Sollas beweer dan dat die dwergies uit Europa gedruk is deur hoër rasse wat agternagekom het, en dat die klein volk op dié manier na Suid-Afrika verdrewe is, maar hiermee kan die skrywer hom nog nie vereenselwig nie, want uit reproduksies van Boesmantekeninge in Noord-Afrika wat totdusver onder sy aandag gekom het, blyk dit dat die tekeninge en skilderye, hoe verder suid, hoe beter word, alhoewel dit nog nie molik is om so ’n teorie op te stel nie. Maar as dit sou waar wees, sou dit bewys dat die oorspronklike stam nog nie in kuns ten volle ontwikkel het voor hulle uitmekaar gegaan het nie; met ander woorde, dat die Aurignaciers nie vaders nie, maar miskien ooms of neefs van die Boesmans is. Maar dit bly ook moeilik om te verstaan hoe die Aurignaciers of “Franse Boesmans” onafhanklik van die Afrikaanse Boesmans, op kunsgebied, so gelyk ontwikkel het.
Fig. I.
A., B., en C., Beeldjies en basreliëfs deur Aurignaciers gemaak sowat 30,000 jaar gelede. (na Dr. Sollas).
D., Boesmantekening van Modderpoort, O.V.S. (na die Skrywer).
Sien bds. 9.
Volgens Theal, beweer Quatrefages, die beroemde Franse antropoloog, in sy werk oor die Dwergies, dat dié volk (die Boesman inbegrepe) uit Suid-Asië kom; dat hul daarvandaan ooswaarts na Japan, en weswaarts na Afrika oor die Bab-el-Mandeb-seeëngte en die Aden-golf getrek het. As die bewering reg is, sou die Franse, Asiatiese en Afrikaanse Boesmans, as ’t ware neefs van mekaar wees; maar die laaste woorde hieroor het nog nie geval nie, en die skrywer het nog nie genoeg in die saak ingegaan om een of ander van die deskundiges se teorië te kan aanneem nie.
Hoe dit ook al mag wees, “Boesmantekeninge” (d.w.s. tekeninge van primitiewe volke wat na die tekeninge van Boesmans lyk) is gevind nie alleen oor die hele Unie van Suid-Afrika en Basoetoeland nie, maar ook in Suid-Algerië, in die Sahara noord, oos, en suid van Mursuk, suid van Oran, in Morokko, ens.1
Dat die Boesman gevoel het dat hy aan ’n ou, ou ras behoort, is bewys deur ’n storie wat Campbell die sendeling vertel. As Campbell die Boesmans kon raad gee, was hy in sy skik, en hy beveel ook eenkeer vir Houkay, ’n Boesmankaptein, aan, om ’n jong kameelperd te vang, en dit te dresseer, sodat hy dit as ’n jagperd kon gebruik. “Nee,” sê Houkay, “my voorvaders het met die oerkameelperd saamgespeel; as hulle die dier geleer het, sou ek dit ook doen, maar nou het hul te sterk geword.”
Van die ou voor-historiese tyd tot die witman na Suid-Afrika gekom het, weet ons maar min van die Boesman af.
Sollas praat van gebakte kleibeelde van vrouens, soos Boesmanmeide, van voor-dinastiese tye wat in Egipte gevind is. Theal en ander skrywers haal ook aan wat Plinius en Herodotus oor die Troglodiete skrywe: dat hul dwergies is, in grotte woon, en nie praat nie, maar soos vlermuise of kalkoene kwaak. Ook sou die Egiptiese konings enige van die dwergies laat kom het van die land ten suide van Egipte om voor hulle te dans. Dit moet dan bewys dat die Boesman in daardie dae nog nie deur die Bantoe verdrywe was nie; maar ook hier moet ons voorsigtig wees want die beroemde Duitse professor Friederich Ratzel gebruik dieselfde aanhaling uit Herodotus om die hedendaagse mense van Tibboeland te beskrywe.
Wat ook die waarheid is, bly een ding seker, naamlik dat die Boesmans in Suid-Afrika was voor die Hottentot, en voor die Bantoe; maar of hul die eerste mense in Suid-Afrika was, en soos Fitsimons in sy “Monkeyfolk of South Africa” grappig beweer, die land van die bobejane afgeneem het, is seer twyfelagtig. Gelukkig is dit vir ons doel nie van veel belang nie. Soos Theal neerlê, sou dit onmolik gewees het vir die Boesman wat ongetwyfeld uit die Noorde kom, om sy pad deur die sterker rasse te veg, en ons kan dus seker wees dat die Boesman voor die Bantoe hier in ons land aangekom het. Die naam “Baroa” (d.w.s. die mense van die suide), wat die Basoetoes vir die Boesmans gebruik, is ook ’n bewys hiervan.