OUDERDOM VAN DIE KULTUUR.

Van al die woorde in ’n taal waarvan dit moeilik is om sekuur die populêre betekenis te bepaal, veroorsaak die woord ‘kultuur’ miskien meer moeilikheid as enige ander. Dit beteken so veel, en tegelykertyd so min; maar hoe wyd ook, of hoe nou ’n mens die grense van die woord bepaal, bly een ding seker, dat die kultuur en die volk seer dig, byna onskeidbaar aanmekaar geheg is. ’n Indiwidu kan verraaier speel, kan sy volk se kultuur verlaat, en die van ’n ander aanneem, met ’n weinig meer moeite of inspanning as wanneer hy hom verklee; maar met ’n volk as ’n geheel gaan dit nie so maklik nie, en hoe ouer die kultuur, hoe moeiliker kom ’n verandering.

Dit is dus ’n saak van belang in die studie van die kultuur van ’n volk, om, indien molik, die ouderdom van die kultuur vas te stel. As ons dit in verband met die Boesman probeer navors, word dit nodig om die aandag te vestig op iets ver buite die grense van Boesmanland, selfs soos dit bestaan het in die dae van Bartholomeus Diaz. En dit is treffend dat dit die beoefening van die beeldende kunste is, waarin die Boesman so wonderlik uitgeblink het, wat vir ons, na duisende jare, die spoor van die Oervolk bewaar het.

In die jaar 1878 besoek ’n Spaanse edelman, Marcellino de Santuola, met sy dogtertjie die nou beroemde Altamira grot. Hy het gehoor van oorblyfsels van die steenperiode wat in grotte gevind word, en gaan toe daar aan grawe en snuffel om te sien of hy nie ook iets dergelyks kan ontdek nie. Die dogtertjie begin haar intussen verveel, en dwaal van haar vader se sy. Nie te lank nie, of sy roep uit “Toros! Toros!” En toe die woorde later deur die verstrooidheid van die edelman, haar vader, gedring het, blyk dit dat sy skilderye van buffels op die plafon ontdek het op ’n plek waar haar vader moes buk om deur te kom, maar waar sy regop kon loop, en alles mooi bekyk.

Vir die eerste keer na duisende jare word die werk van die ou kunstenare—ware ou meesters—weer deur mense-oë bewonder1.

“Wat het dit met die Boesman te doen?” sal u miskien vra. In dieselfde omgewing, in Frankryk sowel as in Spanje, is daar toe in ander grotte skilderye gevind, en ’n verbasende ooreenkoms tussen die kuns van die ou Europeane en die Boesmans word openbaar. Deur die Abbé Henri Breuil is ’n versameling gemaak, en in drie pragwerke uitgegee wat besonder interessant is vir Palaeontoloë, Etnoloë en kunstenare. As ’n Afrikaner sy plate deurblaai, dink hy onwillekeurig aan die Boesmans. Die behandeling van die onderwerp, die kleure, die tegniek (laasgenoemde kan die skrywer nog nie self van getuie nie) bewys ’n sterk ooreenstemming. In besonder is daar een skildery wat byna dieselfde is as een wat die skrywer self in die Vrystaat gevind het2.

Daar bestaan altoos die gevaar van die persoonlike faktor in die ondersoek van so ’n onderwerp. Die navorser wil ’n seker ding hê, en sit eers oogklappe langs sy oë sodat hy nog herwaarts nog derwaarts kan kyk en miskien iets raak sien wat sy geliefkooste teorie sal laat skipbreuk ly nie. Om dus alleen op grond van ’n ooreenstemming, hoe sterk ook al, in die tegniek van die kuns van twee volke, wat deur sowat twintig duisend jaar geskei is, te beweer dat hulle een en dieselfde volk is, sou gewaag wees; en dit moet nog bewys word dat die ou kunstenare en ons Boesmans met mekaar verwant is.

Laat ons nou eers die argumente hoor van Dr. Sollas (professor in Geologie en Palaeontologie in Oxford) op die gebied van rein wetenskap, afgesien van kuns.

Hy bewys dat die beeldjies3 van die vroue van die ras wat die skilderye gemaak het, van dieselfde liggaamsbou as die Boesmanmeide is (want hulle het nie skilderye van hulle vrouens agtergelaat nie), en na hy die ooreenstemming van die twee skilderkunste en die bou van die vrouens van die twee volke oorweeg het, sê hy dat die vermoedelike konneksie tussen die Aurignaciers (d.w.s. die gedeelte van die Palaeolietiese mens wat die Spaanse en Franse skilderye gemaak het) aan die een kant, en die Boesmans aan die ander begin ’n skyn van molikheid aan te neem; en ons kan nou voortgaan met die oorweging van die getuienis verskaf deur die oorblyfsels van die Aurignaciers self. Hy bespreek dan die kopbene en die geraamtes wat daar gevind is, en sê dan dat die bymekaargemaakte materiaal nou al byna genoeg is en voldoende bewys dat Mentone by die begin van die Aurignaciese eeu bewoon was deur ’n stam wat met die Boesman verwant is. Dat die stam oor Suid-Frankryk, en Noord-Spanje versprei was, is hoogswaarskynlik; dit is molik dat hulle selfs so ver as België te vinde was as ’n mens dit kan aflei van die poppetjie by Pont-à-Lesse gevind, en miskien ook in Oostenryk op die getuienis van die Negerse beeldjie van Willendorf.

Die hooggeleerde dokter vind ’n haakplek in die feit dat die brein-inhoud van die ou kopbene groter is as die Boesmanskedel; maar sê in die opsomming en slot van sy argument dat dit duidelik is dat in die Aurignaciese eeu daar gelyktydig twee rasse of stamme bestaan het, een waarvan met die Boesman verwant is. ’n Eienaardige bevestiging van hierdie gevolgtrekking is onlangs gevind in ou spore van hande en voete in die sand van die grotte, want in party gevalle, soos by Gorgas, is hulle klein, en bewys ’n klein ras, terwyl hulle in Castello groot is met klein vingers en ’n lang palm wat bewys is van ’n ras bestaande uit lang mense.


1 Sien Plaat A

2 Sien Plaat B

3 Sien Fig. I