VRYHEIDSLIEFDE.

Theal prys “the intense love of liberty” van die Boesman; Fritsch, “diese Freiheitsliebe” maar Stow gee vir ons ’n skets wat hy van Dr. Rubidge, wat blykbaar self teenwoordig was, gehoor het. Dit het geen verder aanmerking of aanvulling nodig nie:

“.…..Nadat hulle seker skade teweeg gebring het, is die stammetjie omsingel deur ’n kommando wat hul nagevolg het, en daarin geslaag het om hul af te sny tussen die rotse van ’n oorhangende punt bo ’n steil afgrond. Hier vir die laaste keer het dié Boesmans gestaan om slag te lewer. Hulle onversadigde vyande dreig aan die een kant, aan die ander lê die afgrond wat alle moontlike hoop van ontsnapping belet. ’n Bloedige maar hopelose stryd vir die lewe begin—een na die ander val hul voor die koeël-reen wat hul teenstanders op hul uitgiet. Die gesneuwelde en sterwende lê opgehoop op die skrikwekkende krans; veel, met hulle laaste worsteling met die pyn, rol en val tussen die omliggende punte en splete. Maar weerstand bied hul nog, en beswyk een na die ander tot alleen een enkele oorbly.

“En tog, met die bloedige hoop dooies om hom, en die verbryselde lyke van sy kamerade op die rotspunte onder hom, het hy net so onbevrees daar uitgesien as toe hy deur die ganse genootskap van sy dapper broederkrygers omring was. Op die uiterste punt van die oorhangende rotse neem hy sy posiesie in; daar, met ’n afgrond van sowat tweehonderd voet aan ieder sy van hom waar geen man hom sou durf volg nie, daag hy sy vervolgers uit. Tussen die koeëls wat soos haelstene om hom heen slaan, het dit gelyk as of hy met paljas betoor is, en met nimmer feilende hand los hy pyl na pyl op sy vyande waar en wanneer een van hulle onversigtig hom ontskuil.

Fig. XII.

Fig. XII.

Gegraveerde Olifant, na ’n skets van die skrywer. Die rots met die kunswerk daarop is in die Museum, Kaapstad.

Sien bds. 74.

“Die snaar van sy boog lê al teen sy laaste pyl; ’n gees van medelyde trek blykbaar oor die venynige vyandelike skaar wat hom van alle kante bedreig; hulle roep na hom dat sy lewe sal gespaar word as hy hom oorgee. Met minagting skiet hy sy laaste pyl op die spreker met dié woorde: ‘’n Opperhoof weet wel hoe om te sterwe, maar nooit om oor te gee aan die ras wat hom uitgebuit het nie!’ Toe met ’n wilde kreet van minagting draai hy om, en spring daar onbevrees die steil afgrond af waar hy, op die rotse vermorseld, sy dood ontmoet. So het vergaan met onverskrokke moed die laaste van sy stam, en met hom verdwyn sy stam ook uit die geskiedenis van Suid-Afrika.”