REGERINGSVORM EN ORGANISASIE.

Dit word dikwels beweer dat daar geen regeringsvorm of organisasie onder die Boesmans bestaan het nie. Dit kom gedeeltelik deurdat die meeste skrywers maar die mense begin bestudeer het na hul as ’n volk opgehou het om te bestaan, en gedeeltelik deurdat die ideale regeringsvorm vir ’n volk soos die Boesmans so anders is dat dit nie so in-die-oog-vallend vir die reisiger kan wees nie. Francis Leguat wat in 1708 sy reisverhale gepubliseer het, sê:

“nog die Hottentotte nog enige ander nasie by die suid punt van Afrika is absoluut sonder regering nie.”

Ons het dus skriftelike beweringe aan albei kante. Laat ons die aparte feite wat met die saak te doen het, ondersoek en sien wat ons daaruit kan aflei. Lichtenstein, sowat ’n honderd jaar na Leguat skrywe:

“daar is maar min verkeer tussen die aparte groepies; hulle werk selde saam, as dit nie in ’n groot onderneming is waarvoor die verenigde krag van ’n groot getal geëis word nie.”

Starrman, ’n twintig jaar vantevore, herhaal wat ’n trekboer vir hom gesê het, naamlik dat, van die Blanke met ywer die Boesman begin uitroei het by Bruintjieshoogte, het dié hul aantal vermeerder. Dit steun wat Lichtenstein vertel, en wat Lichtenstein gesê het, bewys wel die bestaan van ’n organisasie wat die mense in geval van nood bymekaar kon roep, en dit weer veronderstel ’n hoof, d.w.s. ’n regering hoe swak of vaag ook al vergeleke met ons stelsels. Die skrywer is dus geneig om aan te neem wat Stow sê.

Fig. X.

Fig. X.

BOESMANTEKENINGE (na Mej. H. Tongue).

Sien bds. 72.

Hy skrywe dat ’n Boesman hom vertel het dat die ou Boesmans in seker groot stamme verdeel is onder een groot hoof wat een stuk grond had (jagterrein), taamlik goed afgebaken. Die stamme is dan verder verdeel en onder onderhoofde geplaas wat elkeen byna onbeperkte magte had. Maar in tye van gevaar het hul altoos weer rondom die groot Kaptein vergader. Hulle was baie getrou.

As Stow verder reg is in sy bewering dat die Tamboekies bestaan uit Boesmans en ’n deel van die Abatemboe wat by Boesmans beskerming teen hul vyande na ’n burgeroorlog kom soek het, dan is die bestaan van ’n organisasie absoluut bewys, want ’n Bantoe-stam, al is dit verslaan, kon onmoontlik ’n veiligheidsoord by twee of drie loshangende “huisgesinne” van Boesmans gevind het.