom protesteer teen die uitroei van die bome wat vir hom en sy volk in die somer skaduwee verskaf het. As skadevergoeding gee Cornelis vir hom twee osse, tien bokke, en die wins van ’n half boesel koring (d.w.s. ses sakke).

Fig. IX.

Fig. IX.

BOESMANTEKENINGE (na Mej. Tongue).

Sien bds. 72.

In die ou dae, toe die Boesmans alleen Suid-Afrika besit het, het elke stam sy eie jagterrein gehad, en geen een kon sonder toestemming op ’n anderman se terrein jag nie. Mejuffrou Bleek vertel vir die skrywer dat dit nie soseer die grond was wat hul besit het nie, maar seker fonteine met al die wild wat by dié fonteine suip. Vergelyk dit met die volgende aanhaling uit Stow se “Native Races of South Africa”:

“His territory extended from the Zeekoe river to van der Walts, Buffelfontein, and in describing it ’Na ’na ’Kow used to say he drank of the Zeekoe river and of van der Walts fontein.”

In die Kaapstadse museum is daar seker bewerkte klippe wat as bakens gedien het. By ’n ooreenkoms tussen twee naburige stamme, is die bakens in die fontein gesink om later, indien nodig, as getuigenis te dien by ’n stryery oor die grense.

Daar bestaan twyfel of die bakenklippe dan Boesman- of Hottentotklippe is. Hahn sê dat die Hottentotte hulle grense by fonteine bepaal het, en die Boesmans alleen by berge, ens. As dit waar is, is die bakens ongetwyfeld Hottentotklippe, maar van wat hierbo aangehaal is, is dit duidelik dat die saak nog verder moet ondersoek word. Ons moet ook nie vergeet dat die fontein as sulks ’n groot rol in die jag van die Boesmans gespeel het nie. Dit was sy lokaas vir die diere in die droogte. Die klein fonteintjies word toegeprop—letterlik met ’n platklip met ’n sponsgat daarin, en by die groot fontein, dan die enigste water in die omgewing, lê hy die wild voor. Die grond dus, of in elk geval die fonteine en die wild wat daar suip, behoort aan die stam, en alle ander artiekels wat arbeid gekos het by die vervaardiging daarvan, kan beskou word as eiendom, tot selfs die smeergoed wat uit die “myn” moet gekap word. So sou daar dan eienare gewees het van die rooi en die swart smeergoed waarmee hul hul gesmeer het, en die groen blinkende erts waarmee die meide hulle by hul feeste gepoeier het; die volstruiseierdop-krale wat hul so mooi gemaak het, en in snoere om hul lyf, nek, arms en gesig gehang het; die klein ’kibie-hangertjies, hul halssnoere van tande gemaak; hul karosse; hul sandale en ander kledingstukke; hul skilpaddop- en volstruisborsbeen-skottels; hul kleipotte; hul mooi versierde volstruiseierdop-waterkraffies; hul been- en ivoorelse; hul gifklip, hul pyl- en kraal-skuurklippe; hul vuisbyle; hul ’kibies, hul maalklippe, hul verf-potjies, hul pensele en palette, hul velsakke, hul pyle, hul boë, hul pylkokers, hul vuurmaak-stokkies; hul fluitjies, tamboere, goura’s en ander musiekinstrumente; hul matte; hul eiernette; hul vismandjies; hul oorbelletjies, ens. Die Boesman het baie daarvan gehou om sy lyf te versier, maar nie soveel soos die Bantoe nie. Hy self was nie mooi nie—sy gelaatstrekke LIGGAAMS­BOU.het ons alreeds bespreek. Die ander merkwaardige deel van sy liggaam was sy fyn hande en klein voete. Die studie van die liggaamsbou van die Boesman behoort egter nie hier by ons tuis nie wat meer belang stel in sy karaktertrekke en in die ontwikkeling van sy brein.