Van die name wat ander nasies vir hul gegee het, sal later weer iets gemeld word as ons die verhouding tussen die Boesmans en hulle bure behandel; maar ons sal nou eers ons eie woord vir die eienaardige dwergies moet bespreek. Boesmans, Bushmen, Buschmänner, Boschimans—al die beskaafde tale lei die woord af van die Neerlandse Bosjesmannen. Hoe Bosjesmannen verkort word tot Boesmans en nie Bosmans of Bossiesmans nie, kan ons voorlopig oorlaat aan ons Afrikaanse taalgeleerdes; maar hoe kom die Hollanders aan die naam Bosjesman? Al die oudste Hollandse reisigers gebruik die woord Sonqua (wat vandag, sover die skrywer weet, alleen nog bestaan in die woord sonquariet) vir die nasie. Hoe het dit dan gekom dat die ander naam populêr geword is? En waar kom dit vandaan? Die mense was tog nie bos-bewoners nie. Soos Fritsch in sy “Die Eingeborenen Südafrikas” sê, Lichtenstein se bewering dat hulle Bosjesmannen genoem word, omdat hulle agter bossies woon, is belaglik; net soos die rede van die “Select Committee on Aborigines” wat beweer het dat die naam te wyte is aan die feit dat die ras liewer op die veld of in die bos wou lewe as om diensbodes van die blanke te word. Fritsch gee ’n ander afleiding van die woord. Hy wil hê dat die Neerlandse woord sou gelyk staan nie met die Duitse woord “Waldbewohner” nie, maar met “Waldmensch” d.w.s., ’n indiwidu van ’n seker fabelagtige ras wat soölogies tussen man en aap staan. Om dit te bewys haal hy aan dat Van Riebeek in sy dagboek melding maak dat hulle op die berg, ’n dooie “Boschmanneken” gevind het, wat in Batavia “Ooerang-oetang” heet. Dit sou dan ’n skelnaam vir die Boesmans geword het wat mettertyd meer en meer populêr geword het, en meer in die Nederlandse mond pas as die uitheemse woord “Sonqua.” Fritsch siteer ook ’n offisiële berig van die jaar 1685 wat meld dat “Kaptein Klaas, ’n Hottentothoofman, oorlog gemaak het met die Sonqua, algemeen ‘Bosjesmannen’ genoem.”
Dit mag vir sommige ongeloofbaar klink dat die koloniste deur dié aangenome naam, dit feitlik in twyfel trek of die Boesman werklik mens is, maar selfs tot in die dae van “Die Patriot” het daar twyfel bestaan, en die lesers het serieus die vraagstuk in die korrespondensie-kolomme van genoemde blad bespreek. Lichtenstein in die begin van die neentiende eeu vertel dat die Boere nie meer eerbied vir die lyk van ’n Boesman betoon het, as die van ’n wilde dier nie. In 1850 is daar ’n boek geskrywe deur Rev. Thornley Smith, ’n Wesleyaanse sendeling met sewe jaar ondervinding in Suid-Afrika, en die volgende vertaling van ’n paar sinne uit sy boek bewys dat dié Eerwaarde heer self twyfel had, of dag dat sy Engelse lesers miskien sou twyfel of die kleintjies regtig mense was. Hy beskrywe ’n grot met Boesmantekeninge versier, en dan sê hy:—
En as die mense van die neentiende eeu—Afrikaners sowel as uitlanders—nie oor die punt eens is nie, is dit tog heeltemal aanneembaar dat Van Riebeek se mense, ongewoon aan die neger, seker was dat die Boesmans nie aan die menslike ras behoort.
Fig. II.
A., Rotstekening naby Wadi Telisaghe, 100 myl wes van Murzuk, Noord-Afrika, (na Barth “Travels in North and Central Africa”).
B., Groep Boesmantekeninge saamgestel deur die skrywer uit verskillende bronne.
Sien bds. 12.
Fritsch se verklaring dan van die afleiding van die woord Bosjesman is waarskynlik die regte; maar molik sal ons taalgeleerdes deur die vorm “Boesman”, op ’n verklaring kom wat nog meer aanneembaar is as die van Fritsch.